Hulle is gebrei deur jare se blootstelling aan wind en weer; ongekunsteld en sonder pretensie. Eenvoudige manne wat hulle brood op die harde manier verdien. Skaapwagters wat die skroeiende somerson en die ysige winterwind jaar vir jaar trotseer om hulle skape op te pas. Hierdie klompie manne se lewens is in een nag omgekeer, die nag toe ’n leërskare engele aan hulle verskyn het om die grootste boodskap van alle tye af te gee: die Seun van God is gebore. Oor wat dié nag met hulle gebeur het, is hulle so vol dat ek nie eintlik te veel vrae hoef te gevra het nie. Hulle het sommer vanself daaroor uitgeborrel.

Ek het die vier van hulle in die veld gekry waar hulle oudergewoonte die nagkoue verdryf het met ’n vuurtjie. Eenkant, veilig in ’n takkraal, het hulle skape rustig geslaap, sommer so almal bymekaar. Ek wou nog verbaas weet of hulle nie bang is hulle skape sal deurmekaar raak as almal s’n in dieselfde kraal is nie, maar hulle het net gelag en betekenisvol na mekaar gekyk. “Kyk, Juffrou, daar is twee goeie redes hoekom ons skape nie deurmekaar sal raak nie,” sê die oudste van die manne, Johannes ben Elias, nadat ek ’n rukkie verleë rond geskuif het oor my onnosel vraag. Hy hou twee ruwe vingers op om sy verduideliking te staaf. “Een: ons ken ons skape. Miskien lyk hulle vir jou almal net na skape, maar vir ons wat elke dag met hulle werk, is hulle nie sommer net ’n klomp skape nie. Elkeen het ’n naam, en elkeen van hulle het ’n eie persoonlikheid.” Hy moes die ongeloof in my oë gesien het, want sy glimlag het al breër geword. Hy beduie woes met sy herderstaf terwyl hy praat. “Een van my skape is ou Vlekstert. Dis nou vir jou ’n ander kalant. Hy wil altyd reg agter my loop, en bewaar die stomme skaap wat dit waag om tussen hom en my in te druk!”

Ons ken ons skape. Nie twee van hulle lyk eenders nie.

’n Jonger man, Asor ben Sealtiël, knik instemmend. “Dis waar, Meneer. Ons ken ons skape. Nie twee van hulle lyk eenders nie. Ons sal nie met hulle deurmekaar raak nie.”

“Jy het gesê daar is twee redes,” pols ek die ou man.

“Ja, Meneer. Die tweede rede is die skape self. Hulle ken ons stemme. Soggens as ons veld toe gaan, maak ons die kraal se hek oop, en dan roep ons ons skape een vir een op die naam, dan kom hulle ewe rustig uit die kraal aangestap na ons toe.” Sy oë is vol duiweltjies toe hy byvoeg: “My skape sal nooit agter ou Asor hier aanstap nie, want hulle weet hy is ’n vrotsige skaapwagter.”

Asor trek sy asem verontwaardig in om te protesteer, maar dan sien hy dis net ’n grap, en hy lig sy staf net speel-speel op. “Oom moet oppas wat Oom voor vreemde mense sê. Netnou glo hy Oom, en dan?”

“Dit was die wonderlikste aand in my lewe, dié kan ek jou verseker.”

’n Derde man, Simeon ben Haran, gooi nog ’n stomp op die vuur. “Wag, kêrels, die meneer het nie gekom om na julle bakleiery te luister nie. Hy wil weet van nou die aand.” Hy pluk aan sy baard en glimlag, ’n veraf kyk in sy oë. “Dit was die wonderlikste aand in my lewe, dié kan ek jou verseker.” En toe vertel hy van daardie nag toe die ster so blink geskyn het dat dit byna soos volmaan gelyk het. “Ons het om die vuurtjie gesit, net soos nou. Ek dink ou Jeremia het nog gesit en kerm oor hoe uitgetrap die veld daar agter die bult die laaste tyd is – ou Jeremia kla mos maar altyd so ’n bietjie – “

”Dis nie kla nie, man, dis maar net dat ek bekommerd is oor die skaap,” gooi Jeremia wal.

“Ja, toemaar nou,” paai Simeon. “Ewenwel, terwyl ons nog so om die vuurtjie sit en oor ditjies en datjies praat, staan daar ’n kêrel in wit by ons, sommer hier vlak by ons, net daar waar Meneer nou sit. So naby was hy.”

Die ander knik, maar Jeremia is nie heeltemal tevrede nie. “Dit was nie sommer gewone wit nie, Meneer,” skud hy sy kop, “dit was so ’n blink-wit kleed. Ek het in my ganse dag des lewens nog nie so-iets gesien nie. Te aardig.”

“Toe vertel hy vir ons dat die Saligmaker daardie nag gebore is, sommer net hier by ons op die dorp,” las Johannes by. “Nogal in ’n stal, hoor jy.”

Ek wou weet of die engel gesê het hoekom hy die tyding juis vir húlle gebring het, maar dié vraag kon hulle nie antwoord nie. “Seker maar oor ons hier buite onder die bloue hemel was. Die engele kom mos van die hemel af, so ons was seker die eerste mense wat hy teëgekom het,” probeer Simeon.

Ek het ook al gewonder hoekom die engel spesifiek vir óns kom vertel het.

“Ek moet sê, ek verstaan dit ook nie mooi nie,” las Jeremia by. “Ons is maar eenvoudige en ongeleerde manne. Ons weet mos nie eintlik so veel van die Skrifte en dinge soos die skrifgeleerdes en die priesters en so nie. Ek het ook al gewonder hoekom die engel spesifiek vir óns kom vertel het. Ek het gedink hy moes eerder na ou rabbi Shammai gegaan het; dié spog mos alewig oor hoe belangrik Betlehem is oor dit die geboortedorp van koning Dawid is en so.”

“Ja, en hy is geleerd en als,” beaam Simeon, sy stem vol respek vir die Godsman.

“Miskien wou die engel ons laat verstaan dat die Saligmaker nie net vir die slim en belangrike mense gekom het nie. Miskien wou hy hê ons moet weet God het ons eenvoudige mense ook lief,” sê Johannes sag, sy oë klammerig in die gloed van die vuur.

Asor se gesig verhelder. “Ek dink Oom is reg! Dis dié dat Hy in ’n stal gebore is, en nie in ’n rykmanshuis nie.” Sy oë blink. “My ma vertel altyd hoe sy my ook sommer so in ’n krip vol strooi laat slaap het. Ja-nee, ons arm mense weet van swaarkry. En nou het die Saligmaker na ons toe gekom.”

Johannes maak sy keel skoon en wag tot hy seker is hy het my aandag. Dan sê hy: “Meneer weet, daardie engel het nie alleen gekom nie. Toe ons weer sien, is daar net engele waar jy kyk. Duisende van hulle, oral om ons. Dit het so geblink, dit het kompleet gelyk of ’n klomp sterre hier om ons kom staan het. En hulle kan vir jou síng, hoor! So mooi het ek nog nie gehoor nie. Dit het vir my gevoel hulle sang lig my van die grond af op sodat ek sit en sweef bokant die aarde. En toe, net so skielik soos wat hulle gekom het, is hulle weg.”

“En toe?” por ek aan.

Johannes lyk verbaas oor my dom vraag, en antwoord half verontwaardig: “Toe gaan kyk ons natuurlik waar die Kindjie is.” Hulle het nie eens te veel gesoek nie, sê hy, want hulle het geweet die Kindjie is iewers in ’n stal. Hulle het so ’n bietjie rondgevra, toe kom hulle by ou Juda se plek uit. En dan was daar boonop daardie vreemde ster wat reg bokant Juda se huis gehang het.“Ek was nogal verbaas dat dit by hóm is. Ek het nooit gedink dié ou korrelkop sal vir mense slaapplek gee nie.” Hy trek sy skouers op. “Maar so is dit mos maar. Jy weet nooit wat in ander se harte aangaan nie.”

“Ja, maar daardie vrou van hom het ’n hart van goud.”

“Ja, maar daardie vrou van hom het ’n hart van goud,” sê Simeon. “My Dina sê altyd jy sal ver gaan om ’n beter vrou as Salome te kry.”

Ek het begin koud kry daar in die veld, en was verplig om hulle so ’n bietjie aan te stoot, want hulle was lus vir praat. “Toe gaan julle na Juda en Salome se plek,” druk ek hulle so ’n bietjie verder.

“Meneer, dit was heilige oomblikke, daar in die stal,” antwoord Jeremia en tik met sy kierie op die grond om sy woorde te onderstreep. “Ons het ingestap, en daar lê die ou babatjie, te dierbaar. Ek kon sien sy ma is moegerig na die geboorte, maar sy het ons nader genooi.” Sy stem is skielik skor. “Ek was so oorweldig, ek het sommer daar in die deur neergekniel. Ek meen, dit is ons Saligmaker, die Messias! Kan jy jou indink? Daar staan ons vier rowwe manne, en onse Messias lê vlak voor ons en slaap in ’n krip. Die oomblik was vir my net te groot om nader te gaan.”

Johannes knik gewigtig. “Ja, ons het jare lank vir dié dag gewag. Die Here is goed vir ons.”

Die vier het stil geword daar om die vuur, skielik weer oorweldig deur die herinnering van die heilige nag. Ek het opgestaan en geloop sonder dat hulle dit agtergekom het, jaloers omdat ek nie die groot geleentheid met hulle kon meemaak nie, maar ook opgewonde. Dis waar wat die ruwe skaapwagters gesê het. Dis ’n heilige tyd hierdie. ’n Nuwe era het vir Israel aangebreek.

  • Lees meer oor die skaapwagters en die engele in Luk 2:8-20. In Joh 10:1-21 kry ons ook ’n goeie idee van die intieme band wat daar tussen ’n skaapwagter en sy skape was (hier pas Jesus dit toe op sy verhouding met ons). Oor die skrywer van hierdie artikel kan jy meer lees in Luk 1.
image_pdfimage_print

Views: 41

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.