Ek het verlede week ’n blog geskryf oor Kersfeesgebruike en waar dit vandaan kom. In reaksie hierop het ek navrae gekry oor die moderne neiging om nie meer Kersfees te vier nie, omdat dit aanvanklik nie ’n Christelike fees was nie.

Ek moet eerlik wees. Dit is vir my baie vreemd dat mense nou, ná 2000 jaar en ‘n eeue-oue Kersfeestradisie, skielik ongemaklik raak oor Kersfees. Hoekom nou? Is dit nie maar net ‘n geval van iemand wat die klok hoor lui het en nou is die hele kerk verkeerd nie?

  • Hoekom vier ons Kersfees?
  • Behoort ons Kersfees te vier, of moet ons dit liewer los?
  • Is dit nie eintlik ’n heidense fees wat die kerk oorgeneem het nie?
  • Waar in die Bybel staan dit dat Jesus op 25 Desember gebore is?

Dit is alles vrae wat deesdae gevra word, ook deur opregte gelowiges wat erns maak met die wil van God in hulle lewe. Daarom is daar mense wat in die lig van al hierdie vrae meen dat Kersfees liewer nie deel van ons kalender moet uitmaak nie.

Hier is my antwoord. Ek hoop dit help jou om jou eie standpunt hieroor te formuleer.

Oor die datum van Kersfees is die antwoord maklik. Ons weet nie op watter dag Jesus gebore is nie, maar dis baie onwaarskynlik dat dit op 25 Desember was. Dit was waarskynlik eerder in die Europese lente (Maart of April), want keiser Augustus sou nie so ’n groot sensus in die middel van die winter gehou het nie.

Ons weet ook dat die datum (25 Desember) doelbewus gekies is as teenvoeter vir die heidense fees van die terugkerende son (wintersonstilstand) wat destyds gevier is met al die heidense gebruike daaraan verbonde. Mettertyd het Kersfees inderdaad die heidense fees in Europa vervang en talle van die goeie gebruike van die feestyd oorgeneem.

Dit hoef nie Kersfees as Christelike fees te diskwalifiseer nie. Ons het ook ánder gebruike uit die heidendom oorgeneem, bv. die kerkklok wat ’n Chinese herkoms het en gelui is om die bose geeste af te weer. Wie verbind vandag ’n kerkklok met Chinese bygeloof? Wie dink nog daaraan as die kerkklok lui?

Die eintlike vraag wat ek en jy moet vra oor Kersfees, is:

  • Is Jesus Koning in jou lewe?
  • Is dit belangrik dat ons sy geboorte herdenk, al is dit dan op ’n arbitrêre datum soos 25 Desember?
  • Dink jy aan die voor-Christelike heidense Europese feeste as jy vandag oor Kersfees dink?
  • Maak die agtergrond van die fees regtig vandag ’n verskil aan hoe ons oor Christus se geboorte dink?

Moenie Kersfees weggooi nie! Vul dié besondere dag eerder opnuut met die viering van die koms van ons Verlosser na die wêreld. Dis mos iets om oor fees te vier!

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.