Jannie het die Sondag ná die Sondagskool by die huis gekom, en toe vra sy ma vir hom wat het die juffrou vir hulle in die klas vertel. Hy vertel toe dié storie. Hy sê die juffrou het vir hulle vertel van Moses en die Israeliete by die Rietsee. Hy sê Moses en die Israeliete was daar in die woestyn, teen die Rietsee vasgekeer, toe hulle die Egiptenare op hulle sien afstorm met hulle strydwaens en soldate. Die Israeliete was baie bang, maar toe pluk Moses sy selfoon uit en ontbied die ingenieurs. Hulle bou toe gou ‘n brug oor die Rietsee, en toe kon al die Israeliete die Rietsee veilig oorsteek. Maar net toe hulle aan die ander kant kom, jaag die Egiptenaars met hulle strydwaens en perde ook oor die brug. Moses pluk toe weer sy selfoon uit, en hy ontbied sy bomwerper-vliegtuie. Die vliegtuie kom toe daar aangejaag, en hulle skiet die brug uit mekaar met hulle bomme. Toe verdrink al die Egiptenaars, en die Israeliete was baie bly.

Jannie se ma kon haar ore nie glo nie, en sy vra vir Jannie: “Maar het die juffrou régtig dié storie vir julle vertel?” Toe sê Jannie: “Nee, Ma, sy het nie die storie heeltemal só vertel nie, maar as ek vir Ma moet sê wat die juffrou gesê het, sal Ma my nooit glo nie.”

Jannie het maar net gedoen wat ons almal so graag doen: die boodskap van die Bybel aanpas en laat inpas in ons eie wêreld. Want laat ons maar eerlik wees: die evangelie is ’n vreemde verhaal, so totaal anders as waaraan ons in die gewone lewe gewoond is. Dit vertel dat die God van die heelal na hierdie aarde gekom het, maar Hy word nie in ’n paleis verwelkom nie; Hy word in ’n stal gebore as seun van ’n eenvoudige egpaar. Dit vertel van ’n Leermeester wat stories vertel het; ’n Leier wat sy dissipel tereggewys het toe hy Hom met die swaard wou verdedig. Dit vertel van ’n Koning wat nie eens ’n huis gehad het nie, wat nog te sê ’n paleis; wat nie op ’n strydros nie, maar op ’n donkie ry, en uiteindelik as ’n vervloekte misdadiger gesterf het. Darem met die ironiese kennisgewing bokant sy kop vasgespyker: Die koning van die Jode.

G’n wonder nie dat die Jode die aanspraak dat Jesus die Messias is, as ’n aanstoot beskou het, en dat die Grieke gemeen het dit is onsin (1 Kor. 1:23)! Die kruis-evangelie maak eenvoudig nie sin vir ’n gewone mens nie. Dit maak nie sin dat ek die ander wang draai nie. Dit maak nie sin dat ek sewentig maal sewe keer moet vergewe nie. Dit maak nie sin dat ek inskiklik moet wees nie. Of my vyand moet liefhê nie . . .

Toe ek op ’n dag vir my katkisasieklas vra wat hulle verwagtings van die kerk is, het een gesê: “Dit moet net nie boring wees nie.” “Ek wil nie die hele tyd in die bank sit en slaap nie,” het ’n ander een dit gewaag. Want vir ’n geslag wat grootgeword het op ’n dieet van vermaak-gemorskos, van bulderende musiek en flitsende ligte, vir só ’n geslag is die erediens maar ’n saai besigheid. Wie kan nou verwag dat ons jeug vir ’n uur lank in so-iets geïnteresseerd moet wees?

Om dié probleem te bowe te kom, oortref party gemeentes hulleself met allerhande vernuwings aan die tradisionele erediens. Video’s word ruimskoots gebruik, vreemde liedere word gesing, populêre sangers en motiveringsprekers word ingevoer wat die erediens kaap. En só kom die erediens ook in pas met ons tyd: gebruikersvriendelik. En jy kry weer mense in die kerk. Dit is immers nou ’n hele ervaring om kerk toe te gaan, en beslis nie saai nie.

Maar is dit nie alles maar net nuwe maniere om aan die vreemdheid van die kruis-evangelie te ontkom nie? Want om aan die moderne mens, wat gewoond geword het aan Superman en bioniese helde wat die moontlike én onmoontlike kan vermag, ’n Verlosser op ’n donkie te verkoop, ’n Verlosser wat boonop nie Homself van die kruis kon red nie, is veel gevra. Veral as jy die uitgediende kommunikasiemiddel van die prediking daarvoor wil inspan.

Die versoeking is groot om die kruis-evangelie by ons wêreld te laat inpas. Om allerhande dinge in die kerk in te voer sodat dit vir ons meer sin, en minder onsin maak. So oorbrug ons dalk die gaping na die man op straat. Die vraag is net: het ons dan hoegenaamd iets om vir die man op straat te bied as ons evangelie klink én lyk soos dit wat hy elders (en meer professioneel) ook kan kry?

Miskien is dit goed om te onthou dat ons Meester nié ingepas het by die mense van sy tyd nie. Daarom het hulle Hom uit hulle samelewing geskop, tussen hemel en aarde aan ’n vloekhout laat hang. Hy het immers ’n vreemde evangelie gebring: een wat praat van die koninkryk van die hemel waar daar nie plek is vir ons eie klein koninkrykies nie. Een wat praat van selfverloëning en die navolging van Jesus, waar Gód se eer, en nie mý voorkeure nie, die deurslag gee.

Wie bereid is om Hom, teen menslike wysheid en rede in, heelhartig op dié vreemde weg te volg, ontdek weldra dat wat vir die wêreld onsin is, groter wysheid is as die wysheid van mense (1 Kor. 1:25). En hy ontdek dat God op ’n vreemde wyse, deur “die dwaasheid van die prediking” (1953-vertaling), dié red wat glo (1 Kor. 1:21).

image_pdfimage_print

Views: 6

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.