Van ons Ou Testament redaksie

GIBEA. – Die mees senior amptenaar van koning Saul en hoof van die weermag, genl. Abner seun van Ner, het gister sy kommer uitgespreek oor die gesondheidstoestand van koning Saul. Volgens hom het die koning nou al vir ’n geruime tyd las van ernstige angsaanvalle.

Volgens genl. Abner het die dokters tot dusver nie veel sukses met hulle behandeling behaal nie, en daar is gevolglik besluit om die behandeling aan te vul met musiekterapie. Koning Saul het gister verlof gegee dat sy amptenare ’n geskikte persoon kan soek wat as musiekdirekteur aan die paleis diens kan doen. Een van sy take sal wees om op die lier te speel as die koning ’n angsaanval kry. Dokters glo dat strelende musiek die koning kan kalmeer.

Bronne na aan die koning is van mening dat sy toestand te wyte is aan die spanning wat sy koningskap meebring. Hulle wys daarop dat hy geen ondervinding van landsadministrasie het nie, en dat daar ook geen gevestigde burokrasie bestaan wat hom in sy taak kan bystaan nie. “Die koning is werklik aan die diep kant ingegooi, en ons sal maar moet wag en sien of hy betyds gaan leer swem,” het ’n sielkundige wat nie sy naam genoem wil hê nie, opgemerk.

 

Sewe seuns van priesterhoof lelik aangerand

Van ons korrespondent in Klei-Asië

EFESE. – Die sewe seuns van Skeva, ’n bekende Joodse priesterhoof van die stad, het hulle moses teengekom toe hulle met vreemde kalwers probeer ploeg het.

Die broers beroem hulle daarop dat hulle bose geeste kan besweer. Heelparty goedgelowige krankes is glo op hierdie manier al uit hulle kosbare besittings gekul. Maar vandeesweek het dinge vir die Skeva-seuns lelik skeefgeloop toe hulle ’n nuwe besweringsformule op die proef gestel het. Die broers het glo die bose geeste besweer met die formule: “Ek besweer julle in die Naam van dié Jesus wat deur Paulus verkondig word.”

Een van die bose geeste het toe glo vir hulle gesê: “Jesus ken ek, en van Paulus weet ek, maar julle, wie is julle?” Die man met die bose gees het toe berserk geraak en onder die besweerders ingevlieg, sodat hulle kaal en stukkend geslaan uit die huis gevlug het.

Paulus is die leier van ’n nuwe sekte wat twee jaar gelede hier onder sy leiding van die Joodse geloof afgestig het. Hulle noem hulleself die “Volgelinge van Jesus”, na die groot leier van die groep, ’n Joodse rabbi genaamd Jesus van Nasaret, wat volgens hulle die Seun van God is. Paulus is daarvoor bekend dat hy in die Naam van Jesus al talle wonders en genesings gedoen het en ook bose geeste uitgedryf het.

Een van Paulus se medewerkers, ene Erastus, het aan Bybelkoerant gesê die voorval het ’n diep indruk op almal in die stad gemaak. “Ons gemeente groei sedertdien ongekend. Mense besef nou dat Jesus van Nasaret werklik die Here is,” het hy gesê. Die gemeente gaan aanstaande week ’n groot reinigingsgeleentheid hou waarop lidmate hulle toorboeke kan verbrand as daad van algehele toewyding aan Jesus.

Die polisie het gister bevestig dat hulle ’n saak van aanranding op die sewe broers ondersoek, maar wou geen verdere besonderhede bekend maak nie.

 


Die werk van die Gees

Die geskiedenis van God se handelinge in hierdie wêreld is die geskiedenis van die Heilige Gees. Reeds in die skeppingsverhaal lees ons dat Hy oor die waters gesweef het (Gen. 1:2). En die verhale van die groot figure in die Bybel word ook aan ons gebring as die geskiedenis van die Heilige Gees met hulle. Wanneer Saul koning word, is dit die Gees van God wat hom daarvoor toerus (1 Sam. 10:10 en 11:6), en as dit duidelik word dat Saul sy eie kop volg, is die begin van sy ondergang wanneer die Gees van die Here van hom wyk (1 Sam. 16:14).

Die geskiedenis van die vroeë kerk is by uitstek die geskiedenis van die Gees. Dis eers wanneer Hý in Efese begin werk, dat daar ’n gemeente tot stand kom.

Dis eers as die Gees jou lewe oorneem, dat jy jou plek in die kerk en in die koninkryk van God kan vol staan soos dit hoort. Gee Hom dan die kans – ook vandag!

image_pdfimage_print

Views: 19

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.