Oupa Gert sit op ’n stomp onder die groot maroelaboom en kerf aan ’n stuk hout toe ’n klompie kinders voor hom kom sit. “Vertel vir ons van die bos, Oupa!” vra hulle. “Asseblief?”
Oupa Gert glimlag. Hy hou baie daarvan om stories te vertel, en hy knik. “Nou goed, ek sal vir julle vertel van Dodo die apie en Koki die krokodil. Julle weet mos wat is ’n krokodil, nè?”
“Ja, Oupa!” roep die kinders opgewonde uit.
“Maar het julle al gesien hoe groot is ’n krokodil se bek?” Oupa Gert beduie woes met sy hande presies hoe groot ’n krokodil se bek is, en ril. “Ek is baie bang vir ’n krokodil.”
Die kinders se oë rek soos oupa Gert die krokodil beskrywe. Ja-nee, ’n mens moenie met ’n krokodil speel nie, want dis dodelik gevaarlik. “Maar vertel nou van Dodo, Oupa,” vra hulle.
Oupa kerf versigtig verder aan die hout, en dan vertel hy:

Dodo sit op die wal van die groot rivier wat reg deur die hart van die oerwoud loop. Die water vloei sterk en diep en breed. Sy oë bly vasgenael op die oorkant, want dit lyk vir hom baie lekkerder daar as aan hierdie kant van die rivier. Hy kan die goue trosse piesangs aan die oorkant sien, en die rooi-geel van die mango’s blink in die middagson. Dodo lek sy lippe af. As hy maar net aan die anderkant kon kom!
Sy pa Bobo het hom al baie kere gewaarsku om dié droom uit sy kop te sit. “Die rivier is te diep en te gevaarlik, Dodo,” het sy pa gesê. “Jy kan nie anderkant kom nie. Die water vloei te sterk. En buitendien is daar krokodille in die rivier. Hulle sal jou opvreet lank voordat jy aan die anderkant kom. ’n Krokodil se bek is yslik groot. Hy sal jou met een hap sommer heel insluk!” beduie sy pa met sy arms, en sy oë is groot.

“Het julle al ’n krokodil se groot bek gesien?” vra oupa Gert weer.
“Ja, Oupa, vertel nou!” sug die kinders.
“Ek wens Dodo was so slim soos julle,” sug oupa Gert en vertel verder:

Dodo weet nie of hy sy pa kan glo nie. Vir hom lyk die rivier glad nie gevaarlik nie. Dit vloei dan so rustig en saggies by hom verby. En hy het al baie na die krokodille gesit en kyk. Hulle lyk ook nie vir hom gevaarlik nie. Hulle dryf dan so stil deur die water. Eenkeer het hy ’n krokodil glad vir ’n boomstomp aangesien! En ’n boomstomp is mos nie gevaarlik nie.

“Was Dodo reg om so te dink, kinders?” vra oupa Gert.
“Nee, Oupa, maar vertel nou!”

So sit Dodo op die wal van die rivier en dink. Hy sluk ’n paar keer, want net die gedagte aan die heerlike piesangs aan die anderkant laat sy mond water. Hy sal sy pa wys, én vir Toekoe, sy maatjie, want dié is net so bang soos sy pa vir die rivier. Maar hy wat Dodo is, laat hom nie so maklik skrik op die lyf jaag nie.
“Wat loer jy so oor die water, Dodo?” vra ’n stem uit die rivier, sommer hier vlak voor hom.
Dodo skrik hom boeglam. Dis Koki die krokodil wat so stilletjies nader geswem het dat Dodo hom nooit eens gesien het nie! Sy hart klop soos hamerhoue in sy ribbekas, maar hy hou hom dapper. “Nee, oom Koki,” sê hy vir die krokodil, “ek kyk sommer na die lekker piesangs daar aan die anderkant van die rivier.”
“Dit sal darem lekker wees om aan daardie kant van die rivier te kom, of wat dink jy?” vra Koki.
Dodo se aapkoppie wip eintlik soos hy knik. “Ja, oom Koki, ek dink ook so. Maar Oom sal mos weet. Oom kan mos maklik daar kom.”
“Dis wonderlik, Dodo, maar hoekom gaan kyk jy nie self nie?”
“Ek wil baie graag, Oom, maar hoe gaan ek daar kom? Die water loop ’n bietjie te sterk, en buitendien sê my pa ek moet oppas, want die krokodille sal my opeet.” Dodo se stemmetjie bewe, want hy is na aan trane.
“Ag, jou pa praat sommer onsin,” gryns Koki. “Het jy al ooit gesien hoe vang ’n krokodil ’n apie?
Dodo skud sy kop. “Nee, oom Koki, maar my pa sê …”
“Jou pa is sommer net lelik met jou,” onderbreek Koki vir Dodo. “Ons krokodille is eintlik baie gawe kêrels, al dink julle nie so nie. Ek het dan nou spesiaal na jou toe gekom om te kom hoor hoekom jy so treurig lyk. Sou ek dit gedoen het as ek ’n nare ou aapvreter was?”
Dodo skud weer sy kop. “Seker nie, oom Koki.”

Oupa Gert hou die stuk hout waaraan hy kerf, in die lug en korrel met sy oog om te sien of die lyne reg is. Dan vra hy vir die kinders: “Dink julle dis ’n goeie plan om met die krokodil te gesels?”
“Nee, Oupa!”
Oupa Gert knik. “Dis ’n groot fout, kinders.” Dan vertel hy verder:

Koki die krokodil grynslag, en sê so liefies soos wat hy kan: “Ek sal jou na die anderkant toe vat as jy wil. Jy sit net op my rug. Jou pote sal nie eers nat word nie.”
Dodo wip so ’n springetjie terug. “Nee, oom Koki! My pa het gesê ek moet wegbly van die krokodille af.”
Koki skud sy kop treurig. “Jou pa is sommer net ’n pretbederwer. Maar ek sê jou wat: ek belowe ek sal vir niemand sê jy het op my rug gery nie.”
Dodo lek sy lippe af. Hy is darem baie lus vir die heerlike piesangs anderkant die rivier. Haastig kyk hy om om te sien of iemand hom sien, maar daar is niemand nie. Dan sê hy: “Belowe vir my Oom sal nie klik nie.”
Koki knik ernstig. “Ek belowe. Toe spring op, dan vat ek jou gou.”
Dodo kyk nog ’n slag rond, en loop dan versigtig nader. Maar dan steek hy weer vas as hy Koki se verskriklike bek sien. Sy hartjie klop woes. “Netnou vreet Oom my op as ek eers op Oom se rug is,” stotter hy.
“Ag nee, ek sal dit nooit as te nimmer doen nie! Ek belowe ek sal jou nie seermaak nie. Toe, klim nou op, voor iemand anders ’n plan maak en al jou piesangs opvreet.”
Dodo klouter haastig op die krokodil se rug. Hy ril effens as hy die klam, koue skubbe van die krokodil onder sy pote voel, maar dan dink hy weer aan die piesangs, en hy glimlag. “Ek is op, oom Koki. Oom kan maar laat waai!”
Koki gly stadig die water in, en daar gaan hulle.
Net toe kom Dodo se beste maatjie Toekoe daar aan. “Dodo, wat maak jy?” gil hy benoud. “Spring af van die krokodil se rug. Hy gaan jou opvreet!”

Oupa Gert sit sy mes neer en kyk na die kinders wat groot-oog na sy storie luister. “Wat dink julle moet Dodo doen?”
“Hy moet dadelik afspring, Oupa, voor dit te laat is!” roep Christo, een van die seuntjies.
“Ek stem saam. Maar Dodo is ’n baie eiesinnige apie.”
“Wat beteken ‘eiesinnig’, Oupa?” vra een van die ander.
“Dit beteken hy maak net soos hy lus het en hy luister nie na goeie raad nie.”
“Dan het hy seker nie afgespring nie,” sê Anneke, ’n jong dogtertjie, teleurgesteld.
Oupa skud sy kop. “As ’n mens dink jy weet beter as ander, gaan dit maar sleg,” sê hy.

Toekoe hardloop heen en weer op die wal en swaai en beduie woes met sy aap-armpies. “Spring af, Dodo!” skreeu hy oor en oor.
Teen dié tyd is Dodo glad nie meer skrikkerig vir Koki nie, en hy kom kordaat regop op die krokodil se rug. “Jy is net jaloers omdat ek die lekkerste piesangs gaan kry,” skreeu hy terug.
“Nee, Dodo, die krokodil gaan jou opvreet!”
“Is nie. Jy is net jaloers, want ek ry tog lekker op oom Koki se rug en jy nie, whê la kepêla,” koggel Dodo.
“Spring af, Dodo! Kom terug voor dit te laat is,” kerm-huil Toekoe op die wal.
“Ou bangbroek, ou bangbroek,” bly Dodo ewe grootbek koggel.
Toe Koki in die middel van die rivier kom waar die water diep en sterk vloei, hou hy op met swem. Skielik is Dodo nie meer so dapper nie. “W … Wat maak Oom nou?” vra hy versigtig, en hy kruip agtertoe, na die krokodil se stert, weg van daardie vreeslike bek vol skerp tande.

Oupa krap sy ken. “Was dit maklik om op die krokodil se rug te kom?” vra hy.
“Ja, Oupa. Maar dit was verkeerd!” roep die kinders in ’n koor.
“Kon hy weer daar afklim toe hy eers op was?”
Thandi skud haar kop. “Hy moes glad nie opgeklim het nie.”
“As hy dadelik weer afgespring het, kon hy dalk weggekom het,” sê Christo en sluk, want hy voel skielik bang. “Maar nou is dit te laat.”
Oupa Gert knik.

Dodo skuif al verder agtertoe, totdat hy later bo-op Koki se stert sit. Sy hele lyfie bewe, so bang is hy. “Oom Koki het belowe,” prewel hy.
Koki maak sy bek oop. Dis net rye tande waar jy kyk. “Ek het belowe, ja, maar het jou pa nie vir jou gesê jy kan ’n krokodil nooit glo nie?”
Toe swiep hy sy stert met Dodo en al, en daar trek Dodo die lug in. Toe hy afkom, gaan Koki se groot bek wyd oop en klap weer toe. Net Dodo se klein armpies steek weerskante by sy bek uit.

Die kinders is doodstil, te verslae om te praat.
“Weet julle wat ou Koki se regte naam is?” vra oupa Gert. “Sy naam is SATAN.”
Christo krap sy kop. “Satan, Oupa? Wie is dit?”
“Satan is ’n ander naam vir die duiwel,” antwoord Oupa. “Die Here sê in die Bybel vir ons: ‘Onthou, Satan is soos ’n wilde dier wat by jou deur lê: hy lê jou die hele tyd en dophou, want hy wil jou opvreet.’”
“As die duiwel na my toe kom, gaan ek weghardloop so vinnig soos wat ek kan!” sê Thandi beslis.
“Ja,” stem Christo saam. “Dis net dom apies wat dink die duiwel kan jou niks maak nie.”
Oupa glimlag en hou die stuk hout op waaraan hy die hele tyd gekerf het. Toe sien die kinders eers dis ’n kruis. “As ons vir die duiwel weghardloop en by die Here Jesus wegkruip, is ons veilig, want Hy het die duiwel gewen op Golgota. Hy sal julle help.”

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.

Pin It on Pinterest

Share This