Van ons Filistynse korrespondent
GAT. – Koning Akis het gister op ’n nuuskonferensie hier bekend gemaak dat die ganse Filistynse leër ’n gesamentlike aanval op Israel gaan loods.
Die besluit om oorlog teen Israel te verklaar, is vroeër vandeesweek op ’n spitsberaad van die “Groot Vyf’, soos die Filistynse konings bekend staan, geneem. “Saul seun van Kis het in die laaste tyd net te astrant na ons sin geword, en ons het besluit om hom met ’n ystervuis plat te slaan,” het hy gesê. Oproep-instruksies is reeds na al die weerbare manskappe in Gat gestuur.
Koning Akis het by dieselfde geleentheid ook bekend gemaak dat hy die uitgeweke militêre strateeg van Israel, Dawid seun van Isai, die gesogte taak gegee het om na sy persoonlike veiligheid om te sien. Dawid en sy 600 gewapende manskappe is ’n gedugte bondgenoot vir enige koning, en hy voel baie gelukkig dat hy daarin kon slaag om sy dienste te bekom, het die koning gesê. Hy het gesê Dawid het in die afgelope sestien maande sy onvoorwaardelike lojaliteit jeens hom persoonlik, en vir die Filistynse saak in die algemeen, getoon. Hy het vanuit Siklag talle aanvalle op die vyande van die Filistyne geloods en sodoende die hele ryksgebied van Gat beveilig.
Nie almal is ewe entoesiasties oor Dawid se aanstelling in so ’n invloedryke pos nie. Die episode enkele jare gelede, toe Dawid in Gat kom skuil het – hy was toe ook op vlug vir Saul – is daarvoor nog te helder in die geheue. “Ons het tóé die indruk gehad dat hy mal is, en hom daarom met rus gelaat. Kan ’n mens jou lewe verlaat op iemand met ’n onstabiele persoonlikheid?” het ’n militêre offisier wat nie sy naam genoem wil hê nie, gevra, en bygevoeg: “As hy destyds net voorgegee het om mal te wees, wat ek nogal geneig is om te glo, beteken dit dat hy ons reeds een keer bedrieg het. Watter waarborg het ons dat hy dit nie weer sal doen nie?”
- Lees hiervan in 1 Sam. 27:1-28:2. Kyk ook na 1 Sam. 21:10-15.
BRAND EIS TALLE LEWENS
TABERA. – Die nomadiese Israelitiese woestynstamme het vandeesweek hier ’n krisis beleef toe ’n deel van die kamp aan die brand geslaan het. Etlike honderde mense het in die brand omgekom.
Teen druktyd was die oorsaak van die brand nog nie bekend nie.
- Lees hiervan in Num. 11:1-3.
Hebreërs vee alles voor hulle plat
HASOR. – In ’n demonstrasie van ongekende krygsvernuf is die invallende Hebreërs besig om alles en almal in hulle pad af te maai.
Die jongste vesting wat voor die aanstormende troepe van genl. Josua ben Nun geval het, is die eens magtige stad Hasor in die noorde van Kanaän. Vandag bly daar net smeulende as oor waar daar verlede week nog ’n florerende stad gestaan het. Nie ’n enkele sterfling het die verwoestende aanval oorleef nie, en selfs die vrouens en kinders is gedood.
Klaarblyklik het Josua Hasor ekstra swaar gestraf omdat koning Jabin van Hasor die argitek was van die magtige koalisie van Noord-Kanaänitiese state wat die Israeliete by Meromwaters die stryd aangesê het. Die ganse leërmag van dié koalisie is egter in die Slag van Meromwaters uitgewis.
- Lees van Josua se verowerings in Jos. 11.
Geweld in die Ou Testament
Enige mens wat deur die Ou Testament blaai, voel ongemaklik met die gewelddadigheid van die boek. Die berigte oor oorlog, moord en doodslag is nie die soort leesstof wat ons in die hande van ons kinders wil sien nie. Wat die saak nog meer kompliseer, is die feit dat God by baie van dié insidente direk betrokke is. Trouens, Hy stuur nie net rampe soos dié by Tabera nie; Hy beveel soms selfs die banvloek, soos by Hasor.
As ons die probleem afmaak met ’n “dit was maar so gewelddadig in die ou tyd”, mis ons die punt. Want oor elke oorlog en elke ramp hang die skadu van die dood, skreeu dit uit dat die mens misluk het, dat God soms op harde maniere moet ingryp om die geloof – die mensdom! – behoue te laat bly.
Daarom mag ons nooit gewoond word aan doodslag en geweld nie. Dawid, hoe goed hy ook al was, het hom hieraan skuldig gemaak. Vir hom was menselewens alte goedkoop, soos 1 Sam. 27 illustreer. Dawid het inderdaad “bloed in strome laat vloei” (1 Kron. 22:8), en dit het hom ongeskik gemaak om Gods tempel te bou.
Ook vandag sal daar konfliksituasies wees. Kom ons oorwin dit, nie met mag en geweld nie, maar met die liefde van God! Hy het dit immers in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het (Rom. 5:5).
Views: 15