Jy het seker ook al dié vraag gevra of gehoor: Hy was ’n baie goeie mens, maar het nie Jesus bely nie. Gaan hy hemel toe?
Toe ek nog ’n jong dominee was, was hierdie ’n maklike vraag om te antwoord. Natuurlik nie, sou ek destyds dadelik gesê het. Jesus het tog uitdruklik in Johannes 14:6 gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.” Watter onduidelikheid kan daar dan tog wees?
Ruimte vir God se oneindige genade
’n Gebeurtenis wat my sekerheid oor hierdie saak hewig geskud het, was ’n begrafnis. Die oom was ’n korrelkop, het nooit sy voet in die kerk gesit nie, en het nie eens ’n Bybel besit nie. Net voor die diens wou sy seun by my weet of sy pa in die hemel is. Maklik, sou jy seker sê. So ’n ou kan mos nie in die hemel kom nie? Maar dit was net voor die begrafnisdiens, en ek het taamlik gesukkel om vir die seun so saggies moontlik te sê ek dink nie sy pa is in die hemel nie. Ek het gedink die saak is daarmee afgehandel, maar ’n jaar later kom die seun by my aan en sê hy loop nou al ’n jaar met ’n groot seer in hom oor die manier waarop ek sy pa se begrafnis hanteer het. Hy het nie verwag ek moet kategories verklaar sy pa is in die hemel nie, maar, sê hy, die manier waarop ek gepraat het, het nie ruimte gelaat vir God se oneindige groot genade nie. Wie weet, miskien het die genade van die Here tog iewers langs die pad ook sy pa aangeraak.
Inderdaad. Wie weet wat in ’n ander se hart omgaan? En wie is ek en jy om te besluit dié een gaan hemel toe en daardie een nie? Of om grense aan die wonderlike genade van God te stel?
Tel al die goeie dinge dan niks?
Maar wat nou van daardie dierbare, wonderlike man wat baie meer as wat jy ooit kan, vir ander gedoen het? Hy het nou wel nie Christus as sy Verlosser bely nie, maar sy werke spreek tog boekdele, dan nie? Sal ’n God van liefde só ’n goeie mens na die ewige verdoemenis stuur? Tel al die goeie dinge wat hy op aarde gedoen het, dan niks by God nie?
Hier moet ons versigtig trap, want wie kan vir God besluit wat Hy moet en nie moet doen nie? Ons wéét gewoon nie hoe wyd God se genade loop nie. Al wat ons weet, is wat Hy in sy Woord vir ons gegee het. En op grond van dié Woord het die kerk deur die eeue bely: buite Christus is daar geen verlossing nie. Daarom dat mense soos Paulus en talle en talle sendelinge na hom, tot op vandag, hulle lewe daaraan gewy het om die boodskap van verlossing in Christus aan die mensdom te verkondig. Want jou dade, hoe goed ook al, kan jou nie red nie. Net Christus kan dit doen. (Lees gerus wat Paulus hieroor skryf in Romeine 9:30-10:15.)
Sendingwerk
Die rede hoekom die kerk van die begin af sendingwerk gedoen het, is duidelik: die Here Jesus self het dit beveel. Sy laaste opdrag voor Hy terug hemel toe is (Matteus 28:19) was: “Gaan dan na al die nasies en maak die mense My dissipels …” Want mense, so leer Paulus ons in Romeine 1-3, is goddeloos. Al is dit so dat daar mense is wat deur die genade van die Here mooi eienskappe soos minsaamheid en erbarming teenoor ander openbaar, staan oor elke mens buite Christus om geskryf: “Almal het gesondig en is ver van God af …” (Romeine 3:23). En ’n paar verse later sê Paulus uitdruklik dat ’n mens in die regte verhouding tot God kom enkel en alleen deur die verlossing in Christus, as jy in Hom glo. Daarom kan jy nie op jou werke staatmaak nie (vers 27).
Dít is die boodskap van die Bybel, en dit is al wat ons weet. Dat God se Raad meer is as wat ons verstaan, is sekerlik so. Ons ken maar ten dele. Maar ons kan (mag!) nie méér of ánders praat oor God se verlossingsplan as wat God in die Bybel vir ons gee nie. Prof. Willie Jonker haal Deut. 29:29 in dié verband aan: “Wat verborge is, is die Here, ons God, se saak; wat geopenbaar is, is altyd vir ons en ons kinders van belang, sodat ons die woorde van hierdie wet kan uitvoer.” (2020-vertaling)
Prof. Dirkie Smit van Princeton Teologiese Seminarium sê ons is met die verkeerde vraag besig as ons vra of iemand wat ’n goeie lewe gelei het, hemel toe gaan al het hy nie Christus bely nie. Hy sê ons moet eerder sê: Hoe jammer dat hy Jesus nie geken het nie! Dan sou ons nie gewonder het of God dalk in sy genade iewers vir hom ’n plekkie sal hê nie. Dan het ons mos gewéét die Here Jesus het ook vir hom in die Vaderhuis gaan plek berei, soos Hy in Johannes 14:2 belowe. En dink net hoeveel heerliker sou sy lewe nie gewees het as Christus hom nuutgemaak het nie!
Views: 80