Hy is al geïrriteerd toe hy deur toe stap. Dis natuurlik nóg ’n reisiger wat slaapplek soek. Waar moet hy ewe skielik blyplek kry, en dit nogal vir wildvreemde mense wat van oral oor op Betlehem kom toesak het? Vervlakste keiser Augustus! Miskien moet hy ’n bordjie by die deur opsit wat sê: “Geen slaapplek nie.” Dalk sal dit die mense weghou.

“Ja?” vra hy bars toe hy die deur oopmaak. Die Skrifte sê nou wel ’n mens moet gasvry wees en die vreemdelinge huisves, maar hy is seker Moses het nie geweet ’n mal keiser in Rome gaan eendag met ’n simpel sensus almal dwing om na hulle familiestede te gaan nie.

’n Jongerige man staan beteuterd voor die deur. Hy lyk moedeloos, maar buig beleef. “Meneer, ekskuus dat ek u pla, maar ek is dringend op soek na slaapplek. Ek het al oral probeer, maar al die huise is al vol. My vrou is baie moeg.” Hy beduie verleë na ’n vrou wat ’n entjie agter hom staan. “Sy is swanger, soos u kan sien, en ons was die hele dag op pad. Kan u nie …?”

“Nee, ek het nie plek nie. Hoeveel maal moet ek dit nog sê? Ek het nie plek nie. Nie vir jou nie, en ook nie vir enige iemand anders nie.”

“Asseblief, Meneer, al is dit net …” probeer die man weer, desperaat.

“Lyk ek miskien vir jou soos ’n vervlakste herbergier? Ek is nou net mooi keelvol van julle vreemde mense wat ons dorp se vrede en rus kom verstoor het. So loop nou!” Woedend slaan hy die deur toe voordat die man verder kan praat. Verdomde sensus!

“Wat was dit, Juda?” Salome staan in die binnehof, haar wenkbroue op ’n vraag geplooi.

“Aag, sommer weer ellendige reisigers wat slaapplek soek. Ek het gesê ons het nie plek nie.” Dan, driftig: “Ek is nou siek en sat vir die hele spul! Ek wens die sensus kry nou klaar dat ek met rus gelaat kan word.”

“Foei tog, waar moet die arme mense slaap? Dis tog nie húlle skuld dat die keiser bepaal het hulle moet hierheen kom nie.” Sy glimlag treurig as sy byvoeg: “En dit is nou ook nie juis asof jy tot hiertoe uit jou pad gegaan het om die mense te help nie.”

Juda lig sy hande verontwaardig op. “En hoe moet ek hulle miskien help? Waar op dees aarde moet ek vir hulle slaapplek vandaan kry? Of wil jy hê ek moet hulle in die stal prop?”

“Dis darem warm en uit die wind en weer,” sê sy sag.

“Is jy van jou kop af, vrou? Netnou kraam daai vrou vannag, en dan?”

Salome trek haar asem skerp in. “Is sy swanger?”

“Ja, haar maag sleep omtrent op die grond. Daardie kleintjie gaan nou enige tyd uitval, en dan is dit ’n gemors, sê ek vir jou.”

“En jy los haar net daar in die straat in dié toestand?” sê-vra Salome verontwaardig en stap na die voordeur.

“Waar gaan jy miskien heen?”

“Ek gaan die mense haal, natuurlik! Ons kan mos nooit die arme vrou in dié toestand vannag buite los nie.”

Juda hou haar aan die arm teë. “Los hulle, Salome. Dis nie ons probleem nie.”

Sy ruk haar los uit sy greep. “Kyk, Juda, ek weet al lankal jy gee nie vir ander mense om nie, en dit is vir my swaar om dit te aanvaar, maar dit beteken nie ek hoef net so harteloos soos jy te wees nie. As jy nie die mense wil help nie, is dit seker jou saak. Maar los jy my nou uit dat ek hulle gaan help.” Voor hy kan reageer, is sy by die deur uit.

Juda kyk na die oop voordeur. Sy keel is skielik droog. Salome se woorde het hom tot in sy tone geruk. Sy sê hy gee nie vir ander mense om nie. Sy sê hy is harteloos. Hy het nog nooit aan homself as harteloos gedink nie, en hy wil nie graag so oor homself dink nie, maar miskien is sy reg. Hy hét nie juis erg aan die swaar van ander nie. Hy het nog altyd gevoel dis hulle probleem, nie syne nie.

Hy hoor stemme soos Salome met die egpaar na die huis toe terugkom, en maak hom vinnig uit die voete. Hy is nie nou lus om hulle te sien nie. As Salome dan so danig vol liefde en deernis vir ander mense is, moet sy hulle maar ontvang ook en kyk waar sy vir hulle ’n gaatjie in die huis kry. Buite in die agterplaas kyk hy onseker rond, op soek na iets om hom mee besig te hou totdat Salome klaar is met haar gaste. Hy vat ’n besem en begin die werf vee. Dit sukkel maar, want dis al sterk skemer en hy kan nie juis sien wat hy doen nie.

Na ’n rukkie raak hy bewus van ’n vreemde glans in die agterplaas. Sou die maan opgekom het? Dit kan tog nie wees nie; dit was dan verlede week nuwemaan, die maan kan onmoontlik nou al so helder skyn. Toe hy opkyk, sien hy dat die eerste sterretjies al in die donker aandhemel blink, maar daar is nog geen teken van die maan nie. Die ligglans kom van ’n besonder helder ster wat hy nog nie tevore opgemerk het nie. Hy sit die besem neer en wil net ingaan om vir Salome te roep om die ster te kom kyk, maar dan bedink hy hom. Hy is tog nie nou lus vir haar nie, en sy sal buitendien seker nog met die mense besig wees. Weer kyk hy op, en skud dan sy kop. Só ’n ster het hy nog nooit gesien nie.

Hy hoor ’n gewerskaf in die stal, en sien ’n lig daar brand. Hy weet hy behoort vir Salome te gaan help, want daar sal heelwat te doene wees om die stal reg te kry voordat die mense daar kan slaap, maar hy kry homself nie sover nie. Hy is nog vies vir Salome, en hy het die man so sleg behandel dat hy half skaam vir hom is. Hy sug en begin weer vee. Partykeer is die lewe nie eenvoudig nie.

Na ’n rukkie gaan die agterdeur oop. Toe hy opkyk, sien hy ’n man se silhoeët in die deur. Hy moet nou net nie kom staan en skoor soek nie, want dit sal hy sommer maklik kry. Hy is nie vanaand in ’n bui vir vreemde mense nie; allermins vir dié man.

Die man kom onseker nader en buig dan diep. “Ek …” Hy glimlag verleë en vryf oor sy kopdoek toe Juda nie reageer nie. “Ek het net kom kennis maak en kom dankie sê dat ek en my vrou hier by julle kan oornag. Ek is Josef ben Jakob, uit die geslag van Isai. Dis dié dat ek hierheen moes kom vir die sensus. Ek is eintlik van Nasaret. ’n Skrynwerker,” borrel dit senuweeagtig uit. Toe Juda steeds nie reageer nie, sê hy: “Ek sal môre vir ons ander blyplek gaan soek. Ek is net dankbaar dat ons nie vannag buite sal moet slaap nie. Baie dankie.” Hy buig weer. Sy glimlag is strammerig toe hy omdraai en weer by die agterdeur in verdwyn.

Juda kyk lank na die deur waar die man verdwyn het. Dis presies hoekom hy nie die mense wou ontvang nie. Hy is nie lus om met wild-vreemde mense praatjies te maak nie. Hy wil nie weet wie die man is nie, of waar hy vandaan kom nie, of dat hy ’n skrynwerker is nie. Wat traak dit hom? Môre-oormôre is die man vort, en dan het hy al die energie gemors om die man te leer ken. Hy skud sy kop. Nogal van Nasaret. ’n Galileër, dus. Dis ook net soos sy geluk werk. Dat hy nou met ’n Galileër van alle mense in sy huis moet sit. Daardie mense het geen kultuur nie. Hy wonder of die man al ooit in Jerusalem was en die tempel gesien het. Seker nie. En boonop waag hy dit met die hoog swanger vrou op reis. Wys jou net. G’n kultuur nie. Niks.

Toe dit heeltemal donker is, gaan hy in. Salome is in die kombuis besig met aandete. Die kos is niks besonders nie; sommer ’n bietjie gebraaide koring met ’n wynsous wat van die middag oorgebly het, en ’n paar vars garsbroodjies wat sy gebak het. Sy kyk nie op toe hy inkom nie. Sy skep die helfte van die koring in ’n bak en gooi van die sous daaroor, sit vier van die broodjies in ’n skotteltjie en stap woordeloos by die vertrek uit, na die stal toe. Haar oë daag hom uit om iets te sê, maar hy sug net en gaan by die tafel sit. Nou het die verbrande besoekers nog huismoles ook kom veroorsaak, dink hy grimmig.

Terwyl hulle eet, probeer hy ’n gesprek aan die gang kry, maar dit bly krapperig tussen hulle. Uiteindelik vra hy: “Is die twee darem gemaklik?”

Sy kyk op. Haar oë blits. “Wat gee jy om?”

Hy sluk, en sê dan sag: “Ekskuus, Salome. Ek weet ek moes jou kom help het. Ek is jammer.”

Sy woorde bring ’n effense vertedering in haar houding, maar sy bly strammerig en reageer nie op sy verskoning nie. Na ’n rukkie sê sy: “Ek het ou Blommetjie en Lapoor agter teen die agterste muur vasgemaak, en voor by die deur vars strooi vir die mense oopgegooi vir ’n bed. Dis darem redelik skoon daar.” Sy trek haar skouers op. “Dis nou nie juis ’n paleis nie, maar dis beter as buite op die stadsplein. En die twee is baie dankbaar.”

“Ek sou so dink,” glip dit uit voordat hy kan keer, en driftiger as wat hy wou. Hy wil sy tong afbyt, maar dit is te laat. Die brose vrede is eers weer daarmee heen. Hy gooi ’n bekertjie wyn vir hom in, en vat ’n klein slukkie. Dan staan hy op. “Ek wonder of die mense iets het om te drink,” mompel hy verleë en loop met die kruik wyn na die stal toe.

Die twee is baie dankbaar vir die wyn. “Baie dankie, Meneer,” sê die vrou en glimlag. Haar oë is groot en sag. “Die Here seën jou.”

“Ag, dis sommer niks,” sê hy verleë en maak hom uit die voete. Hy weet glad nie wat hom makeer nie. En hy het hulle nie eers geld gevra vir die wyn nie. Hy sal tog moet uitvind wat Salome gevra het vir die slaapplek. Hulle kan dit tog nie sommer net so verniet vir die mense gee nie, en dit nog met ’n klomp kos en wyn daarby! Dis darem te erg.

“Dankie, Juda,” sê Salome toe hy by die tafel terug is, en haar oë lag weer.

Hy vee met sy hand deur die lug asof dit niks is nie, en sê dan: “Daardie vrou …”

“Haar naam is Maria.”

“Sy is darem nog bitter jonk, weet jy. Skaars groter as ’n kind.”

“Sy is wonderlik. Sy moet bitter ongemaklik wees met daardie swaar lyf, maar sy kla niks. Sy het net so hard soos ek en haar man gewerk om die stal agtermekaar te kry.”

“Wat betaal hulle ons vir die slaapplek?” Hy probeer sy stem neutraal hou, maar daar slaan tog ’n skerpheid deur wat Salome vinnig laat opkyk.

“Ek … Ons het nog nie op ’n prys ooreengekom nie. Ek het gedink ek wil dit maar eers met jou bespreek.”

“Hulle kan nie verniet hier bly nie, hoor. Dink net aan al die kos en drank.”

“Die man het gesê hulle is bereid om gewone herbergtariewe te betaal, maar ek het gedink dit is darem nie reg nie. Maar maak jy maar die prys, dan kan ons dit môre vir hulle sê.”

“Hoe lank wil hulle bly?”

“Die man het gesê dit lyk nie vir hom jy wil hulle hier hê nie. Hy het belowe hulle sal môreoggend weer gaan.”

“Ek bedoel nie hoe lank hulle in die stal gaan bly nie; ek bedoel in Betlehem.”

“Hy het nie gesê nie. Dit hang seker af hoe vinnig hy die registrasie vir die sensus kan afhandel. Hoekom vra jy?” Sy kyk afwagtend na hom, die hoop dat hy van plan sal verander, duidelik op haar gesig.

Juda skud sy kop, vies vir homself omdat hy die onderwerp aangeroer het. Hy wil niks met hulle verblyfreëlings te doene hê nie. Dit is Salome se saak. “Ag, ek het sommer gewonder.” Hy staan van die tafel af op en stap na die agterdeur. “Het jy die helder ster gesien? Dit lyk of hy reg bo-op ons dak skyn.”

Sy stap saam met hom buitentoe. In die nagdonkerte is die glans van die ster nog meer opvallend as vroeër. “Dit lyk byna asof die ster vir ons glimlag,” sê sy verwonderd en vat Juda se hand.

Juda gee haar hand ’n drukkie. Hy weet nie wat dit is nie, maar die sterlig het ’n vreemde uitwerking op hom; maak ’n deernis in hom wakker wat hy nie ken nie. “Ek wonder of die ster iets beteken? Dit voel vir my die ster wil vir ons iets sê.”

Toe hulle later in die bed is, kan hy glad nie slaap nie. Sy gedagtes keer telkens terug na die twee in die stal. Met groot wilskrag dink hy aan ander dinge. Hulle is nie sy probleem nie. Hulle slaap net vannag in sy stal, en dis al. Môre gaan die man ’n ander blyplek soek, en dan is hulle ontslae van die twee.

Hy het net ingesluimer toe hy wakker word van ’n gehamer aan die deur. “Meneer! Meneer Juda! Mevrou Salome! Maak asseblief oop!” hoor hy ’n man dringend by die deur roep, half benoud.

Hy sug, staan dronkerig van die vaak op en gooi sy bokleed om voordat hy na die deur toe strompel. Sy vingers is dom toe hy die grendel oopskuif en die deur oopmaak. Dis al weer die reisiger. Hy staan voor die deur, handewringend. “Ek is jammer ek pla u, Meneer, maar my vrou is in kraam, en ek weet nie wat om te doen nie. Ek ken niemand hierlangs nie. Ek het gewonder … miskien weet u van ’n vroedvrou of iemand wat kan help …”

Dis nou ’n mooi gemors, dink hy, van voor af vies. ’n Geboorte in sy stal, van alle plekke.

Die man moes sy aarseling gesien het, want hy gee ’n tree nader en gryp sy hande vas, dringend. “Asseblief, Meneer, ons moet gou maak. Ek wil nie my vrou te lank alleen los nie. Nie nóú nie.”

Óns, nogal? Óns?

Net toe kom Salome na die deur. “Wat is dit, Juda?”

Voordat hy kan reageer, sê die man: “Mevrou, dankie tog u is hier. Dis Maria. Die geboorte het begin, en ek weet nie wat om te maak nie. Kan u haar nie help nie, asseblief?”

“Hoe lank is sy al in kraam?” wil sy weet.

“Dis al ’n hele ruk, Mevrou. Ek wou nie kom pla nie. Ek het gehoop sy sal kan hou tot die oggend, maar die baba wil nie wag nie.” Hy vryf oor sy hare. “Sy … Ons begin nou benoud raak.”

“Gaan solank terug en bly by haar. Ek wil nie hê sy moet nou ontsteld wees nie. Ek kry net gou die vuur aan die gang vir ’n bietjie warm water, dan kom ek.” Toe hy nog aarsel, sê sy ferm: “Toe, waarvoor wag jy nog? Jou vrou het jou nou nodig. Ek sal kom so gou ek kan, ek belowe.” Sy wag nie op sy reaksie nie, maar draai na Juda. “En jy, vir wat staan jy daar in ons almal se pad? Gaan roep vir Anna, dat sy kan kom help.” En sy boender hulle altwee by die deur uit.

Hy stap wrewelig in die straat af. Dié dag het darem heeltemal anders verloop as wat hy hom kon indink. Wie sou kon raai dat hy in die middel van die nag ’n vroedvrou moet gaan soek, en dit nogal vir wildvreemde mense wat ongevraag by sy huis opgedaag het?

Die huisies glim dof in die helder sterlig. Die nag is half lig, byna soos met volmaan. Voor hy hom kom kry, begin hy draf, skielik ook bekommerd oor die stomme jong vrou in die stal. Hy hoop net alles verloop goed met die geboorte. ’n Begrafnis is al wat hy nog nodig het om sy week finaal op te mors.

Maar toe hy en Anna terugstap, kry hy dit nie reg om langer vies te wees nie. Iewers het die jong egpaar sy hartsnare aangeraak. Of miskien is dit die ster wat met sy kop smokkel. Hy weet nie, maar hy is vreemd opgewonde oor die geboorte. ’n Pasgebore baba in sy eie huis. Miskien sal hy die baba mag vashou, al is dit net ’n rukkie. Hoe lank het hy en Salome nie vergeefs op dié voorreg gewag nie!

Dis ’n seuntjie, ’n dierbare, wonderlike ou pienk bondeltjie wat in sy ma se arms lê. Die vroutjie lê moeg maar gelukkig op haar strooibed, en die man staan trots-dankbaar langs haar en streel oor haar hare. Hy skuif die krip met skoon strooi tot langs haar lêplek. “’n Bedjie vir jou seuntjie,” verduidelik hy. Salome kom langs hom staan, wriemel haar onder sy arm in.

Die vrou kyk op na hom, en glimlag. “Dankie, Oom, vir alles.”

“Ag, ek het niks gedoen nie,” keer hy skamerig, maar voel hoe die behaaglikheid warm in sy hart kom lê.

“Ek sien Oom se vingers kriewel so. Wil Oom Hom in sy bedjie neerlê?” Sonder om op ’n antwoord te wag, lig sy haar Seuntjie na hom toe op. “Sy naam is Jesus,” sê sy toe hy versigtig die bondeltjie by haar neem, bang dat hy iets verkeerd sal doen.

“Jesus?” proe hy aan die naam. “Verlosser?”

Hy het hom dit seker verbeel, maar later kon hy sweer die Seuntjie het net toe sy oë oopgemaak en vir hom geglimlag. En in sy glimlag het hy die hemel gesien.

 


Hierdie is die laaste bydrae vir die jaar. Mag jy ‘n baie geseënde Kersfees beleef!

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.