Hoe berei jy jou voor vir Kersfees? Hoe beplan jy om die geboorte van ons Here Jesus te vier? Of laat ek liewer die vraag só formuleer: Wat doen jy om die fokus op Christus te laat val? Wat doen jy sodat almal wat saam met jou vanjaar Kersfees vier – jou kinders en veral ook jou kleinkinders – sal verstaan dat dit om die geboorte van Jesus gaan, in die eerste en laaste instansie?
Ek is bevrees ons Kersfeesvierings maak dít ’n baie moeilike saak! Hoe laat ’n mens ’n kind verstaan dat Kersfees om Christus gaan as hy weet hy gaan baie geskenke kry? Kom ons sê dit maar vir mekaar: Vir ons kinders is die vreugde en opgewondenheid en afwagting rondom Kersfees dikwels onlosmaaklik verbind aan die opgewondenheid oor die geskenke wat hulle gaan kry. Ek lees dat ’n predikant in Brittanje ’n jaar of wat gelede dit gewaag het om te sê daar is nie regtig iemand soos Kersvader nie, toe was daar só ’n ontsteltenis dat hy agterna die mense om verskoning moes vra!
Dit was deur die eeue die versoeking, ook in die kerk en selfs in die Kersfeesprediking, om bysake ’n al hoe groter gewig te gee sodat die fokus weg van Christus skuif. En as ’n mens preke gaan oplees oor hierdie gedeelte, oor die sterrekykers en die ster, staan jy verstom oor hoe vindingryk mense is om verhale rondom die sterrekykers op te dis. Met die tyd het die sterrekykers ook elkeen ’n eie naam gekry (Kaspar, Baltasar en Melchior), en een tradisie beweer selfs dat die sterrekykers elkeen ’n ander velkleur gehad het – een wit, een geel en een natuurlik swart!
Dan is daar natuurlik nog die wonderlike ster. Julle sal nog onthou hoe ons met groot aandoening oor die Betlehemster gesing het. Daar is preke waarin jy haarfyn vertel word hoe dit gekom het dat die ster nou juis tóé verskyn het en wat dit beteken.
Nou ja, dit is alles natuurlik baie interessant, en só ’n soort aanslag pas heeltemal goed in ’n populêre tydskrif of toneelstuk. Maar as mense daaroor begin preek? Want jy sien, dan word die sterrekykers die hoofkarakters in die Kersgebeure, en dit terwyl die Bybelse boodskap oor die sterrekykers vir ons net een ding wil vertel: ook mense uit heidennasies het gekom om die Koning te aanbid, want Jesus het gekom, nie net vir die Jode van sy tyd nie, maar vir die ganse mensdom van alle volke en tale en kulture! Dis hoekom die Bybel ook nie vir ons hulle name vertel nie, want die fokus val nie op hulle nie, maar op Jesus.
Wanneer ons oor Kersfees dink en ons Kersfeesvierings beplan, moet Christus in die middelpunt van Kersfees staan. Dit wil ook Matteus in sy berig oor die geboorte van Jesus Christus onderstreep. Die ander figure van wie ons hier lees – Herodes, die skrifgeleerdes, die priesterhoofde, die sterrekykers, die Betlehemster – dit alles is daar om ons van Christus se koms te vertel, en vir ons te sê: met hierdie Koning kan jy nie neutraal staan nie. Jy móét kant kies, vir Hom óf teen Hom. Óf jy bring aan Hom hulde en aanbid Hom, óf jy verwerp Hom. ’n Middeweg is daar nie.
Baie mense wil nie graag kies nie. Hulle is nou nie juis goddeloos nie, maar hulle wil ook nie eintlik gebind word deur die aanspraak wat Christus op ons lewens kom maak nie. Hulle wil iewers tussen die sterrekykers en Herodes staan. Hulle wil in die Koning van die ganse skepping, Christus, glo, én hulle eie koninkryke dien. Hulle wil natuurlik Kersfees vier, maar dan gevul met hulle eie inhoud, waarin Christus ook êrens ’n plekkie het, maar eintlik gaan dit mos in die Kersfeestyd om vrolik en gelukkig wees!
Mag ek vra – sal Christus tuis voel by jóú Kersfeesvierings?
Ek dink die tyd het gekom dat ons standpunt inneem en Christus weer die hart van Kersfees maak. Terloops, die “Kers”-gedeelte van die woord Kersfees is ’n Nederlandse vervorming van die naam Christus, of Kristus. Kersfees beteken nie ’n fees van kerse nie, maar letterlik: Christusfees.
Kom ons maak dan soos die sterrekykers en die herders en die engele: kom ons vier fees en wees bly oor die Jesuskind, kom ons aanbid opnuut oor die Koning van die ganse skepping, want Hy is ook die Koning van ons lewe.
Amen.