Die bekende Switserse teoloog Karl Barth het gesê dit het nog niemand goed gedoen om te lank en te diep in Das Nichtige in te kyk nie. Sonder om nou in ingewikkelde teologiese denkraamwerke in te gaan, wil ek sommer sy begrip vertaal met “die wêreld van die nie-goeie”, oftewel die teenpool van God en sy goeie skepping. Hiertoe behoort natuurlik die hele magsfeer van die Bose, waarvan Paulus in Efesiërs 6:10 en verder sê dat dít is waarteen ons worstelstryd is. ’n Duitse teoloog, Kurt Koch, het ook geskryf dat ’n mens nie te veel aandag aan die Bose en die wêreld van die okkulte moet gee nie, want daarmee gee jy aan die duiwel ’n handvatsel waarmee hy jou kort voor lank kan beheer.
So, sonder om nou in te veel diepte in die werke van die Bose in te gaan, net ’n paar opmerkings. Daar is twee beelde in die Bybel van hoe die duiwel werk, wat by my opkom as ek oor dié vraag nadink. Petrus se beeld in 1 Petrus 5:8 kom heel eerste by my op: “Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.” Ek vermoed dit is die beeld wat voorop staan in die meeste van ons denke oor die duiwel: hy is gevaarlik, hy kan jou baie lelik seermaak, en jy moet oppas vir hom. Dis natuurlik waar. Hy ís ’n baie, baie gevaarlike kalant. In party wêrelddele laat hy mense letterlik met hulle lewe boet, of in die tronk beland, of hulle werk verloor, of hulle huise, bloot net omdat hulle die Naam van Jesus op hulle lippe durf neem het. In ons konteks herken ons die brullende leeu ook deur die gedurige venynige aanvalle van ateïste op gelowiges.
Maar meestal is die duiwel nie so sigbaar boos en strydlustig nie. En dis waar die ander beeld wat in die Bybel staan, ons kan help. Paulus skryf in 2 Korintiërs 11:14: “Satan self doen hom voor as ’n engel van die lig.” In hierdie geval is aanslag uiters subtiel, en jy moet baie mooi kyk om hom en sy werke te herken vir wat dit is.
Dit vraag is natuurlik: Waarvoor moet ons op die uitkyk wees? Hoe gaan ons hom herken? Hiermee help Paulus ons ook. In net die volgende vers (2 Korintiërs 11:15) skryf hy: “Daarom is dit ook nie snaaks dat sy dienaars hulle voordoen as mense wat die wil van God doen nie.” Dit skok my vroom gemoed, soos ’n goeie vriend van my in Bloemfontein op ’n keer gesê het oor die werke van die Bose, want wat in 2 Korintiërs 11 staan, is dat Satan sy handlangers in die kerk het! Dat hy die kerk op ’n manier infiltreer sodat hy sy vernietigingswerk daar kan doen. En die ergste is, ons is salig onder die indruk dat dit mense is wat die wil van God doen! Want hulle lyk dan so vroom. Hulle is dan soveel werd in die gemeente. ’n TV-program soos “Die Siener” op kykNET is hiervan ’n sprekende voorbeeld. Die man bid selfs voor sy sessies. Intussen is God uitgesproke daaroor dat ons dié soort ding moet vermy (vgl Deut 18:9-13). Dan kry jy nog “Die sterre voorspel” wat onskuldig lyk, maar agter dié goed grynslag Satan breed.
Dit was presies die probleem wat die Here Jesus met die gemeentes in Klein-Asië gehad het, aan wie Hy skryf in Openbaring 2 en 3. Telkens bemoedig Hy die gemeentes dat Hy weet dat Satan onder hulle maai en hulle vervolg (soos ’n brullende leeu). Maar dan vermaan Hy hulle dat hulle dinge in die gemeente toelaat wat die mense verlei, weg van Hom af, met valse leringe, soos in Pergamum waar die leer van Bileam en die Nikolaïete geduld is (Openbaring 2:14-15), of in Tiatira waar die vrou Isebel haar verleidingswerk gedoen het (Openbaring 2:20), of Laodisea, war die mense dood eenvoudig lou geword het (Openbaring 3:15). Die Here Jesus waarsku daar dat die gemeentes hulle moet bekeer (sien byvoorbeeld Openbaring 2:16): “Bekeer julle nou, anders kom Ek gou na julle toe en sal Ek daardie mense bestry met die swaard van my mond.”
Hiervoor het ons in die 21ste eeu onderskeiding nodig: om die werke van Satan in ons midde te herken, soos Paulus vir die gemeente in Filippi gebid het (Filippense 1:9-10). Of soos hy dit in Efesiërs 4:14-15 stel – ons moet in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe, want dan sal ons nie heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie.
Dit is wat Jesus gedoen het. Hy het die Bybel (die waarheid) in sy hart gehad, en daarom kon Hy die duiwel en sy versoekings herken en afslaan (Lukas 4:1-13). Hierin moet ons Hom volg.