Voor Skriflesing
Kom ons wees eerlik: die lewe is nie deesdae alte plesierig nie. Die pandemie raak ons almal ingrypend. Hier sit ek en Elmien in ’n leë kerk en neem ’n erediens op, want ons mag nie kerk hou soos ons graag wil nie. Die gemeenskap van gelowiges, wat so ’n integrale deel van die erediens is, kan nie só tot sy reg kom nie.
Wat maak jy as dit só gaan? Hoe raak dit jou, die manier waaroor jy dink, die goed waaroor jy praat? En belangriker nog: hoe moet ons daarop reageer? Wat is my en jou roeping in Suid-Afrika, in ’n land wat al hóé lank sukkel met nasiebou en ernstige maatskaplike en ekonomiese probleme, en boonop swak politieke leierskap? ’n Regering wat verward rondpik oor die hantering van die pandemie en die entstof …
Wat die maklikste is om te doen, is om te kla oor hoe sleg dit gaan. Om rassisties te word. Om vinger te wys.
Dit kos nie juis geloof om dit te doen nie. En – erger nog – dit gaan niks in ons land verander of beter maak nie. Ons roeping is tog om sout vir die aarde te wees, en lig vir die wêreld. Om ’n verskil te maak waar ons woon en werk. Om anders te wees as al die ander, te alle tye, maar juis in ’n tyd soos hierdie.
Dis hiermee wat Jakobus ons kan help. Kom ons lees Jak 1:2-8.
Boodskap
Jakobus skryf aan medegelowiges wat baie swaar kry. Hulle is verspreid oor die wêreld (vers 1), waarskynlik deels te wyte aan die vervolging van die Christene in die vroeë kerk. As jy vir hulle gevra het hoe dit gaan, sou jy heel moontlik ’n antwoord gekry het soos: “Dit help nie om te kla nie,” of “Nee, ek hou maar uit,” of “Ag, so-so” of “Arm maar geduldig.”
Jakobus sê as dit só met jou gaan, moet jy bly wees! Om die waarheid te sê, hy sê jy moet baie bly wees (vers 2) wanneer allerlei beproewings oor jou kom. Die 1953-vertaling vertaal dit met louter vreugde en die 2020-vertaling met groot vreugde.
By die eerste hoor van hierdie uitspraak wil ’n mens hande in die lug gooi. Hoekom op aarde sal jy nou bly wees, wat nog te sê van baie bly, oor die beproewing wat jou getref het? Wie sal nou bly wees as die land in die drein afspoel? Maar dis nie wat Jakobus bedoel nie. Hy sê nie jy moet bly wees oor die beproewing self nie. Jy moet bly wees, sê Jakobus, want as jy die beproewing reg hanteer, gaan dit lei tot geestelike groei. Jy kan dit ook só stel: Jy moet bly wees, omdat jy weet dat God die beproewing gaan gebruik om jou geestelik sterker te maak. Jakobus sê jy moet in die swaarkry wat jy beleef, ’n toets vir jou geloof sien (vers 3). Jy moet opgewonde wees omdat God besig is om jou te vorm en die beproewings daarvoor inspan.
Natuurlik is dit nie so eenvoudig soos dit nie. Die Here verwag nie van ons om te sê: “Prys die Here, ek het ’n beproewing!” en dan sit jy armpies gevou agteroor en wag dat iets moet gebeur nie. Die sleutel lê in die manier waarop jy jou beproewings hanteer: met geduld, met blymoedigheid, met volharding, sê Jakobus.
Mens kan ook sê jy moet in jou beproewing na die Here opkyk en jou hulp van Hom verwag, in sý krag jou swaar hanteer. Want na die mate dat jy jou oog op die Here vestig, na dié mate ontdek jy hoe Hy voorsien en sorg in jou nood. En, voeg Jakobus by, so kom ’n mens tot volle geestelike rypheid; só groei jy in jou geloof.
’n Mens kan in jou beproewing moedeloos in ’n bondeltjie gaan sit en wens dit gaan verby. Of jy kan kwaad raak vir die Here wat so ’n ding oor jou gebring het. Of jy kan jou oë optel na God en jou vertroue op Hom stel vir wysheid om deur die krisis te kan kom. In dié verband is daar ’n wonderlike belofte in hierdie gedeelte. Hier staan: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.”
’n Mens moet gelowig bid, met verwagting en gewilligheid om God se leiding te volg. God sê nie net: “Byt vas!” en dan verwag Hy van ons om aan te gaan nie. Hy wil ons help en ondersteun en deur sy Gees lei, en daarvoor mag ons bid. God wag as ’t ware dat ons in die gebed na Hom sal kom vir raad.
So, die gebed in jou nood is nie dat God met ’n towerstaffie jou probleme sal wegvee nie (dis óók ’n ingesteldheid wat ons sal moet leer om te los), maar dat Hy jou sal lei en help om te weet wat om in jou beproewing te doen. Dis tog wat die Gees wil wees: ons Leidsman wat ons in die hele waarheid wil lei.