Van ons paleisverteenwoordiger
GIBEA. – Dawid seun van Isai, die “goue seun” van die koninklike hof, het spoorloos verdwyn. Dit is die gevolgtrekking waartoe die koning gekom het toe Dawid nie vandeesweek vir die belangrike twee dae lange nuwemaansfees hier in die paleis opgedaag het nie.
Volgens ’n bron na aan die koning is Dawid se leë plek aan die tafel reeds die eerste dag van die fees opgemerk. Die koning het dit egter sonder ’n woord laat verbygaan omdat hy aanvaar het dat iets voorgeval het wat Dawid verhinder om die fees by te woon. Toe sy plek die tweede aand weer leeg was, het Jonatan as verskoning aangevoer dat Dawid by hom dringend verlof gevra het om ’n familieoffer in Betlehem te gaan bywoon.
Blykbaar was die verskoning nie vir die koning aanvaarbaar nie, en hy het kroonprins Jonatan van dislojaliteit beskuldig. Hy het glo gesê Dawid beoog om die koningskap by hom af te vat, en dat hy as koning dit nie sal toelaat nie. Die daaropvolgende rusie was so hewig dat die koning na bewering selfs met sy spies na Jonatan gesteek het. Die kroonprins het hom daarop aan die fees onttrek sonder om sy mond aan die kos te sit.
Koning Saul se woordvoerder was nie vir kommentaar beskikbaar nie. Prins Jonatan het egter aan Bybelkoerant gesê hy sal nooit kan aanvaar dat Dawid ’n verraaier en teenstander van koning Saul is nie. “Hy is my beste vriend. Ek weet hy sal nie so iets doen nie,” het hy gesê.
Dit is nie bekend waar Dawid hom tans bevind nie. Selfs sy vrou, prinses Mikal, weet nie waarheen hy gegaan het nie. Onbevestigde berigte lui dat Dawid gister by die paleis opgemerk is. Hy het glo prins Jonatan in die geheim kom ontmoet gedurende die tyd wat die koning by Rama se profetekwartiere in ’n Geestesvervoering was.
Kenners van die koninklike huishouding wys daarop dat daar al vir ’n geruime tyd spanning tussen die koning en sy skoonseun Dawid is. Hardnekkige gerugte wil dit hê dat die koning reeds by twee geleenthede ’n aanslag op Dawid se lewe gemaak het. Die koning voel al bedreig sedert die profeet Samuel ná die veldtog teen die Amalekiete voorspel het dat die koningskap van hom “afgeskeur en aan sy naaste gegee sal word wat beter is as hy.” Daar is ook fluisteringe dat Samuel kort na dié voorspelling in Betlehem vir Dawid tot koning van Israel gaan salf het. Dié beweringe kon egter tot nog toe nie bevestig word nie.
- Lees van hierdie dramatiese gebeure in 1 Sam. 20.
VIER VRIENDE SE VASBYT RED VERLAMDE
Van ons Nuwe Testament redaksie
KAPERNAUM. – Danksy die volharding van ’n verlamde man se vier vriende kan hy vandag weer loop. ’n Rabbi het hom gesond gemaak.
Dié gelukkige man is Simeon ben Jakob. Sy vriende het hom gister na die bekende rabbi-geneser Jesus van Nasaret gebring waar hy in sy huis besig was om mense te onderrig. Daar was egter só ’n samedromming van mense by die huis dat hulle nie eens naby die rabbi kon kom nie. Dit was toe dat die vriende hulle staal gewys het. Hulle het eenvoudig op die dak geklim, ’n gat oopgebreek bokant die plek waar die rabbi was, en toe hulle vriend met draagbaar en al deur die dak laat afsak tot vlak voor die rabbi se voete!
Geskokte omstanders wou nog hulle ontsteltenis uitspreek oor die arrogansie van die mense wat hulle op so ’n manier aan die rabbi opdring, maar die vriendelike rabbi wou niks daarvan hoor nie. Hy het opgekyk na die manne op die dak en hulle geprys vir hulle hulp aan hulle vriend. Toe het hy verklaar dat die verlamde man se sonde vergewe is, en vir hom gesê: “Ek sê vir jou: Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe.”
Voor almal se oë het die verlamde man opgestaan, sy draagbaar opgetel en uitgeloop na waar sy vriende op hom gewag het. Toe het hulle almal saam na die rabbi gekom om dankie te sê – en hierdie keer het die mense vir hulle plek gemaak dat hulle die vertrek kon inkom.
- Lees hierdie aandoenlike verhaal in Mark. 2:1-12.
Vriendskap
Die Bybel sê van vriende: “Rykdom vergader baie vriende; ’n arm mens word van sy enigste vriend vervreem” (Spr. 19:4).
Só ’n vriend was Jonatan nie. Hy het deur dik en dun by Dawid gestaan. Geen wonder nie dat ’n ontroerde Dawid dit uitklaag toe hy later hoor dat Jonatan gesneuwel het: “Ek is bedroef oor jou, my broer Jonatan. Jy was vir my wonderliker as die liefde van enige vrou” (2 Sam. 1:26). Hierdie onbaatsugtige vriendskap tref ons ook aan in die optrede van die verlamde man se vriende.
Is jy dié soort vriend vir hulle wat naby aan jou is? Iemand wat nie vir eie voordeel die verhouding het nie? Dit is immers die gesindheid waarmee ons Here Jesus gelewe het (Fil. 2:3- 8)!
Views: 15