Hoe werk versoening? Dis nou, as twee partye vir mekaar kwaad is, hoe kan dit weer regkom dat die strydbyle begrawe word? Soos Josef en sy broers hier die strydbyl begrawe en mekaar omhels. Hoe gebeur dit? Anders gestel: Hoe kry mens dit reg om iemand wat jou diep seergemaak het, te vergewe?

As ék nou hierdie verhaal van Josef en sy broers opgeteken het, sou ek darem, voor Josef vir hulle sê hulle moenie sleg voel nie, iets ingesit het soos dat die broers gebroke was oor die kwaad wat hulle Josef aangedoen het, en dat hulle vir Josef gesê het hulle is jammer. Maar daarvan staan hier niks. Om die waarheid te sê, hulle sê niks. Josef vergewe sy broers sonder dat hulle hulle skuld in soveel woorde teenoor hom bely het. Dis eers sewentien jaar later, in hoofstuk 50, ná Jakob se dood, dat hulle sê hulle is jammer.

Dis nie eintlik hoe ons oor versoening en vergifnis dink nie, nie waar nie? Ons dink dat vergifnis en versoening eers kom ná skulderkenning en skuldbelydenis. Daarom vergewe ons eers die persoon wat ons te na gekom het, nadat hy of sy skuld teenoor ons bely. As ons weet iemand is regtig jammer oor wat hy of sy ons aangedoen het, dan is dit makliker om te vergewe. Maar dikwels, as dit lyk of die berou ontbreek, of nie so diep sit soos ons dit sou wou hê nie, kom die vergifnis ook maar moeilik. So dink ons oor berou en vergifnis. Dis ook hoe baie mense oor godsdiens dink. Baie mense sal, as jy vir hulle vra wanneer ’n mens vergifnis ontvang, vir jou sê eers as jy jou sonde bely en jy het berou.

Nou is dit opvallend in hierdie verhaal, wat deurspek is met onreg en sonde van die broers teenoor mekaar, dat daar in dié verhaal nêrens skuldbelydenis en berou is soos wat ons bv in die gelykenis van die verlore seun vind nie. Die verhouding tussen Josef en sy broers word nie herstel nadat hulle vir mekaar gesê het: “Ons is jammer,” nie. Wat die verhouding herstel, is die feit dat Josef hier raaksien dat die sonde wat hom aangedoen is, in die hand van God omgebuig is, en op die ou end vir hulle almal ten goede gekom het.

Dit wil nie sê dat die sonde opgehou het om sonde te wees nie. As ’n mens die verhaal weer van voor af gaan deurlees, vind jy eenvoudig dat die hardheid en die seer van die hele geskiedenis steeds hard en seer bly, al ken jy die afloop daarvan. Sonde is sonde is sonde. Hoe verskriklik die sonde is, kan ons sien waar die Broer (met ’n hoofletter) aan die kruis moes sterf, van God verlate moes word, vir sy broers, vir u en my.

Hoe kon Josef dit regkry om sy broers te vergewe as hulle nie vir hom sê hulle is jammer nie? Hoekom wag hy nie tot hulle dit sê nie? Die geheim lê in vers 5 en 8. Kom ek lees dit weer: “Julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red … Dis nie júlle wat my hierheen gestuur het nie, maar God …” Daarmee sê Josef nie dat hulle geen aandeel gehad het aan sy seer nie, maar hy sien raak dat God groter is as enige iets wat hulle hom ooit kon aandoen. In God se hande het die kwaad wat hulle hom aangedoen het, iets goeds geword.

Hierdie is ’n moeilike een. Paulus eggo dit later (Rom 8:28) as hy skryf dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet. En in Fil 4:5 roep hy ons op om inskiklik te wees teenoor alle mense, want, herinner hy ons in daardie selfde vers, “die Here is naby.” As jy verstaan en glo dat jou lewe in God se hande is, dat Hy na jou kyk en vir jou sorg, hoef jy nie so hard te baklei vir jou regte en jou eer nie. Los dit vir God. Hý sal daarvoor sorg.

Dít is wat Josef hier gesnap het: God het die sonde van sy broers omgedraai en daarvan iets goeds gemaak. Wie is hy dan om wraak te soek? Wie is hy dan om te sê nee, kom kruip eers hier voor my, dán sal ek miskien oorweeg om julle te vergewe.

In dié opsig is Josef ’n voorloper van Jesus. Wat het Hý gedoen met die mense wat Hom te na gekom het, Hom gekruisig het? Het Hy gesê hulle moet hulle skuld bely, dan sal Hy hulle dalk vergewe? Julle weet mos dat dit nie so gebeur het nie. Hy het gebid vir hulle terwyl hulle met gebalde vuiste daar op Golgota staan en Hom koggel! Maar selfs vóór dit: Hy word mens om vir ons te kom sterf, lánk voordat ons selfs eers besef het dat ons sondaars is! Paulus vertel dit in Rom 5:8: “God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.”

So, wat maak ek as ’n broer of suster my kwaad aandoen? As ek hierdie gedeelte, en die Bybel, reg verstaan, beteken dit dat ons dan gelowig vir onsself moet sê: In God se hande sal hierdie seer, al verstaan ek dit nie mooi nie, tog op ’n verborge manier vir my meewerk ten goede. Dié wete maak dat ons kan vergewe.

Ek dink die probleem is dat ons só op ons eer en aansien ingestel is dat ons ego tussen ons en versoening kom staan. Dan gaan sit jy in jou hoekie en kry jouself jammer as iets met jou gebeur, of jy soek vergelding. Dit is maar net menslik om dit so te doen. Maar dit is nie die Here se manier nie. Hy vra dat ons verder as onsself moet kyk, dat ons God in ons lewens moet raaksien, raaksien hoe Hy met ons besig is en besig bly, ondanks en selfs deur die seer wat ons aangedoen word, en daarom ons arms vir mekaar oopmaak. Dit is wat Josef hier doen. Hy kyk na alles wat gebeur het, en hy sê: “Maar in God se hande het dit wat gebeur het, uiteindelik goed uitgewerk. Hoekom moet ek dit dan nog teen julle hou? Kom ons laat dit agter ons. Kom ons hou mekaar vas en stap vorentoe saam. Ons behoort tog aan mekaar.”

Mag die Here jou en my help om ook so te leef.

Amen.

image_pdfimage_print

Views: 70

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.