GIBEA. – Dawid seun van Isai, die “wonderkind” en held van die slag van Soko, waar hy met die reus Goliat afgereken het, is besig om astronomiese opgang aan die hof van koning Saul te maak, en allerweë word ’n blink toekoms vir dié skrander jong man voorspel.

Sedert sy oorwinning oor Goliat is hy die liefling van die volk, en ’n groot gunsteling aan die koninklike hof. Aanvanklik het hy die pos as musiekdirekteur beklee en met sy strelende musiek die koning se gemoed gekalmeer. Intussen het die koning ook begin om hom as soldaat op te lei. Van die begin af het hy ’n natuurlike aanleg vir die krygskuns getoon, sodat hy nou een van die voorste generaals van die koninklike leër is.

Gerugte uit die wandelgange wil dit hê dat Dawid binnekort met een van koning Saul se dogters in die huwelik sal tree, om só sy band met die koningshuis te verseël. Saul se oudste dogter, prinses Merab, word in dié verband genoem, hoewel Dawid se naam ook romanties aan ’n jonger dogter, prinses Mikal, gekoppel word.

Onbevestigde berigte dui egter daarop dat daar veral in die laaste tyd toenemend spanning tussen die koning en sy jong protegè is. Daar is aanduidings dat die koning Dawid se toenemende gewildheid as ’n bedreiging vir sy eie koningskap ervaar. Die koning was glo veral erg gebelg oor die prysliedere wat die danseresse gesing het ná die slag van Soko. Hulle het na bewering onder meer gesing: “Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende!” Luidens dié berigte span die koning nie vir Dawid as soldaat in omdat hy ’n natuurlike generaal is nie, maar omdat hy hoop dat Dawid op die slagveld sal sneuwel. Volgens ’n amptenaar wat nie sy naam genoem wil hê nie, het die koning selfs al twee keer probeer om Dawid te vermoor terwyl hy vir hom op die lier speel.

’n Paleiswoordvoerder het egter dié berigte ten sterkste ontken en as “kwaadwillig” en “fopnuus”afgemaak. “Ons is almal baie lief vir Dawid. Hy is ’n besonder begaafde en innemende man, en daarby ’n gewaardeerde lid van die koninklike hof,” het hy gesê.

  • Lees van Dawid se eerste jare aan die hof in Gibea in 1 Sam. 18.

 

MODEONTWERPER SE SOMERMODES TREF DIE KOL

HEBRON. – Die gevierde modeontwerper van Kanaän, Abimeleg ben Mamre, het gister hier op ’n gala-aand te midde van groot belangstelling sy nuutste modeontwerpe vir die komende somer bekend gestel.

Vanjaar se ontwerpe lê veral klem op die skouers en middel. Die meeste klede spog met kleurryke insetsels op die skouers, of breë gordels in ’n kontrasterende kleur, sodat dit treffend uitstaan op die effekleurige klede van ligbruin en duifblou. Veral een ontwerp het die entoesiastiese gehoor na die asem laat snak: ’n veelkleurige kleed met lang en ryklik versierde moue. Blykbaar is dié besondere skepping ’n opdragwerk wat hy op versoek van ’n vriend vir dié se seun ontwerp het.

’n Nuutjie op vanjaar se modeskou is ’n paar ontwerpe vir die skoner geslag. Die damesklere was alles in swart. Afwisseling is verkry deur versierde mou- en kraagomboorsels, en verder het die modelle fyn geborduurde sluiers en hooftooisels gedra. Bonkige oor- en neusringe het die damesdrag afgerond.

Hoewel die reaksie op die damesklere nie oorweldigend was nie, voorspel Abimeleg dat damesmodes in die toekoms toenemend belangrik gaan word, en selfs belangriker as mansmodes kan word.

 

PERSOONLIK

Maria, die weduwee van Josef ben Jakob van Nasaret, en haar seuns gaan vanjaar weer soos gebruiklik na Jerusalem vir die huttefees. Haar oudste seun, die rabbi Jesus, sal egter nie die huttefees saam met hulle bywoon nie.

 


Die groen monster

Jaloesie is ’n emosie so oud soos die wêreld self. Was dit dan nie die oorsaak van Kain se weersin in sy broer Abel nie? Later sou ander Abel se lot deel: Josef, Dawid en baie ander.

Uiteindelik was ook die Here Jesus die slagoffer van jaloesie. Kyk net hoe sarkasties het sy eie broers met Hom gepraat in Joh. 7! En later sou dit een van die groot redes wees waarom die Joodse Raad en destydse godsdiensleiers Hom verwerp het.

Ten grondslag van jaloesie is ’n stuk onvergenoegdheid met dit wat jy van God ontvang het. Eers as jy vrede gemaak het met dié deel wat God vir jou afgemeet het, só vrede gemaak het daarmee dat jy daaroor dankbaar word, eers dan kan jy met ’n oop gemoed bly wees saam met ander oor die voorspoed wat hulle geniet. En eers dan kan jyself werklik gelukkig wees.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.