Ons dank U, Here Jesus, dat U gekom het om blydskap vir ons te bring.
Ons het dit so nodig in hierdie dae van treurige nuus in die wêreld.
Ons bely dat ons ons dikwels só blind staar teen al die slegte nuus wat ons hoor,
teen al die slegte dinge wat ons beleef,
dat ons die vreugde wat u koms gebring het, miskyk.
Daarom loop ons met hangskouers en lang gesigte rond en skud ons die kop,
in plaas daarvan dat ons regop staan,
koningskinders in hierdie wêreld,
gekoop met die bloed van die Lam!
Ons kom bid vanoggend vir hulle wat nié vandag bly is nie, maar hartseer:
hulle wat in dié dae so bewus is van die dierbare wat vanjaar nie weer die Kerstyd saam met hulle sal vier nie,
omdat hy of sy nie meer daar is nie;
hulle wat in dié dae te min het om selfs ’n Kersmaal te kan eet;
hulle wat eensaam is en niemand het om mee bly te wees nie;
hulle wat siek en swak is;
hulle wat radeloos is omdat daar nie werk is nie;
ons kom bid vir hulle almal.
O Jesus, Bron van al ons vreugde, U wat gekom het sodat ons die lewe kan hê, en dit in oorvloed, hoor ons gebed!
Ons kom bid vir ’n wêreld wat in hierdie dae so hard probeer om bly te wees,
wat hulle vreugde in ’n bottel soek,
of in ’n duur geskenk,
of in singenot;
ons bid vir almal wat so desperaat na vreugde soek omdat hulle nie vir U in hulle lewe het nie.
Ons bid dat U tog deur u Gees hulle harte sal verander en hulle oë sal oopmaak,
sodat hulle U sal leer ken, Here Jesus,
U wat die Weg en die Waarheid en die Lewe is,
U wat vir almal wat vermoeid en belas is, rus wil gee,
U wat gesê het dat u las lig is en u juk sag –
ons bid dat mense U sal ontmoet as hulle Verlosser,
sodat hulle saam met ons die knie voor U kan buig en kan bely: Jesus is Here! tot lof van God die Vader.
O Seun van God, U wat gekom het om te kom soek en red wat verlore is, hoor ons gebed!
En nou loof ons U, Jesus, hoogste Heer!
Uit die hemel kom U neer om mens hier onder ons te wees –
en so kan ons nou vrolik wees.
Ons loof U, Heer!
Amen.