Eerste koning van Israel sonder fieterjasies ingehuldig
Van ons Ou Testament redaksie
MISPA. – Die Israelitiese stammeverbond het verlede week hier op ’n volksvergadering vir die eerste keer ’n koning gekry. Dié nuwe koning is Saul seun van Kis, ’n onbekende jong man uit die familie van Matar van die stam Benjamin.
Die kroning het plaasgevind op ’n volksvergadering wat die siener Samuel spesiaal vir hierdie doel byeengeroep het. Deur die lot is eers die stam Benjamin, toe die familie Matar, en uiteindelik Saul seun van Kis aangewys. Daar was nogal konsternasie toe ontdek is dat Saul nie teenwoordig is nie. Na ’n soektog is dié beskeie jong man egter tussen die bagasie gevind en vorentoe gebring.
Met die woorde: “Sien julle die een vir wie die Here uitgekies het? Daar is niemand soos hy onder die hele volk nie!” het Samuel Saul tot koning verklaar. Daarna het die berge weergalm toe die hele volk soos een man gejuig het: “Lank lewe die koning!”
Na die kroning het Samuel die reg van die koning aan die volk bekend gemaak, dit in ’n boek opgeteken en voor die Here neergesit. Daarmee was die verrigtinge afgehandel, en het die burgers na hulle huise begin terugkeer.
Die koning het besluit om voorlopig in sy geboortestad, Gibea, te bly woon. Hy sal moontlik later aandag gee aan die inrigting van ’n hoofstad vir Israel. Sy eerste taak is nou om aandag te gee aan die veiligheid van sy onderdane.
Die nuwe koning is voorwaar ’n imposante figuur wat kop en skouers bo sy volksgenote uittroon. Toe hy na vore gekom het om sy koningsamp te aanvaar, kon ’n mens hoor hoe menige meisie na haar asem snak. Daar is waarskynlik ’n hele paar jong dames wat sedertdien nuwe drome droom …
- Lees hiervan in 1 Sam. 10:17-27.
Ons lesers sê …
Het jy ’n mening wat jy met ons wil deel? Skryf dan gerus aan ons by: Die Bybelkoerant, Posbus 12, Jerusalem.
KOM NA GIBEA, DAPPERES!
Soldaat vir Saul, Ofra, skryf:
Loof die Here wat vir ons ’n koning voorsien het! Dit is nou die tyd om ons verskille te los en vir diens aan te meld by ons koning. Ek daag alle dapper Israeliete uit om die wapen op te neem vir die stryd. Lank lewe koning Saul!
WIE IS ONS KONING?
Leviet, Gilgal, skryf:
Hoewel ek die opgewondenheid en gevoel van volkstrots omdat ons nou uiteindelik ook ’n koning het, goed kan begryp, is dit met ’n tikkie heimwee dat ek terugdink aan die dae toe ons net één Koning gehad het – die lewende God van Israel; Hy wat die linies van sy volk male sonder tal in die stryd aangevoer het; Hy wat verlossing bewerk het uit elke vorm van verdrukking.
Hoekom voel dit vir my ons aandrang om ’n koning te hê soos al die ander volke om ons is ’n mosie van wantroue in God se leiding? Sal koning Saul ons kan red?
– effens verkort. Red.
ONDERSTEUN KONING SAUL
Pro Monarg, Ajalon, skryf:
Elke ware Israeliet wat verlede Dinsdag by Mispa was, is met trots en agting vir ons nuwe koning vervul. Wat ’n heerlike ervaring om te weet ons het ’n leier om te volg! En wat ’n leier is hy nie! Die Here was vir ons goed om só ’n koning aan ons te gee.
Koning Saul, wees verseker van ons lojale en heelhartige ondersteuning. U kan op Israel staatmaak om u te volg.
- Lees hiervan in 1 Sam. 10:26, 27.
Ons Hemelse Vader het ruimte in sy hart vir jou
As ’n mens die Bybelverhaal oor die instelling van ’n monargie in Israel lees, is dit baie duidelik dat dit nie God se plan was nie. Vir Samuel sê God (1 Sam. 8:7): “Hulle het jóú nie verwerp nie; hulle het My verwerp as koning oor hulle.” En tog gee God toe aan hulle versoek!
Hoekom? Omdat God nie doof is vir die tydelike behoeftes van sy kinders nie, net soos ’n pa nie sy kind se versoeke ignoreer nie. Al ís die dinge waaroor ons by Hom kerm, dikwels anders as wat Hy in gedagte gehad het. Want God het ruimte in sy hart, ook vir dié dinge wat vir ons belangrik is. Ons lewe loop immers nie op die onverbiddelike baan van ’n harde, koue noodlot nie. Ons lewe onder die liefdevolle, wakende oog van ’n hemelse Vader. Is dít nie rede om Hom te loof nie?
Views: 12