Prisca is baie lief vir haar man, al was hy in haar ma se oë nog nooit goed genoeg vir haar nie. “Jy het benede jou stand getrou, kind,” het haar ma haar al male sonder tal verwyt. En haar ma is seker reg ook. Want terwyl sy uit ’n ou, gesiene Romeinse familie kom, is Akwila ’n arm Joodse tentmaker uit die provinsie Pontus. Arm, maar dierbaar. As hy sy oë op skrefies trek om die steke met pynlike presiesheid in te ryg, wil sy hom sommer opvreet. Miskien is dit juis omdat hy ’n Jood is dat sy vir hom geval het. Jode is baie anders as Romeine. Hulle dra almal baard, om maar een ding te noem, terwyl haar mense ’n man met ’n baard as barbaars verafsku. Maar Akwila se baard is iets besonders – blouswart, krullerig, dig en vol. Partykeer woel sy haar vingers in die ryk haarweelde vas en trek hom nader, en dan soen sy hom op die kaal kol op sy kop.
Ja, sy is baie lief vir Akwila, en hy vir haar. Hulle vorm saam nogal ’n goeie span, dit moet sy erken. Hy maak die tente en sy sorg dat hy altyd ’n goeie afset het. Daardie kontrak wat sy met die Romeinse offisier beding het, het hulle baie geld in die sak gebring, want soldate het altyd tente nodig, en daar is baie soldate in die Romeinse Ryk. Nie dat hulle welvarend geword nie, maar dit het hulle ’n groot hupstoot gegee. Daarsonder sou dit maar broekskeur gegaan het toe hulle uit Rome moes padgee.
Dis nog ’n rede waarom haar ma haar verwyt: dat hulle nie meer in Rome kan bly nie. “As jy nie teen ons beste raad in met daardie versukkelde Jood gaan staan en trou het nie, kon jy rustig in Rome gebly het soos ek en jou pa,” was haar ma se reaksie op die nuus dat hulle uit Rome moes padgee omdat die keiser dit beveel het. En: “Jode maak moeilikheid so ver hulle gaan, en daar gaan staan en trou jy sowaar met een.”
Haar pa dink nie soos haar ma oor Akwila nie, hoewel hy dit nooit sal waag om voor haar ma so te sê nie. As haar ma tier, swyg hy maar, en kom agterna stilletjies na haar toe en gee haar ’n drukkie. “As jy met die liefde van jou lewe trou, het jy ’n lewe van geluk, my kind,” het hy altyd vir haar gesê. Hoe verlang sy nie na haar pa nie, en hulle is maar net ’n paar maande uit Rome uit weg!
Daar is ’n ander belangrike rede hoekom sy altyd en ewig vir Akwila lief sal bly, baie belangriker as sy statige baard. Hy het haar na die Here Jesus toe gelei. Maar dit is nog ’n saak wat nie by haar ma gewig dra nie, want haar ma is nie erg godsdienstig nie. Sy glo eintlik in niks of niemand nie, hoewel sy dit nie sal erken nie. Al wat vir haar belangrik is, is haar status onder die elite van Rome. Daarom het haar ma haar uitgelag toe sy die eerste keer vir haar vertel het van die nuwe lewe wat sy in Jesus Christus ontdek het. Haar pa het nie, hoewel hy nie ’n Christen geword het nie. Nog nie. Sy bid getrou elke dag dat die Here ook sý hart moet aanraak; dat die gesprekke wat sy met hom gehad het voor hulle uit Rome moes vertrek, op die regte tyd vrug sal dra.
Ja, Akwila, die liefde van haar lewe. Hy het die Here in Jerusalem leer ken, en toe daar vervolgings uitgebreek het, het hy gevlug en uiteindelik in Rome beland. En nou is hulle die afgelope paar maande in Korinte. Hulle al twee werk baie hard om ’n nuwe mark te vestig, en dit gaan elke maand beter. Mense begin al weet van Akwila se tente. Daar kom gereeld iemand by hulle stalletjie ingestap om na die voorraad te kyk, en dis meestal nie te moeilik om die mense te oorreed om ’n tent te koop nie. Akwila verkoop niks. Hy is vreeslik in homself gekeer en gaan liewer ongestoord voort met sy werk agter in die stalletjie onder die afdak. Maar sy ken mense en sy weet hoe om met hulle te werk. As iemand by die stalletjie instap, kan sy kan sommer sien of hy iets sal koop of nie.
Kyk maar na die skraal mannetjie met die groot kop en bakbene wat nou net hier by die stalletjie aangekom het. Sy is seker hy is ’n Jood. G’n mens wat so ’n dun ou baardjie het, sal dit dra as hy dit kan verhelp nie. Dis net Jode wat so erg oor ’n baard is dat hulle ten alle koste dit móét dra. Nogal ’n vreemde gesig wat die man het. Aan die een kant is daar die dun ou baardjie wat boonop al taamlik grys is, en aan die ander kant die woeste swart wenkbroue wat ononderbroke bo sy oë span. Oor sy voorkop en oor die bles op sy kop lê ’n klomp ou littekens wat aan hom ’n streng voorkoms gee. Eens op ’n tyd moes hy erg seergekry het. En siestog, dit lyk of daar fout is met sy oë, want hulle lyk vir haar baie rooi en effens geswel ook.
Sy kan sien hy loop net en kyk. Hy sal nie koop nie; daarvoor is sy bereid om haar reputasie op die spel te plaas. Hy vat aan die tentdoeke, voel met sy vingers oor die nate, loer van naby na die steke – sien hy dalk sleg? – en knik tevrede oor die gehalte van die vakmanskap. Maar koop sal hy nie.
“Mevrou, hierdie tente is werklik goed gemaak,” sê hy vir haar, en hy glimlag.
As hy glimlag, verander sy hele gesig. Dit lyk of die son deurbreek, en voor sy haarself kan keer, vra sy: “Is u ’n Jood?”
Hy knik. “Ek is, ja. In my jong dae sou ek bygevoeg het: ’n Benjaminiet uit die nageslag van Saul, en ’n Fariseër daarby. Maar dit was in my jong dae. Nou,” sê hy en maak ’n skouerbeweging, “is dit alles vir my bysaak.”
Sy weet hy bly stil sodat sy vir hom moet vra hoekom dit bysaak is. Sy ken mense en sy weet hierdie man soek gesels. Daar is ’n honger in hom om te praat. En hoekom nie? Sy hou ook van gesels. Daarom vra sy: “En hoekom, as ek mag vra, is dit nou bysaak? Soos ek die Jode ken, is daar niks wat belangriker is as hulle nakomelingskap van Abraham nie. Dit, en geld natuurlik.”
Die man knik gewigtig en lag nie vir haar grappie nie. “Dis waar. Ons arme ou volkie klou krampagtig vas aan dinge wat van geen blywende waarde is nie.”
“Nou wat is dan van blywende waarde, as dit nie jou kultuur en tradisies en geld is nie?”
Die man steek sy vinger in die lug. “A! Nou kom ons by die eintlike vraag, nie waar nie? Wat is dit wat régtig saak maak in die lewe?”
Hy glimlag vir haar, en sy raak sommer lief vir hierdie vreemdeling. Daar is iets in hom wat jou aantrek, ’n warmte, ’n vrede. Maar sy is nie ’n leëkop-vroumens nie. Sy sal hom verras met ’n antwoord wat hy nooit sal verwag nie. Daarom glimlag sy liefies vir hom en antwoord: “Jou geloof. Dís wat regtig saak maak. Vir my en my man, in elk geval.”
Sy hét hom verras, sien sy aan die uitdrukking in sy oë. “Dis reg! Sê my, Mevrou, as ek so voorbarig mag wees: Wat glo jy?”
Nou gaan sy die man heeltemal onkant betrap, want hy weet mos nie dat sy met ’n Jood getroud is en iets van die Joodse godsdiens weet nie. “Ek glo in die Een van Wie julle profete voorspel het dat Hy sal kom: die Messias.”
“Jesus van Nasaret?” vra hy verras-bly.
Sy knik. “Ek en my man is Christene.”
“Prys die Here!” roep hy uit en gooi sy arms in die lug. “Hy het my na familie toe gestuur!”
“Priscilla? Wat gaan aan? Het jy moeilikheid met klante?” roep Akwila besorg van agter af.
“Nee,” roep sy terug, “maar kom gou hier. Hier is ’n man wat jy moet ontmoet.”
Akwila kom stywerig vorentoe gestap. Hy vryf oor sy lae rug. Die gesit heeldag vang hom soms, veral in die winter as die grond klam is. Gelukkig begin die lentesonnetjie ’n bietjie warmte bring.
Toe Akwila by hulle kom, steek hy vas en word bleek. “Dit kan nie wees nie,” prewel hy sag. Hy gryp sy vrou en trek haar teen hom vas. “Wat soek jy hier, jou verwoester?” sis hy.
“Wat gaan met jou aan, Akwila? Hoekom is jy so onbeskof met hierdie meneer?” vra Prisca.
Akwila trek haar saam met hom terug soos hy van die man af wegskram. “Hierdie man snuffel Christene uit en verwoes hulle lewe. Dis oor hóm dat ek uit Jerusalem gevlug het! Dis rabbi Saul van Tarsus.”
Prisca trek haar asem skerp in. En sy het so pas vir hom gesê hulle is Christene! Maar hy was so vriendelik, so eg belangstellend, dat sy nie ’n oomblik kon dink hy is gevaarlik nie.
Die man maak sy arms oop en glimlag, nie ’n wrede, ek-het-jou-lekker-uitgevang-glimlag nie, maar ’n hartlike, vriendelike glimlag. “Ja,” sê hy, “dis ek. Of liewer, dit was ek, voordat Jesus Christus my voorgekeer het. Ek is nou ook ’n volgeling van Hom. Ek is ook ’n Christen.”
Toe Akwila steeds verder terugdeins, sê Paulus: “Mevrou, vertel vir jou man wat ek netnou gesê het toe jy vir my gevra het of ek ’n Jood is.”
“Hy het gesê in sy jong dae was hy baie trots daarop om ’n Jood te wees, maar nou nie meer nie. Hy sê dis nou vir hom bysaak.”
“Sien? Ek vervolg lankal nie meer die kerk nie. Ek is nou ’n sendeling vir die Here Jesus. Dís hoekom ek hier is. Nie om Christene te vang vir die Joodse Raad nie, maar om heidene te vang vir die Here!”
Akwila vee die sweet van sy voorkop af en kom huiwerig nader. “Sowaar?”
Paulus knik en sê dan met ’n skewe glimlag: “En wat meer is, ek is ook ’n tentmaker. Ek is op soek na ’n Jood genaamd Akwila van Pontus, want ek wil vir hom werk. Hulle sê vir my hy maak die beste tente in Korinte. Ken jy hom dalk?”
Uiteindelik is Akwila weer homself. Hy draai na Prisca en vra: “Wat dink jy, Priscilla? Sal ons die man inneem?”
Prisca glimlag breed en knipoog vir haar man. “Hy sal eers vir ons moet wys wat hy kan doen. Jy het jou reputasie om aan te dink, jy weet.”