Hoe dink jy oor God? Oor waarmee Hy elke dag besig is? Oor wat Hy doen?
Daar is mense wat aan God dink as ’n soort Kersvader, en sy werk is om geskenke uit te deel. Die Franse filosoof Voltaire het by geleentheid, toe hy oor sonde gedink het, gesê: “God sal vergewe. Dit is sy werk.” Vir Voltaire was God die groot, vriendelike, goedige God wat vir almal wil omhels.
Aan die anderkant van die spektrum kry jy weer mense wat in vrees vir God leef, omdat hulle in Hom ’n straffende, toornige God sien, amper soos die kursusleier wat ek in die weermag gehad het. Ons ’n baie eienaardige kursusleier gehad toe ons opgelei is as dienspligkapelane. Ons het die kursus in die kerk gehad, en die kerk het ’n moederskamer met eenrigtingglas gehad, soos die meeste moderne kerke het. Die kursusleier het die gewoonte gehad om in die moederskamer te gaan sit en ons dop te hou. Ná elke lesing het hy dan vorentoe gekom en al die ouens wat volgens hom nie goed genoeg aandag gegee het nie, ingeroep na sy moederskamer, sodat hy hulle kon straf. Dit was nogal ’n erg vreemde gewaarwording – jy weet jy word dalk dopgehou, maar jy kan nie die man sien nie. Daarom moet jy maar die hele tyd in jou spoor trap.
Party mense dink só oor God: as Iemand wat onsigbaar is, maar vir ons dophou en kyk wat ons verkeerd doen, sodat Hy ons kan straf. Daarom maak God se alomteenwoordigheid en alwetendheid hulle bang, voel hulle benoud en beklemd oor die gedagte van God se voortdurende teenwoordigheid. God is vir hulle ’n soort onsigbare mag waaraan hulle nie kan ontsnap nie.
Daar is ook mense wat aan God dink as min of meer afwesig. Hy het alles netjies en klaar beplan, en nou loop die wêreld en ons lewens min of meer outomaties. God is doer ver in die hemel, en kyk van daar af na ons, maar dis nie asof Hy iets in hierdie wêreld gaan doen of wil doen nie. Hy is te ver weg, en daarom raak ons daaglikse stryd en seer en benoudheid en frustrasies, maar ook ons liefde en ons vreugde en ons prestasies, Hom nie regtig nie.
Ek lees die laaste tyd al meer van ’n ander siening: dat God suiwer energie is, die dryfkrag van die heelal; dat God agter alles en in alles is, ook in ons; dat ons nie aan God moet dink as ’n Persoon met wie ons in ’n verhouding kan staan nie, maar eerder as ’n Bron waaruit ons kan put of ’n Krag waarmee ons verenig kan word.
Nie een van dié Godsbeskouings pas eintlik in die Bybelse getuienis oor God in nie. Die Bybelse getuienis oor God is dat Hy ’n persoonlike God is wat by ons is; dat Hy nie wegkruipertjie met ons speel nie, maar deel van ons lewe wil wees as ’n sorgende, liefdevolle en genadige God, ’n God wat die sonde haat maar gou is om sy arms oop te maak vir die berouvolle sondaar.
Kom ons kyk hoe Dawid oor God praat. In Ps 139 wat ons vanoggend gelees het, sê hy dat God alles van jou weet, want Hy is oral. Hoor hoe skryf hy (vs 1): “Here, U sien dwarsdeur my, U ken my,” en in vs. 7-12: “Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom? Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar. Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas. Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek, of die lig rondom my om in nag te verander, maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig.”
As Dawid gedink het God is soos Kersvader, sou hy nie gebid het dat God sy hart moet deurgrond nie (vs 23). As hy gedink het God is afwesig, sou hy nie gebid het dat God hom op die beproefde pad moet lei nie (vs 24). As hy gedink het God is suiwer energie, sou hy nie met Hom hierdie lang gesprek gehad het nie. As Dawid oor God gedink het soos ek oor daardie kursusleier in die weermag gevoel het, sou die wete dat God alles van hom weet en sien, hom baie, baie benoud gemaak het.
Maar dis nie hoe Dawid oor God dink nie. Hy dink aan God as ’n liefdevolle, persoonlike God, ’n God wat vir hom omgee en sorg en voorsien. Daarom raak hy nie bang wanneer hy daaraan dink dat God elke oomblik by hom is en alles weet en sien wat hy doen nie. Dit maak hom nie benoud nie, dit maak hom gerus! Dit laat hom veilig voel! Geborge! Want hy weet: God hou ons nie dop om te kyk waar ons skeef trap sodat Hy ons kan straf nie. Hy kyk na ons om ons te versorg en te beskerm, om ons te help en te ondersteun, om ons kalm te maak as die uitdagings geweldig is en die spanning ondraaglik.
Dawid het verstaan dat God nie ’n gestrenge pretbederwer is nie. Daarom krimp hy nie ineen voor die oog van God nie, maar breek hy telkens uit met ’n loflied! In vs 14 sê hy: “Ek wil U loof … Wat U gedoen het, vul my met verwondering.” En vs 17: “Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal!” Daarom het hy ook vrymoedigheid om hier aan die einde van die psalm te vra dat God tog moet help en lei dat hy op die regte pad kan bly.
Dís wat die engel vir Josef wou sê met sy aankondiging dat die Seuntjie wat Maria in die wêreld gaan bring, genoem sal word: Immanuel, wat beteken: God by ons (Matt 1:23). Hy wou hê Josef en Maria en ons moet verstaan dat God in Jesus in ons lewens en wêreld teenwoordig geraak het, by ons kom bly het. Jesus het self net voor sy hemelvaart hierdie woorde herhaal toe Hy belowe het: “Onthou, ek is by julle al die dae …” (Matt 28:20).
God is nie ’n groot Kersvader wat maar net sit en glimlag agter sy wit baard en heeldag geskenke uitdeel nie. Hy kyk nie daar uit die hemel met ’n skouerophaling na ons asof dit Hom nie kan skeel wat hier aangaan nie. Hy wil ook nie agter ’n ondeursigtige glas wegkruip om ons daarvandaan dop te hou en te veroordeel nie. Hy wil bý ons wees, want Hy het ons lief. Daarom het daar ’n dag aangebreek dat die Seun van God die hemel verlaat het om regtig tot by ons te kan kom hier op aarde, om Immanuel te kan wees.
Het jy dit al ontdek dat Jesus Christus by jou is, al die dae van jou lewe?
Het jy al die wonder beleef dat Jesus Christus Immanuel is, God by ons?
Wanneer jy dít ontdek, kom daar rus in jou hart en vrede in jou lewe. Nie net vandag nie, maar elke dag, tot met die voleinding van die wêreld.
Amen.
Views: 599