Waar kom ons Kersfeesgebruike vandaan?
“Eendag, lank lank gelede het ’n monnik gaan sit en besluit om ’n Kersfeestradisie te begin. Hy gaan kap toe ’n denneboom in die bos, maak dit in die klooster se eetsaal staan en versier dit. Toe hang hy ’n klomp kouse aan die kaggelrak op, maak vir elke monnikkollega in die klooster ’n klein geskenkie en sit dit stilletjies op Oukersnag in die kouse. Toe die monnike op Kersoggend in die eetsaal kom, was hulle so bly dat hulle spontaan Kersliedere opgemaak het …”
Klink dit soos ’n wolhaarstorie? Natuurlik, want dit is een. Die tradisies en gewoontes wat ons elke jaar in die Kerstyd laat herleef, het nie uit die lug geval nie. Die meeste van hulle is, interessant genoeg, baie ouer as Kersfees self, en het hulle oorsprong in eeu-oue feestradisies van die voor-Christelike Europa. Veral die tradisies rondom die winter-oesfees en die fees van die terugkerende son het in ’n gewysigde vorm in ons huidige Kersfeesgebruike voortgeleef. Tydens hierdie feesvierings het die mense hulle huise versier met groenigheid, is daar lekker geëet, baie gesing en geskenke uitgedeel. Wildevarke, varke en fisante is oor groot oop vure gebraai, ’n gebruik wat vandag voortleef in die gebraaide kalkoen op baie Kerstafels.
Hoekom 25 Desember?
Niemand weet op watter dag Jesus gebore is nie (vermoedelik was dit eerder in die Europese lente, d.w.s. Maart/April; keiser Augustus sou nie ’n groot sensus in die middel van die winter gehou het nie). Dis eers in die jaar 336 n.C. dat ’n Romeinse kalender 25 Desember aandui as Jesus se geboortedag. Dit is waarskynlik om saam te val met die jaareinde-feesvierings van destyds ter ere van Saturnus, die oesgod, en Mitras, die god van lig (vanaf 22 Desember begin die dae in Europa weer langer word). So is die gelowiges weggehou van die heidense feeste van dié tyd, en is talle gebruike uit die heidense feeste oorgeneem in ons Kersfeesvierings.
Die naam “Kersfees”
Die naam verwys nie na die baie kerse en liggies wat tydens dié fees aangesteek word nie, maar kom uit die ou Nederlandse benaming vir dié dag, en beteken letterlik Christusfees. (Die Nederlandse vorm Kerst vir Christus gebruik ons ook nog in die woord “kersten”, wat beteken om mense tot die Christendom te bekeer.)
Die Kersboom-legendes
Volgens ’n ou legende het St. Bonifacius, ’n Engelse sendeling, in die jaar 722 n.C. in Skandinawië op ’n paar mans afgekom wat besig was om ’n groot eikeboom af te kap sodat hulle dit as brandstapel kon gebruik vir ’n menslike offerande ter ere van hulle god Thor. Met ’n magtige vuishou het Bonifacius die boom gevel. Die eik het in twee oopgebreek, en ’n pragtige jong denneboom het uit die ou boomstam gegroei. Bonifacius het die mense vertel dat hierdie immergroen boom met sy takke wat hemelwaarts wys ’n heilige boom is, die boom van die Jesuskind, en ’n simbool van sy belofte van die ewige lewe. Hy het hulle beveel om voortaan immergroen bome uit die bosse na hulle huise te neem en dit met geskenke te omring wat as simbole van liefde en goedheid moes dien.
’n Viking-legende vertel weer dat Geloof, Hoop en Liefde, drie hemelse wesens, gestuur is om ’n boom te gaan soek wat as die eerste Kersboom kon dien. Hulle het lank gesoek om ’n boom te kry wat so hoog is soos hoop, so groot soos geloof en so soet soos liefde; ’n boom wat boonop die teken van die kruis in elke mik dra. Hulle soektog het in die bosse van die Noorde geëindig, want daar het hulle die Denneboom gekry. Hulle het die boom met die strale van die sterre verlig, en dit het die heel eerste Kersboom geword.
Nog ’n legende vertel dat baie plante aan Josef en Maria en die kindjie Jesus skuiling gebied het toe hulle vir Herodes moes vlug. Toe Maria te moeg was om verder te reis, het hulle aan die rand van ’n woud gestop om te rus. ’n Knoetserige ou denneboom wat hol was vanweë ouderdom het hulle genooi om binne-in sy stam te skuil, en toe sy takke om hulle gevou om hulle weg te steek totdat die soldate verby is. Met hulle vertrek het die Christuskind die den geseën en die afdruk van sy klein handpalmpie in die den se saad, die dennebol, gelaat. As ’n dennebol in die lengte oopgesny word, kan die handjie vandag nog gesien word.
Daar word ook vertel dat die bekende kerkhervormer Maarten Luther laat een nag deur die woud gestap het. Dit was ’n helder sterlignag, en talle sterre het deur die takke van die bome geskyn en die indruk van vonkelende liggies geskep. Luther is so deur die skoonheid van dié gesig geïnspireer dat hy ’n klein groen boompie afgekap het en by die huis die effek van die sterre nageboots het deur die boom se takke met brandende kerse te versier.
Waar kom die Kersboom vandaan?
In die Middeleeue (omtrent die 11de eeu n.C.) het godsdienstige opvoerings in Europa gewild geword. Een van die gewildste opvoerings in Duitsland was ’n toneelstuk oor Adam en Eva en die sondeval. Die Tuin van Eden is voorgestel deur die “Paradysboom” – ’n denneboom wat vol appels gehang is, as simbool van die boom van die lewe en die boom van alle kennis wat in die middel van die tuin gestaan het. Die toneelstuk het geëindig met die profesie van die komende Verlosser (Gen. 3:15).
Hierdie toneelstuk is gereeld in die Advent (die vier weke voor Kersfees) opgevoer. Een deel van die dekor, die Paradysboom, het ’n gewilde item geword in kerke en later ook in huise. Dit is opgerig as simbool van die Verlosser, omdat die boom nie net herinner het aan die paradys en die mens se verlorenheid nie, maar ook ’n simbool was van die belofte van verlossing. Daarom is die boom nie net met appels versier nie, maar ook met stukkies brood (wat aan die Nagmaal moes herinner) en dikwels ook lekkers (wat die soetheid van die verlossing verkondig het). ’n Ou Engelse Kerslied sing vandag nog van “Jesus Christ the Apple Tree”.
Omdat regte vrugte baie swaar is en die boom se takke laat hang het, het Duitse glasblasers gou reeds glasappels gemaak om die regte appels aan die Kersboom te vervang, en gaandeweg het die versierings simbole van die vreugde en lig van Kersfees geword. ’n Ster aan die bopunt van die boom verteenwoordig die Betlehemster wat die sterrekykers uit die Ooste na die Jesuskind gelei het. Mettertyd het hierdie gebruik uit Duitsland na die res van die wêreld versprei.
Adventskrans
Advent is die tyd van afwagting op die koms van Christus, en word die vier weke voor Kersfees gevier (die woord “advent” beteken “koms”). Die Adventskrans word in die laaste tyd ’n al hoe bekender deel van ons Kersversierings. ’n Krans was reeds in die Griekse en Romeinse tyd die teken van oorwinning en feestelikheid, en die Adventskrans kom waarskynlik van dié gebruik. Dit word van groen takkies gemaak wat inmekaar gevleg word om ’n krans te vorm. Dikwels word die krans net so teen die voordeur opgehang, maar dit kan ook plat op ’n tafel neergesit word. In lg. geval word daar vier kerse, een vir elk van die vier Adventsondae, tussen die takkies in die krans gesit: drie purper of donkerblou en een ligroos. Elke Sondag word een van die kerse aangesteek, met ’n kort gebed daarby waarin die gesin (of gemeente) bid om die koms van Christus, totdat al vier kerse op die vierde Sondag aangesteek word. Die ligroos kers word op die derde Adventsondag aangesteek om aan te dui dat die helfte van die wagtyd verby is. ’n Laaste rooi of wit kers, wat Christus simboliseer, word op Kersdag in die middel van die krans bygevoeg.
Elke Sondag het sy eie tema: die eerste is verwagting, die tweede verkondiging, die derde vreugde en die vierde reinheid. Die gebed wat die gesin by die aansteek van die kerse bid, sluit by hierdie temas aan, en is iets soos die volgende (die kursiewe woorde bid die hele gesin saam):
Eerste Advent
Here, ons steek hierdie kers aan as ’n simbool van ons verwagting.
Mag die lig van God skyn in die duisternis om die weg van saligheid vir ons te verlig.
Kom, ja kom haastig, Immanuel. AmenTweede Advent
Here, ons steek hierdie kers aan as ’n simbool van verkondiging.
Mag die woord van God deur die profete ons lei op die pad van saligheid.
Kom, ja kom haastig, Immanuel. AmenDerde Advent
Here, ons steek hierdie kers aan as ’n simbool van vreugde.
Mag die vreugdevolle belofte van u teenwoordigheid, o God, aan ons vreugde gee in ons hoopvolle verwagting op die verlossing.
Kom, ja kom haastig, Immanuel. AmenVierde Advent
Here, ons steek hierdie kers aan as ’n simbool van reinheid.
Mag die inwoning van die Heilige Gees ons reinig sodat ons gereed kan wees vir die koms van Jesus Christus, ons hoop en ons vreugde.
Kom, ja kom haastig, Immanuel. Amen
In Denemarke begin die Kersseisoen op 1 Desember met die aansteek van die kalenderkers. Die kers word met 24 ringe gemerk, een vir elke dag voor Kersfees, en elke dag brand een ring van die kers uit om só die afwagting en voorbereiding op Christus se koms te versterk.
Adventskalender
Die Adventskrans is ’n eeue oue gebruik. ’n Gebruik wat baie jonger is, is die Adventskalender, wat maar sedert die einde van die 19de eeu in gebruik is. Die eerste Adventskalender is in 1903 in Duitsland gepubliseer en het die Christuskind se tuin as tema gehad. Elke dag van die Adventstyd moes ’n luik op die kalender oopgemaak word om ’n teksvers te ontbloot. Die ontwerpe het aangegroei, maar die kalenders het steeds net ’n Duitse gebruik gebly. Dit was eers in die 1950’s wat die eerste Britse weergawe verskyn het met Noag se Ark as tema. Meer sinvol is dit as die gesin self hulle eie kalender maak. Dit kan óf ’n weekkalender wees (bv. ’n huis met vier vensters vir elke Sondag en ’n deur vir Kersdag), of een met genoeg luike vir elke dag van die Adventstyd.
Kersgeskenke
Dit was al sedert voor Christus se geboorte gebruiklik dat mense vir mekaar geskenke uitdeel op Nuwejaarsdag, as ’n manier om goeie wense oor te dra. Voeg hierby die verhaal in Matt. 2 waar die sterrekykers uit die Ooste aan die Jesuskind geskenke gebring het, en dis nie moeilik om te verstaan hoekom Kersgeskenke so ’n integrale deel van ons moderne Kersvierings is nie. Ongelukkig het die sakewêreld hierdie gebruik aangegryp om geld te maak, sodat ’n mens wil sing soos wat ek die ander dag gehoor het: Jingle bells, jingle bells, jingle all the way. Vader Krismis slaat my disnis in die Pick ’n Pay!
Kersvader, oftewel Sinterklaas
Dié ou man met die rooi jas en wit baard se herkoms kan teruggevoer word na ’n biskop genaamd Nicolas in Klein-Asië (vandag bekend as Turkye). Na sy dood is hy tot heilige verklaar en het hy as St. Nicolas bekend gestaan, die beskermheilige van kinders. In Nederland is dié naam vervorm na Sinterklaas, vandaar die Engelse “Santa Claus”.
In party lande in Europa sit kinders op die vooraand van die herdenking van sy sterfdag op 6 Desember skoene uit of hang kouse op, sodat Sinterklaas hulle geskenkie daarin kan sit en hulle dit die volgende dag kan kry. Sinterklaas besoek dorpe en stede, praat met kinders, en deel dikwels geskenke uit. Hy is soos ’n biskop geklee in ’n rooi of wit kleed en ’n lang gepunte hoed. In ander lande, soos by ons, het Sinterklaas nie ’n eie dag nie, maar is hy die een wat die Kersgeskenke bring.
In Nederland sit die kinders hooi en ’n wortel in hulle skoene by die vuurherd vir Sinterklaas se perd. En in Puerto Rico sit kinders groenigheid en blomme in klein dosies onder hulle beddens vir die kamele van die Drie Wyse Manne.
Sinterklaas het ook ’n helper. In Nederland is dit Swarte Piet, in Duitsland Knecht Ruprecht, en in Frankryk Pere Fouettard. Net so gek soos die kinders na Sinterklaas is, so bang is hulle vir sy helper, want hy skryf neer wie soet is en wie nie. Stout kinders kry nie geskenke nie, maar ’n lat waarmee hulle ouers hulle kan slaan. In erge gevalle kan hy selfs die stouterds in sy groot sak wegdra totdat hulle geleer het om soet te wees!
Kerskous
Ek onthou nog hoe ons as kinders elkeen ’n Kerskous op Oukersaand aan die kaggelrak moes ophang. Dié gebruik het ’n lang geskiedenis. ’n Ou legende vertel van ’n goedhartige edelman wie se vrou na ’n siekbed dood is. Die gebroke man het kort daarna alles verloor wat hy gehad het, en hy en sy drie dogters moes in ’n klein huisie gaan woon, waar hulle ’n sukkelbestaan gevoer het en die dogters self die kookwerk, naaldwerk en poetswerk moes doen. Toe die dogters ’n hubare ouderdom bereik het, was die arme man nog meer gebroke omdat hy nie geld gehad het om ’n ordentlike huwelik vir hulle te beding nie. Een nag het die dogters hulle uitgewaste kouse voor die kaggel opgehang om droog te word. Daardie nag het die biskop Nicolas (wat later Sinterklaas sou word) by hulle huis aangedoen omdat hy geweet het van hulle nood. Hulle was egter al in die bed. Toe hy deur die venster kyk, sien hy die kouse voor die kaggel hang. Net daar het hy drie klein sakkies goud uitgehaal het by die skoorsteen afgegooi, sodat dit netjies in die kouse beland het. Die volgende oggend het die dogters die geskenke ontdek. Met die geld kon hulle goeie huwelike doen, en die edelman was weer gelukkig.
Kersversierings
Die tradisionele Kersfees-kleure is groen en rooi: groen as simbool van groei en lewe in die lang koue wintermaande in Europa en die ewige lewe wat Christus gebring het, en rooi as teken van Jesus se bloed. ’n Bekende versiering op Adventskranse en Kerskaarte is die huls of steekpalm (“holly”), ’n plant met donkergroen, skerppuntige blink blare en rooi bessies. Die skerp punte van die blare herinner aan die doringkroon wat Jesus by sy kruisiging moes dra, en die rooi bessies simboliseer die druppels bloed wat Hy gestort het.
Stomp van Isai
’n Minder bekende gebruik in SA is die plaas van ’n droë houtstomp in die huis of tuin met Advent. Die stomp kan met ’n rooi lint versier word, en gryp terug na die voorspelling in Jesaja 11:1, waar ons lees dat ’n takkie uit die stomp van Isai sal uitspruit (dit is ’n voorspelling dat Jesus uit die nageslag van Dawid, die seun van Isai, sal kom). Die Noorweegse tradisie van die Yulstomp (letterlik Kersfeesstomp) hang hiermee saam, en dateer uit die Middeleeue. ’n Groot boomstomp se dik punt word twaalf dae voor Kersfees in die kaggel gesteek, en hy bly dan vir die volgende twaalf dae pal brand en gaandeweg in die kaggel ingevoer. Die stuk wat oorbly, word sorgvuldig bewaar sodat die volgende jaar se Yulstomp daarmee aan die brand gesteek kan word.
Elke gesin het natuurlik sy eie Kersfeestradisies wat bepaal wanneer die boom versier moet word, hoe die geskenke uitgedeel word, wanneer die Kersverhaal gelees en Kersliedere gesing word, of daar ’n Kersopvoering in die huis gehou word, wat op die spyskaart vir die Kersmaal is, ens. Dit is hierdie tradisies, en die bepaalde kleur wat elke gesin daaraan gee, wat Kersfeestyd ’n kosbare tyd in elke gelowige se lewe maak. Daarsonder sou ons geloof baie armer gewees het.
hi jaco
is daar ook n ander tradisie wat ander temas aan die 4 adventsondae gee – die ds sê verlede sondag die eerste sondag is die sondag van hoop… hy noem ook die temas van liefde, vreugde (wat jy ook noem)… die 4de tema wat hy genoem het het ek nou vergeet
dankie
mooi loop
Hallo Louis
Ja, daar is verskillende temas. Die enigste vaste tema is vir die derde Sondag, wat vreugde is, ook genoem Gaudete (wees bly). Dan is die helfte van die wagtyd verby. Daarom word dit dikwels met ‘n pienk kers gevier in kontras met die ander kerse.
Kings College gebruik bv. die temas Hoop, Vrede, Vreugde en Liefde.
Ek het ook al die temas Hoop, Verkondiging, Vreugde en Voorbereiding gesien.
Groete
Jaco