GIBEA. – Prins Jonatan se persoonlike sekretaris het bekend gemaak dat die kroonprins vandeesweek op ’n week lange vakansie vertrek het. Alle afsprake met die prins vir die volgende week is gekanselleer.
Die sekretaris wou nie sê waar die prins vakansie gaan hou nie, of wie hom op sy vakansie vergesel nie. Volgens hom was dit die prins se wens om “’n stil vakansie uit die openbare oog” te hê.
Die kantoor van koning Saul het op navrae bevestig dat die kroonprins die koning van sy vakansie in kennis gestel het. Geen reisplanne is egter aan die koning voorgelê nie.
Ingeligte waarnemers is bra skepties oor die prins se geheimsinnige “vakansie”. Volgens hulle is dit hoogs onreëlmatig dat ’n koninklike só skielik en klaarblyklik alleen met vakansie gaan. Hulle spreek die vermoede uit dat die prins ’n geheime besoek aan sy gewese swaer, genl. Dawid seun van Isai, gaan bring het. Dit is bekend dat die twee ’n baie hegte vriendskap het, en daar was ook bewerings destyds toe Dawid verdwyn het dat prins Jonatan hom help ontsnap het.
Intussen kon die koning se spesiale taakmag nog nie die voortvlugtende generaal vastrek nie. Die laaste inligting het daarop gedui dat hy in Keïla skuil, maar “Vlakhaas” Dawid het uit dié stad padgegee net voordat hulle hom kon vastrap. Hy en sy manne skuil vermoedelik nou iewers in die woestyn.
- Lees van Jonatan se “vakansie” in 1 Sam. 23:16-18.
BEGAAFDE SPREKER BESOEK JOODSE GEMEENSKAP
EFESE. – ’n Begaafde spreker met ’n deeglike kennis van die Skrif, Apollos van Aleksandrië, besoek die plaaslike sinagoge vandeesweek.
Die priester Skeva het gesê die Joodse gemeenskap sien baie daarna uit om na sy prediking te luister. Hy sal elke aand tot eerskomende Saterdag in die sinagoge hier aan die woord wees.
Alle belangstellendes is welkom om na hom te kom luister.
- Lees hiervan in Hand. 18:24-28.
JONG RABBI SE DISSIPELTAL GROEI
BETSAIDA. – ’n Jong rabbi van Nasaret, Jesus seun van Josef, is vinnig besig om ’n dissipelkring om hom te versamel.
Die rabbi het onlangs vir die eerste keer na vore getree toe hy hom deur die bekende boeteprediker van die Jordaan, Johannes die Doper, laat doop het. Hulle is blykbaar kleinneefs. Johannes het met die rabbi se doop glo na Jesus verwys as die “Lam van God”. Na dié uitspraak het ’n hele paar van Johannes se dissipels hulle eertydse meester verlaat en Jesus begin volg.
Onder die eerstes wat hulle by die rabbi aangesluit het, is twee broers, Andreas en Simon, en Filippus. Hulle kom al drie van Betsaida.
- Lees hoe hierdie eerste dissipels by Jesus uitgekom het in Joh. 1:35-51.
HALFPRYS-UITVERKOPING
MINIATUURREPLIKAS VAN DIE TEMPEL VAN ARTEMIS.
GEEN HUIS BEHOORT DAARSONDER TE WEES NIE!
DEMETRIUS SE WINKEL
OPWEKKINGSDIENSTE
elke aand in die Sinagoge van Efese
Kom luister na die kragdadige boodskappe van
die bekende prediker
APOLLOS VAN ALEKSANDRIË
Dit kan jou lewe verander!
Almal is welkom.
Ook in die klein dingetjies getrou
Ek kan my nogal voorstel hoeveel Jonatan se besoek vir Dawid werd was. Nie net omdat hy bly was om sy boesemvriend weer te sien nie, maar veral omdat Jonatan hom in sy geloof versterk het “en hom bemoedig (het) in sy vertroue op God” (1 Sam. 23:16).
Dit is dikwels nie die groot dinge nie, maar die klein, onbaatsugtige dade wat in mense se lewe – en in die koninkryk van God – ’n reuse verskil maak. Soos Andreas en Filippus, wat niks meer gedoen het nie as om Petrus en Natanael van Jesus te gaan vertel. Of Akwila en Priscilla, wat vir Apollos die leer van God “nog duideliker” gemaak het (Hand. 18:26). En watter verskil sou Petrus en Apollos later aan die kerk maak! (Kyk gerus in 1 Kor. 1:12 en 3:4-6 hoe groot die statuur van Apollos later in die kerk was.)
Moenie wag vir die groot kans om ’n merk te maak of ’n bres te slaan vir die koninkryk nie. Doen vandag wat jou hand vind om te doen. Jy kan ’n verskil maak!