Van ons Transjordaan-kantoor

JABES (GILEAD). – Koning Nagas van Ammon se onbetwisbare oppergesag in die Transjordaan-gebied is vandeesweek opnuut bevestig toe die inwoners van Jabes in Gilead voor hom kom kruip het in ’n poging om sy magtige ystervuis te ontwyk.

Dié stad van die Israeliete word tans deur die Ammoniete beleër. Gister het hulle leiers bewend van angs voor koning Nagas kom pleit om ’n verdrag te kan sluit, en aangebied om koning Nagas se onderdane te word. Nagas het ingestem om die verdrag te sluit op voorwaarde dat hy dan elke inwoner se regteroog wil hê. Só sal hulle nooit weer geskik wees vir oorlog nie. Die vernedering van die mense van Jabes sal ook ’n skandvlek oor die hele Israel wees. “Die hele Israel moet weet dat hier ’n koning in die Transjordaan is!” het Nagas onder luide toejuiging vir die afvaardiging van Jabes gesê.

Die verslae Israeliete het ’n week tyd gevra om oor die voorwaardes te dink en hulp by hulle mede-Israeliete te soek. Tot almal se verbasing het koning Nagas ingewillig, en met ’n knipoog aan sy offisiere verduidelik: “Wat is ’n week nou om te wag? Dit rek hulle ellende net nóg langer uit, en my oorwinning word al soeter! Miskien moet ek nog sê ek sal my eie regteroog gee as hulle wel hulp van hulle broers kan kry. ’n Oog vir ’n oog. Is dit nie billik nie?”

Wie ná volgende week nog ’n regteroog gaan hê, en wie eenogig deur die lewe sal gaan, sal net die tyd leer. Politieke kenners is dit egter eens dat die Israeliete lankal nie meer ’n faktor in Kanaän is nie.

Hierdie skrywer se geld is nie op die mense van Jabes nie.

 

RABBI DRYF DUIWEL UIT BESETENE

Van ons Nuwe Testament redaksie

KAPERNAUM. – ’n Rabbi wat maar onlangs eers in die openbaar begin optree het, het sinagogegangers hier verstom deur ’n man wat in die mag van ’n duiwel was, te genees.

Die jong rabbi is Jesus seun van Josef, van Nasaret. Hy was besig om die mense in die sinagoge te leer toe die man hom in die rede geval het. Die man het glo hard geskreeu: “Ha! Wat het ons met u te doen, Jesus van Nasaret? Het u gekom om ons te verdelg? Ek weet wie u is: u is die Heilige van God!”

Geskokte omstanders wou die man met geweld verwyder, maar die rabbi het hulle gekeer en die man skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit!” Dit was toe eers duidelik dat die man van ’n duiwel besete was. Die duiwel het die man tussen die mense laat neerslaan, en toe uit hom uitgegaan.

Ooggetuies is daarvan oortuig dat rabbi Jesus iemand besonders is. Wie het al ooit gehoor dat die duiwels na ’n gewone mens luister? ’n Bekende gewese visser van Kapernaum en nou ywerige dissipel van die rabbi, Simon bar Jona, het dit soos volg opgesom: “’n Mens merk dadelik op dat hy ’n buitengewone persoon is. Hy praat met ’n ongelooflike gesag oor die Heilige Skrifte en oor God. En daarby doen hy hierdie wondergenesings soos ons vandag weer gesien het. Ek dink nie ek hoef ’n groot profeet te wees om te voorspel dat ons nog baie van hom gaan hoor nie.”

 


Ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie

Terwyl die Bybel een magtige getuienis is van die grootheid van God en van sy troue liefde vir die mens, is daar ’n ander figuur wat ook op byna elke bladsy van die Bybel sy letsel laat: die duiwel, wat met onvermoeide ywer en ’n nimmereindigende boosheid God se goeie skepping, en veral God se pronkstuk, die mens, van God af weglok.

Die berigte op hierdie bladsy vertel van maar net twee van die metodes in sy arsenaal. Teen die versukkelde Israeliete van Jabes gebruik hy ’n bose man soos koning Nagas om die Godsvolk te verneder. En in Kapernaum het hy weer meer direk gewerk, deur beslag op ’n mens se lewe te lê, en deur middel van hierdie man Jesus se werk aan bande te lê.

Vandag nog gebruik hy talle metodes om mense in sy mag te kry en van God te vervreem: politieke onderdrukking en die okkulte, Satanisme, permissiwiteit, materialisme, noem maar op.

Gelukkig hoef ons nie in wanhoop by dié werklikheid stil te staan nie, want die Bybel vertel nie net van God se liefde en Satan se lis nie. Die Bybel vertel ook van God se oorwinning oor die Bose. En daarin is Hy ’n meester, soos Saul se sege by Jabes onderstreep, en Saul self erken (1 Sam. 11:13): “Vandag het die Here uitkoms gegee in Israel.”

Voor God moet Satan keer op keer die knie buig. ’n Woord van Jesus was genoeg om hom druipstert te laat wyk. Dieselfde Jesus wil ook vandag jóú lewe regeer. Wyk dan, Satan!

image_pdfimage_print

Views: 1

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.