– hele priesterfamilie van hoogverraad aangekla

GIBEA. – Dawid seun van Isai, wat enkele dae gelede soos ’n groot speld verdwyn het, is eergister in die priesterdorpie Nob ten suide van die hoofstad opgemerk. Dié brokkie nuus is die jongste inligting oor die samesweringskandaal rondom die eertydse goue seun van die koninklike hof.

Volgens ons verteenwoordiger by die paleis het dit koning Saul ter ore gekom dat die mense weet waar sy skoonseun is. In ’n blitsvergadering met al sy amptenare gistermiddag het die koning hulle van dislojaliteit beskuldig omdat hulle hom nie ingelig het oor Dawid se subversiewe planne nie. Hy het gesê hy beskik oor inligting dat Dawid en sy eie seun, kroonprins Jonatan, ’n komplot teen hom gesmee het.

Koning Saul het sy amptenare daarvan beskuldig dat hulle deel van die sameswering teen hom is omdat hulle Dawid se doen en late vir hom verswyg het. Daarop het die hoof van die koning se veewagters, Doëg die Edomiet, die koning meegedeel dat Dawid in Nob by priester Agimelek seun van Agitub opgemerk is. Agimelek het glo die Here vir Dawid geraadpleeg en hom ook van padkos en wapens voorsien.

Koning Saul het gelas dat priester Agimelek en sy hele priesterfamilie in hegtenis geneem en na Gibea gebring moet word vir ’n summiere verhoor op aanklag van hoogverraad. Die verhoordatum is vir môre vasgestel.

 

Rabbi se sabbatsbeskouing jaag Fariseërs die harnas in

KAPERNAUM. – Plaaslike Fariseërs is hoogs ontsteld oor die rebelse optrede en afwykende sabbatsbeskouings van rabbi Jesus van Nasaret. Volgens hulle druis dit in teen die oorgelewerde gebruike en verwar hy die mense.

Die Fariseërs se ontsteltenis spruit uit twee voorvalle waarin die rabbi gister op die sabbatdag betrokke was.

In die eerste voorval het die rabbi se dissipels, terwyl hulle deur gesaaides geloop het, koringare gepluk en geëet. Volgens die Fariseërs kom dit daarop neer dat die dissipels op die sabbat geoes het, terwyl die Vierde Gebod dit uitdruklik verbied dat ’n mens op die sabbatdag mag werk. “’n Mens kan nog die dissipels se optrede oor die hoof sien, want hulle is maar net eenvoudige vissermanne wat nie van beter weet nie. Maar rabbi Jesus gee hom uit as ’n kenner van die Wet. Dat hy hulle optrede so oogluikend toelaat en selfs verdedig, is onverskoonbaar en godslasterlik,” het een van die Fariseërs gesê.

Die tweede voorval was kort daarna in die sinagoge. Die rabbi het daar die ongehoorde ding gedoen om ’n man se gebreklike hand te genees.

“Dit is nie genoeg dat net sy dissipels op die sabbatdag werk nie. Hy het nie gerus voordat hy nie, voor ons almal se oë, ook gewerk het nie. Ons beskou dit as ’n openlike uitdaging van ons uitleg van die Skrifte. Ons beplan om hierdie saak tot by die Joodse Raad te voer,” het die Fariseërs vanoggend in ’n verklaring gesê.

Die rabbi se verweer was dat hy net goed gedoen het. “As mens nie op die sabbatdag jou naaste mag help nie, is daar iets drasties verkeerd met ons sabbatsheiliging,” het hy gesê.

 

IN ’T KORT

LEIER STEL NASIONALE WEEKLIKSE RUSDAG IN

SINAIBERG. – Moses seun van Amram het vanoggend aangekondig dat daar voortaan ’n weeklikse rusdag vir al die Israeliete sal wees. Die rusdag, wat elke Saterdag gehou moet word, sal “Sabbat” heet.

 


Die Vierde Gebod – ’n Feesdag

Laat ons dit maar erken: die wyse waarop die Vierde Gebod nagekom word, is vir baie van ons ’n probleem. Daar is talle mense vandag wie se Sondag-siening nogal baie ooreenstem met dié van die Fariseërs van Jesus se tyd. Ander gaan weer heeltemal oorboord en gebruik die Sondag vir hulle inkopies en sport. En iewers in dié chaos moet die Christen sy getuienis lewer deur die wyse waarop hy hierdie instelling van God vier.

Jesus, soos Dawid lank voor Hom, wys ons dat ’n harde, onbuigbare benadering tot die sabbat (en ander wette) net nie houdbaar kan wees nie, want dit maak van die dag ’n koue, stroewe wet. Die dag van die Here is immers ’n feesdag, waarop ons ons verlossing in Christus Jesus moet vier, ’n feesdag waarop ons mag rus van ons geswoeg en geskarrel om ’n bestaan te maak, omdat ons weet God sorg vir ons.

’n Feesdag! ’n Dag om voor die Here bly te wees. Daarom moet ons nie die dag só volprop met ons eie dinge dat daar min plek vir God oorbly nie.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.