Ek dink God het legkaarte uitgevind.
Ons het die vakansie ’n legkaart gebou van een of ander Renoir-skildery van ’n boot-party: ’n regte monster. Die 1500 stukke het my nie afgesit nie; die skildery wel. Die kleure is hoofsaaklik sagte skakerings van bruin en geel.
Ons bou altyd heel eerste die raam, sodat jy darem ’n raamwerk het om in te werk. Dan begin die moeisame taak om die binneste dele te bou; eers die makliker dele soos die gesigte en die borde op die tafel, dan die moeiliker dele soos die tafeldoek en die agtergrond, waar die prent op die legkaart-doos jou nie veel help nie, want al die stukkies lyk min of meer dieselfde.
As ’n mens met die legkaart begin, is daar stukkies wat jy redelik maklik kan eien, en jy weet dan waar om dit te plaas. Van die meeste stukkies kan jy nie kop of stert uitmaak nie, en jy moet hulle maar eers eenkant hou. Daar is stukkies wat so vreemd lyk dat jy wonder of hulle ooit deel uitmaak van die legkaart, en of hulle nie dalk by ’n ander legkaart hoort nie. Dan is daar weer stukkies wat jy seker is móét net pas, en hulle pas nie. Dan wil jy maak soos my sussie gemaak het toe sy klein was. Sy het met haar hele gewig op die stukkie wat nie wil pas nie, gedruk en gesê: “Gaan nou innnnn!” Vir my is die groot uitdaging om ’n stukkie te neem en die prent noukeurig te bestudeer, totdat jy presies weet waar die stukkie hoort. Dan sit jy dit daar binne-in die onvoltooide legkaart neer, op sy plek. Later kry jy nog stukke wat daar pas, en gaandeweg begin die stukkies in mekaar pas om die prent te vorm.
Een ding van ’n legkaart is dat jy nie moet verwag om veel te vorder as jy min tyd daaraan spandeer nie. Tref-en-trap bring jou nie ver nie; jy het geduld nodig, en baie ook. Jy moet maar so oor die ding broei. Jy sit hier ’n stukkie in, skuif daar ’n stukkie verder of nader. En hoe beter jy die prent leer ken, hoe beter gaan dit. Jy sien ’n stukkie op die skinkbord wat jy gister weggesit het omdat jy nie geweet het waar dit kom nie, en nou, skielik, weet jy presies. Intussen is jou kinders om jou besig om te bou, elkeen aan hulle gedeelte. Hulle vra kort-kort raad, en jy help hulle hier en daar. So nou en dan pas hulle weer ’n stukkie vir jou in.
Terwyl jy so staan en bou, merk jy nie regtig hoeveel jy vorder nie; jy sit maar net hier en daar ’n stukkie by. Maar as jy terugstaan, ontdek jy tot jou verbasing hoe mooi die legkaart vorder.
Ons het lank gebou aan dié monster. Die genoegdoening van die prent voltooi, is altyd iets om na uit te sien. Maar toe ons klaar is kry ons ’n groot teleurstelling: daar is ’n stukkie weg. Die lelike gat het vir ons gelê en koggel. My kind wou die hele spulletjie in die drom gooi en ’n ander een gaan koop. Ek wou nie, want ek gooi niks in die lewe weg nie.
In my lewe is daar ook stukkies wat weg is, en dit laat lelike gate wat ek nooit sal toekry nie, altans nie hierdie kant van die graf nie. Ander stukkies maak nie (nou al?) sin nie; dit lyk my hulle hoort in ’n ander legkaart. Partykeer wil ek stukkies inforseer waar ék hulle wil hê, tevergeefs. Ander stukkies moet ek lank en noukeurig bestudeer en vergelyk met die prentjie in die Boek voor ek weet waar dit pas. En ander stukkies begin maar eers, soos die jare aanstap, sin maak en plek kry in die Groot Legkaart van God se wêreld.
Ek is mal oor legkaart-bou.
Views: 69