Van ons Ou Testament redaksie
JERUSALEM. – ’n Priester uit Anatot in Benjamin, Jeremia seun van Hilkia, het aanbidders geskok toe hy gisteroggend in ’n preek hier by die tempelpoort verkondig het dat Juda en Jerusalem gedoem is omdat God die rug op hulle gedraai het.
Hy het gesê God sal Jerusalem en die tempel tot niet laat gaan, net soos Hy toegelaat het dat Silo destyds ná die Slag van Afek vernietig is, omdat die volk die Here as hulle enigste God verwerp het. As bewys hiervan het hy verwys na die skreiende maatskaplike onreg in die land en die afgodediens, by name die aanbidding van Astarte, die koningin van die hemel.
’n Bewoë Jeremia het gesê wat vir hom persoonlik die hardste woord was om van God te hoor, is dat hy nie meer vir die volk mag intree in gebed nie, terwyl sy hele taak as priester juis dít behels. “God wil nie meer my gebede vir julle hê nie, want Hy sê dit is te laat. Daar is nie meer omdraaikans nie. Julle kan soveel offers bring soos julle wil, Hy sal dit nie ontvang nie. Hy is klaar met ons,” het Jeremia gesê.
Woedende kollegas het na die tyd skerp op Jeremia se preek gereageer. Hulle het gesê terwyl die offerdiens voortgaan, kan daar geen sprake daarvan wees dat God sal toelaat dat sy tempel verwoes word nie. “Sy onverantwoordelike en onbeheerste uitbarstings kan ons amp ’n slegte naam gee,” het een van die priesters opgemerk. Hy wou nie toestemming gee dat sy naam gepubliseer word nie.
In ’n onderhoud na sy preek het Jeremia aan Bybelkoerant gesê hy wens met sy hele hart sy kollegas was reg. Maar God het gewaarsku dat hulle só sal reageer, en dit bevestig maar net die waarheid van sy preek. Jeremia wou nie ’n definitiewe antwoord gee op die vraag of hy nou gaan ophou om vir die volk te bid nie. “Ek sal maar nog verder met God daaroor moet gaan worstel. Dis darem so finaal as ek nie eens meer vir my mense mag bíd nie. Sou jý opgehou het?” het hy met ’n weervraag geantwoord.
- Lees van hierdie verbysterende boodskap in Jer. 7:1-28.
Samuel lê tuig neer
GILGAL. – Die siener-rigter Samuel seun van Elkana het gister hier in ’n emosiebelaaide toespraak aangekondig dat hy gaan uittree.
Samuel, wat sy hele volwasse lewe ’n rigter en die geestelike leier van Israel was, is onlangs deur ’n vergadering van die stamleiers verplig om die volk te begelei in die verkiesing van hulle eerste koning, Saul seun van Kis. Dit is bekend dat Samuel ’n anti-monarg in murg en been is en met die grootste moontlike reserwe aan die hele verkiesingsprosedure deelgeneem het.
Gister is Saul se verkiesing as koning hier by Gilgal herbevestig ná sy skittersege oor Nagas van Ammon. Samuel het dié geleentheid gebruik om sy laaste toespraak te lewer. Hy het die volk opnuut beskuldig dat hulle aandrang op ’n koning neerkom op die verwerping van die Here as hulle Koning, en vir oulaas by hulle gepleit om aan God getrou te bly, anders sal dit die einde van die volk se voortbestaan beteken.
Die grysaard was bewoë toe hy die Israeliete vir oulaas as leier gegroet het met die belofte: “Ek sal nie ophou om vir julle te bid nie.”
- Lees hierdie toespraak in 1 Sam. 12.
PERSOONLIK
Rabbi Jesus van Nasaret en sy dissipels beplan om ’n stil Paasfeesviering te hê. Rabbi Jesus wil veral tyd inruim vir gebed.
- Lees Jesus se aangrypende gebed net voor sy kruisiging in Joh. 17.
Voorbidding
Jesus het verstaan hoe lewensbelangrik gebed is. Nie net ter wille van die persoonlike intieme kontak met God nie, maar ook ter wille van ander. Daarom was sy laaste woorde voordat Hy sterf, ’n gebed. En ook sy laaste daad as vry mens op aarde was om te bid. In Joh. 17 lees ons hierdie gebed, waarin Hy bid oor die uitvoering van sy groot taak, en waarin Hy ook bid vir sy dissipels.
Hierdie uitreiking in gebed na ander het ook die groot figure van ouds gekenmerk. Samuel, bitter teleurgesteld omdat die volk hom as leier verruil het vir ’n koning, belowe dat hy nie teen die Here sal sondig deur op te hou om vir hulle te bid nie (1 Sam. 12:23). Die drang tot voorbidding vir sy volk was só sterk dat die Here sy voorbiddingsverbod aan Jeremia drie maal moes herhaal (Jer. 7:16, 11:14 en 14:11). En die apostel Paulus se briewe bevat talle gebede vir die gemeentes, en versekeringe dat hy vir hulle bid, soos in Rom. 1:9: “God wat ek met hart en siel dien … is my getuie dat ek gedurig in my gebede aan julle dink.”
Hoe vaar jy met hierdie grootse taak?
Views: 28