Woestynredaksie
SINAIBERG. – Enkele ure nadat twee broers saam met hulle vader en hulle twee ander broers in ’n week lange ritueel tot die heilige amp van priester gewy is, is hulle vlak voor die altaar deur weerlig doodgeslaan.
Die oorledenes is Nadab en Abihu, seuns van Aäron. Hulle vader is die hoofpriester van Israel. Hulle het vanoggend, net nadat hulle vader vir die eerste keer as hoofpriester die volk geseën het, ’n wierookoffer vir die Here die God van Israel berei. Hulle het hulle vuurpanne met gloeiende kole gevul, wierook daaroor gegooi en dit na die altaar geneem. Hulle was egter nog enkele treë van die altaar af toe ’n weerligstraal hulle getref het. Hulle het albei daar voor die altaar gesterf.
Aangesien Aäron en sy twee ander seuns, Eleasar en Itamar, pas gewy is, kon hulle nie eers die twee sterwendes te hulp snel nie. Die twee se kleinneefs is ontbied om hulle liggame te kom haal.
Die oom van die oorledenes en leier van die Israeliete, Moses seun van Amram, het in ’n kort verklaring ná die tragiese gebeure gesê die twee is deur ’n vuur wat van die Here self af gekom het, getref. Hy het gesê hulle het die Here beledig deur kole van ’n buitevuur vir hulle wierookoffer te gebruik, in plaas van kole van die altaar self. Moses het sy broer Aäron en sy nefies Eleasar en Itamar verbied om oor Nadab en Abihu te rou en beveel om met hulle priesterlike pligte voort te gaan, om só hulle instemming met die oordeel van God te betuig.
’n Vriend van die oorledenes het aan Bybelkoerant gesê Nadab en Abihu was baie verontwaardig omdat slegs hulle pa toegelaat is om in die Allerheiligste in te gaan met soenoffers. “Hulle was baie kwaad vir hulle oom Moses oor dié reëling, en het gevoel hulle het, as gewyde priesters, net soos hulle pa die reg om na die ark van die verbond in die Allerheiligste in te gaan. Miskien was dít die rede waarom God hulle getref het,” het hy gesê.
- Lees hiervan in Lev. 10:1-7.
VREUGDE OOR DIE VERBONDSARK TERUG IS
BET-SEMES. – Daar is sedert gistermiddag groot blydskap en dankbaarheid onder die mense van dié dorpie in die suide van Israel toe die verbondsark van die Here by hulle uitgekom het. Die verbondsark was die afgelope sewe maande in Filistynse hande nadat dit by die slag van Afek gebuit is.
Die mense van Bet-Semes was besig om koring in die laagte te oes toe ’n onbemande wa met die ark daar aankom. Twee koeie het die wa al bulkende getrek en by ’n groot klip op die grond van Josua van Bet-Semes gaan staan. Die Leviete is dadelik laat haal, en hulle het die ark van die wa gelaai en op die groot klip neergesit. Uit dankbaarheid het die Leviete toe op die plek die twee koeie geslag en as brandoffer aan die Here geoffer met die hout van die wa wat hulle stukkend gekap het.
Op die wa was daar ook ’n kissie met vyf goue muise en vyf afbeeldings van pesswere daarin. Ons korrespondent in Ekron berig dat die Filistynse regeerders op aanbeveling van hulle priesters en waarsêers die goue muise en pesswere in die kissie saamgestuur het in die hoop dat dié geskenke die pes in hulle land sal laat ophou. Die Filistyne is die afgelope sewe maande, sedert hulle die ark buitgemaak het, erg deur die pes geteister, en al vyf stede en omliggende gebiede het deurgeloop.
Die nuus dat die ark terug is in Israel versprei soos ’n veldbrand deur die land, en mense van oor die hele land het reeds begin om op te ruk om na die ark te kom kyk.
Dit is nog nie bekend wat nou van die ark gaan word nie, aangesien die heiligdom by Silo, waar die ark altyd gestaan het, na die slag van Afek verwoes is. Die Leviete voer volgende week by Mispa samesprekings met die stamhoofde om hieroor uitsluitsel te kry.
Lees hiervan, en van die tragiese gebeure daarna, in 1 Sam. 6:1-7:1.
God is heilig
Die Bybel word nooit moeg daarvoor nie om ons te herinner, en te waarsku, dat God heilig is. Daarom dat die geloofsreuse van ouds – Moses (Eks. 3:6), Jesaja (Jes. 6:5), Paulus op die Damaskuspad (Hand. 9:4) en Johannes op Patmos (Op. 1:17) – met ontsetting vervul is wanneer hulle in die teenwoordigheid van die lewende God kom.
Blykbaar het Nadab en Abihu, en ook die mense van Bet-Semes wat ewe nuuskierig die verbondsark oopgemaak het om daarin te kyk, dít nie verstaan nie.
Ek wonder partykeer of óns dit nog verstaan dat God die Heilige is. Het ons nie te gewoond geraak aan God se nabyheid nie, sodat die voorreg om sy Woord in ons hande te neem, ons dikwels nie raak nie? Dat ons kan aansit aan die Nagmaaltafel, ongeroerd? Dat ons bid en aanbid sonder om te dink?