Luister ’n bietjie hoe klink dit as mense dink hulle kan sommer net sit en musiek maak: Speel die video Also sprach Zarathustra van Richard Strauss.

In 1 Kor 13 sê Paulus dat ons lewens ook musiek moet maak. Maar, sê hy, as ons nie oppas nie, gebeur dit maklik dat jy nie musiek maak nie, maar net ’n klomp geraas (vs 1), soos die orkes waarna ons sopas geluister het.

Nee. Gelowiges moenie geraas maak nie. Hulle lewens moet musiek maak, en nog belangriker, hulle moet saam musiek maak, soos wat in ’n simfonieorkes gebeur.

In ’n simfonieorkes kry ’n mens natuurlik baie verskillende soorte musiekinstrumente: die strykers (viole en altviole en tjello’s en kontrabas), die koperblasers (trompette, skuiftrompette en horings); die houtblasers (klarinette, hobo’s, dwarsfluite); die slagwerk (tromme, simbale ens.). Die instrumente verskil nogal baie van mekaar, nie waar nie? As jy nie geweet het nie, sou jy nooit kon raai dat daardie instrumente saam mooi musiek sal kan maak nie. As jy hierdie instrumente aan mense gee wat dit nie kan speel nie, klink dit nogal erg, soos ons netnou gehoor het. ’n Viool kan maklik kerm, ’n klarinet skwiek weer te naar, en ’n trompet in die hande van ’n swak speler is ’n nagmerrie. Tog, as die mense wat die instrumente bespeel, hard oefen, hulle oë op die bladmusiek voor hulle hou en ook die dirigent se instruksies volg, kom daar uit daardie onwaarskynlike instrumente hemelse musiek te voorskyn.

Ons is almal spelers in die Here se orkes. Ons het elkeen ons eie gawes en persoonlikheid van die Here gekry. En ons moet saam musiek maak.

Nou sê Paulus in 1 Kor 13 dat ’n mens nie musiek maak nie, maar geraas as jy nie reg speel nie. Musiek werk net as almal dieselfde bladmusiek voor hulle het, gereeld oefen, en die dirigent dophou.

En hier, in 1 Kor 13, lees ons van die bladmusiek wat vir dié hemelse musiek gebruik moet word: bladmusiek gekomponeer deur die Dirigent van die skepping: die Here God self. Kom ons noem dit: God se liefdesimfonie.

Die liefde waaroor dit hier gaan, is nie ’n gevoel of emosie nie. Die liefde wat hier ter sprake is, is ’n lewenstyl volgens die bladmusiek van die lewe wat in die hemel gekomponeer is. Dis nie iets wat ’n mens vanself het nie. Dis ’n lewenshouding en lewenstyl waarvoor ’n mens moet kies, soos jy ’n musiekstuk uitkies, en wat jy dan jou lewe lank moet inoefen soos jy vir ’n konsert instudeer.

Die bladmusiek van die liefdesimfonie is heel eenvoudig. Dit het net 7 mate (vers 4-7). Maar moenie julle misgis met sy eenvoudige melodie nie. Want julle sal gou uitvind: dis nie so maklik om dit saam te speel nie.

♬ Die eerste maat van die bladmusiek klink só: Om lief te hê, beteken om geduldig en vriendelik te wees.
Liefde bly geduldig, liefde gee om,

♬ Die tweede maat sê: Om lief te hê, beteken om goeie dinge aan ander te gun en nie te spog en hoogmoedig te wees nie.
liefde is nie jaloers nie, spog nie, en is nie verwaand nie.

♬ Die derde maat lui: ’n Mens wat ander liefhet, is nie onmanierlik nie en dink nie net aan homself nie.
Liefde tree nie onbehoorlik op nie, jaag nie eiebelang na nie,

♬ Die vierde maat lui: ’n Mens wat ’n ander mens liefhet, word nie gou kwaad nie.
is nie liggeraak nie.

♬ Die vyfde maat klink so: Mense wat ander mense liefhet, hou nie boek van die onreg wat die ander aan hulle doen nie.
Dit hou nie boek van die kwaad nie,

♬ Die sesde maat: Oor verkeerde dinge kan die liefde nooit gelukkig wees nie. Dis net die waarheid wat hom gelukkig maak.
is nie bly oor onreg nie, maar is saam bly oor die waarheid.

♬ Die sewende maat is die finale: As jy liefhet, kan jy foute vergeet, kan jy die beste dinge oor ander glo en die beste van ander verwag en nooit ophou om lief te hê nie.
Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verduur alles.
Liefde faal (vergaan) nooit nie.


Nouja, nou het ons die bladmusiek en ons kan dit tuis goed ingestudeer. Dis nie ’n slegte idee om 1 Kor 13 elke week weer ’n keer te lees nie! Maar dit beteken nog nie dat ons saam mooi musiek gaan maak nie. Daar is nog twee vereistes voordat ’n klomp musici, hoe goed hulle ook al is, saam musiek kan maak:

∙ hulle instrumente moet gestem wees. Voor elke uitvoering staan die konsertmeester eers op om die noot te gee waarop almal hulle instrumente moet stem, anders speel die orkes vals.

∙ hulle moet die dirigent volg. Elkeen kan nie op sy eie tempo speel nie.

Dis wat ons hier in die kerk doen. Elke Sondag kom kry ons as ’t ware die noot sodat ons nie vals speel nie. En ons oë word weer opnuut op die Dirigent, Jesus Christus, gefokus, wat vir ons wys hoe die liefde regtig geleef moet word. Dis veral wat die Here Jesus met die Nagmaal wil doen: ons oë weer op Hom fokus, op sy groot liefde vir ons, op sy bloed wat vir ons gevloei het en sy liggaam wat vir ons gebreek is.

Dink net watter magtige simfonie sal daar vanuit Petrusburg opklink as ons almal met oorgawe die liefde van ons hemelse dirigent, Jesus Christus, navolg!

Luister hoe klink dit as daar reg gespeel word: Also sprach Zarathustra van Richard Strauss

image_pdfimage_print

Views: 79

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.