SIEN JY NOG UIT NA IETS?

Ek onthou nog goed, toe ek jonk was, hoe opwindend elke nuwe ding vir my was – ’n nuwe jaar, ’n nuwe boek, ’n nuwe standerd, en later: ’n nuwe motor, ’n nuwe rekenaar, ’n nuwe selfoon … Elke nuwe ding het my opgewonde gemaak.

Maar ek is nie meer jonk nie. Die opwinding van nuwe goed laat nie meer my hart vinniger klop nie. Dis die hartseer van die lewe, nie waar nie? Dat die opwinding van die nuwe begin vervaag. Jy het dit al beleef, soos die Engelsman sal sê: Been there, done that. Of, as ’n mens nou meer Bybels wil klink, kan jy saam met die Prediker sê: Daar is niks nuuts onder die son nie.

Miskien is daar van julle ook wat al te veel nuwe goed meegemaak het; wat al te veel kere in die lewe teleurstellings beleef het, vir wie die opwinding van die lewe iewers langs die pad verflou en vervaag het. Jy droom nie meer oor die lewe nie. Veral nie nadat die pandemie die meeste van ons drome vir verlede jaar ingesluk het nie.

Droom jy nog? Oor jou huisgesin? Oor jou werk? Oor jou skooljaar? Oor jou toekoms? Oor God? Of het jy opgehou droom, en jy laat maar die lewe oor jou gaan?

 

GOD KAN VIR JOU ’N NUWE TOEKOMS SKEP

As jy só voel, is hierdie Bybelgedeelte spesiaal vir jou bedoel. Want jy hoef nie so moedeloos oor die lewe te wees nie. Maar dan moet jy die lewe op ’n ander manier benader, en dit is met geloof. Geloof in ’n wonderlike God wat vir ons ’n nuwe toekoms skep, ’n God wat Hom nie laat keer deur teleurstellings en doodloopstrate en moedeloosheid en hopeloosheid nie.

Paulus het alles van hierdie nuwe toekoms geweet wat God vir ’n mens kan bewerk. Hy, wat eers ’n vervolger van die kerk was, word die grootste sendeling, want God het hom verander en nuut gemaak. Hy skryf daarvan in ons teksvers: Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword.

 

AS JY AAN GOD BEHOORT, GEE HY JOU ’N NUWE KANS

Jy sien, as God met ’n mens besig is, word jy nuut, splinternuut. Die ou dinge het verbygegaan, hulle het nuut geword. Daarom kan jy die lewe sonder vrees en bewing ingaan, al is jy nie besonder dapper nie, omdat jy glo in ’n wonderlike Here wat vir ons ’n nuwe kans gee om gelukkig te wees, om voluit te lewe, om ons drome te verwesenlik. Ons hoef nie met ’n klomp hartseer bagasie oor die teleurstellings en mislukkings van die verlede onsself voort te sleep nie, want God het die ou dinge weggevee. Dit is verby.

 

GOD MAAK JÓÚ NUUT, ’N NUWE SKEPPING

Maar dis nie net dat God die ou, stukkende verlede wegvee en ons ’n nuwe kans gee, ons as ’t ware ’n nuwe blaadjie laat omslaan nie. Nee, Hy maak óns nuut, oor. Hier staan dit tog: iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe skepping. Christene is anders as ander mense, want, in die woorde van die Here Jesus aan Nikodemus (Joh 3), ons is weer gebore, van Bo gebore, deur God oor geskep deur die werk van die Heilige Gees. In Christus is ons nuwe skeppings, sê Paulus. Hy gebruik hier dieselfde woord wat die Bybel gebruik as dit van die skepping van hemel en aarde vertel. God het ons nuut geskep, oor gemaak, sodat ons al meer en meer soos Christus kan lyk, soos Christus kan optree, soos Christus kan wees. In dieselfde brief, presies een hoofstuk vroeër (4:16) skryf Paulus dat God ons innerlik van dag tot dag vernuwe.

Julle het al seker almal ’n TV-program gekyk waar mense ’n “complete makeover” kry: ’n nuwe haarstyl, ’n nuwe klerestyl, ’n ander bril, nuwe tande … Ek verbeel my daar is op die oomblik so ’n program op KykNet. Maar dis alles kosmeties en uiterlik, want geen mens kan iemand anders se innerlike oor maak nie. Daarom sê ons ook mos: ’n jakkals verander van hare maar nie van streke nie.

MAAR: God kan jou heeltemal oor maak, nuut maak, van vooraf maak. In Christus het die ou jy as ’t ware gesterwe (vers 14). Nou is dit ’n nuwe jy wat saam met Hom uit die graf opgestaan het. Dis wat God in jou doen (vers 18)!

 

FOKUS OP DIÉ GOD WAT NUWE MOONTLIKHEDE BRING

Daarom, as daar nou één droom is wat ek vir myself ten doel stel, is dit dat ek opnuut op God sal fokus: op die God wat nuwe lewe bring waar ek moed opgee, wat nuwe moontlikhede oopmaak waar ek net toe deure sien, die God wat die oue en verkeerde uitvee en vir my nuwe kanse gee. Die God wat ook vir mý nuutgemaak het. Want ek behoort aan Christus, en daarom is ek ook ’n nuwe mens, ’n nuwe skepping.

Mag dit waar wees van ons elkeen, en mag dit waar wees van Petrusburg.

Amen.

image_pdfimage_print

Views: 1490

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.