Van ons Nuwe Testament redaksie
JERUSALEM. – ’n Komplot om die bekende Christen-sendeling Paulus van Tarsus te vermoor, is gister hier op ’n perskonferensie deur die bevelvoerder van die Romeinse garnisoen onthul. Volgens inligting wat die kommandant verstrek het, het meer as veertig fanatieke Jode saamgesweer om nie te eet of te drink voordat Paulus dood is nie. Die priesterhoofde en familiehoofde, almal lede van die Joodse Raad, is na bewering ten nouste hierby betrokke.
Paulus is drie dae gelede so byna-byna op die tempelplein vermoor. Sy lewe is egter gered deur die vinnige optrede van die polisie. Eergister is hy toe op aandrang van die bevelvoerder van die garnisoen deur die Joodse Raad verhoor. Dié verhoor het egter in chaos geëindig toe lede van die Raad met mekaar begin stry en selfs handgemeen geraak het, sodat die polisie ’n tweede keer moes ingryp om Paulus se lewe te red. Gister het meer as veertig Jode na bewering byeengekom en saamgesweer om Paulus te vermoor. Hulle het die priesterhoofde en familiehoofde oorreed om namens die Joodse Raad weer ’n ontmoeting met Paulus by die kommandant aan te vra. Die plan was dat hulle Paulus in ’n lokval op pad na die raadsaal sou vermoor.
Die kommandant wou nie bekend maak hoe die komplot aan die lig gekom het nie. “Ons het hier met ’n gewetenlose faksie te doen, en ek kan maar net dink wat kan gebeur as hulle uitvind wie hulle planne gedwarsboom het,” het hy gesê.
Ter wille van sy eie veiligheid is Paulus gisternag inderhaas na Sesarea gebring. Die verhoor sal daar deur goewerneur Feliks behartig word.
Intussen laai die woede en verontwaardiging oor die optrede van die familiehoofde en priesterhoofde op. Leiers van die Christelike kerk het die aangeleentheid as “skandalig” en “skokkend” beskryf en daarop gewys dat Paulus niks gedoen het wat selfs naastenby voor die Joodse Wet strafbaar is nie. Ook lojale Jode eis dat die hoëpriester Ananias die sameswering in die openbaar moet veroordeel, aangesien die hele Joodse Raad nou onder verdenking staan.
Die hoëpriester het tot dusver egter die swye bewaar, en het ook geweier om aan Bybelkoerant ’n onderhoud toe te staan.
- Lees hiervan in Hand. 23.
KONING SAUL ONTMOET DAWID IN GEHEIM
– dalk die begin van versoening?
Van ons Ou Testament redaksie
EN-GEDI. – Koning Saul het op ’n perskonferensie laat gistermiddag hier bekend gemaak dat hy sy vervreemde skoonseun, Dawid ben Isai, vroeër dié dag in die omgewing van Klipbokrotse ontmoet het. Die ontmoeting was ’n poging om die breuk wat daar tussen hulle ontstaan het, te heel.
Die koning het gesê hy glo daar is ’n begin gemaak in die versoeningsproses, maar bygevoeg dat verdere ontmoetings nodig sal wees om al die probleme uit te stryk. Hy wou nie uitbrei oor die aard van dié probleme nie.
Toe ’n joernalis dit aan koning Saul gestel het dat drie afdelings elitetroepe wat hy saamgeneem het vir die ontmoeting die hele ekspedisie eerder laat lyk na ’n poging om Dawid te vang, het hy geantwoord: “As ek Dawid wou vang, sou ek nie met leë hande teruggekeer het nie. Ek het bloot gegaan om hom terug te nooi. Hy is immers my skoonseun en my knapste generaal,” het hy gesê.
Gelukkig is die vredemakers (Matt 5:9)
Die Bybel is vol daarvan: mense wat probeer om hulle probleme op te los deur die mense wat die “oorsaak” van hulle probleme is, te neutraliseer: Kain vermoor Abel, Jakob bedrieg Esau, Saul probeer Dawid om die lewe bring, die Jode maak ’n aanslag op Paulus se lewe.
Die laagtepunt in hierdie soort oplossing bereik die mensdom toe die Seun van God op Golgota uit die weg geruim word.
Helaas, dit is soos die mens in wie die Gees van God nie die beheer het nie, optree. In Gal. 5:20 en 21 spel die apostel dit vir ons uit: “… vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns …”
In die optrede van Dawid sien ons dat daar ’n ander opsie is: dié van versoening. Dawid het geen geleentheid verby laat gaan om sy goedgesindheid teenoor Saul te toon nie. Daarom weier hy konsekwent om Saul leed aan te doen, al was hy meermale in die posisie om dit te doen.
Dawid se geheim? “Die Here sal sorg en my saak behartig … (1 Sam. 24:16). Vertrou jy God só?
Views: 6