met apologie aan Leonard Cohen
Luther het vyfhonderd jaar geleë
die kerk gebring na nuwe weë.
Hy’t opgestaan toe ander koers verloor het.
Christus bring heil, net deur sy bloed,
die Woord van God alleen is soet,
Genade en geloof is al wat saak maak!
Halleluja, Hallejula, Halleluja, Halleluja!
’n Half millennium is verby –
die kerk vier fees en ons is bly,
maar meer as ooit verloor ons sin en rigting.
God’s Woord word deesdae erg verdring
deur memes, dis mos nou die ding:
die nuwe lig wat ons die pad moet aanwys.
Halleluja, Hallejula, Halleluja, Halleluja!
Luther, Calvyn, die hele lot
sou graag wou weet wat het geword
van al die sola’s waarvoor hul so hard gestry het.
Ek sit en huil, my hart is seer
die kerk het weer die spoor verleer –
nou sing ek ’n gebroke halleluja.
Halleluja, Hallejula, Halleluja, Halleluja!
Ons draai ons rug op vyhonderd jaar –
dis outyds, tradisies, met dié is ons klaar,
en dapper storm ons voort met hallelujas.
Ek soek verdwaas, verwese, moeg,
my kerk het my nou uitgespoeg,
en sing verleë gebroke hallelujas.
Halleluja, Hallejula, Halleluja, Halleluja!