Spesiale oorlogskorrespondent
AFEK. – Die Filistynse oorlogsvoorbereidings het gister amper ontspoor toe die Groot Vyf en koning Akis van Gat gebots het oor die insluiting van koning Akis se persoonlike lyfwag onder aanvoering van die Israeliet Dawid seun van Isai, in die Filistynse gevegsmagte.
Hoewel Akis heftig beswaar gemaak het teen dié “flagrante inmenging” in sy private sake, soos hy dit gestel het, het die Groot Vyf voet by stuk gehou en ’n verbod geplaas op Dawid se deelname aan die oorlog. Volgens hulle is sy deelname ’n te groot veiligheidsrisiko, aangesien die moontlikheid dat hy sy volksgenote in die stryd sal help, nie uitgesluit kan word nie. “Dit kan net wees dat Dawid die geveg as ’n gulde geleentheid sal gebruik om sy verlore aansien by Saul te herwin, en dan sit ons met ’n yslike probleem,” het ’n woordvoerder van die Groot Vyf gesê.
Koning Akis was volgens waarnemers baie verontwaardig oor dié opdrag. Hy het gesê hy het volle vertroue in Dawid, en hy vind dit betreurenswaardig dat die ander konings nie sy oordeel in hierdie verband vertrou nie. “Dawid is ’n lojale onderdaan van my, en sy kennis van die Israelitiese oorlogstrategie kon vir ons van onskatbare waarde wees,” het hy gesê. Hy het bygevoeg dat die 600 man onder Dawid se bevel die beste oorlogsmasjien is wat hy nog gesien het. “Ek kan amper nie sien hoe ons sonder hulle die geveg kan benader nie,” het hy gesê.
Dawid en sy manskappe het vanoggend met dagbreek na hulle tuiste in Siklag teruggekeer. Hy was duidelik baie ontsteld en wou nie die pers te woord staan nie.
- Lees hiervan in 1 Sam. 29.
Persië het ’n nuwe koningin!
Die skone Ester steek talle ander die loef af
SUSAN. – ’n Woordvoerder van koning Ahasveros het gister bekend gemaak dat die skoonheidskompetisie om vir hom ’n bruid te soek, iets van die verlede is. Die koning se keuse het op Ester geval, ’n meisie wat, volgens ingeligte bronne, werklik buitengewoon mooi is.
Ester en die ander skoonhede is meer as ’n jaar gelede na ’n spesiale afdeling van die koninklike harem geneem om vir hulle ontmoeting met die koning voorberei te word. Die uitdunne het verlede maand reeds begin, en nou het die koning sy keuse gemaak. Die koning is blykbaar besonder ingenome met sy aanstaande bruid.
Om Ester se kroning amptelik te vier, sal daar volgende Woensdag ’n swierige onthaal in die banketsaal van die paleis gehou word. Die paleiswoordvoerder het ook bekend gemaak dat die koning besluit het om volgende Woensdag ’n nasionale vakansiedag te maak, sodat die hele Persiese Ryk in sy vreugde kan deel.
Die pers is ongelukkig nie toegelaat om met die nuwe koningin ’n onderhoud te voer, of ’n foto van haar te neem nie.
- Lees van hierdie unieke skoonheidskompetisie in Est. 2:1-18.
KOMPLOT TEEN KONING OOPGEVLEK
SUSAN. – ’n Komplot om koning Ahasveros te vermoor, het gister hier aan die lig gekom. Die twee samesweerders, Bigtan en Teres, was albei poortwagters en deel van koning Ahasveros se paleispersoneel.
Die twee is in hegtenis geneem na ’n wenk wat die aangewese koningin Ester aan die koning deurgegee het. Die koning het die saak dadelik laat ondersoek, en die twee is skuldig bevind. Hulle sal môre tereggestel word.
- Lees hieroor in Est. 2:19-23.
God se voorsiening agter die skerms
Jesus het by geleentheid gesê: “Julie moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie … Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het” (Matt. 6:31,32). Hy is immers die God wat in al ons behoeftes voorsien, soos Paulus ook getuig in Fil. 4:19: “En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.”
Die boek Ester is een groot loflied op God se ongelooflike voorsiening vir sy volk. Agter die skerms is Hy die Een wat sorgvuldig die toneel gereed kry vir die uitkoms uit die volksmoord wat Haman beplan. Daarom moes Ester koningin word; daarom was dit Mordegai wat die moordkomplot teen Ahasveros ontdek.
Ook Dawid se lewe – selfs as balling – staan in die teken van God se voorsiening. Dit was tog Hy wat ’n stokkie voor Dawid se deelname aan die geveg teen Israel gesteek het.
O, dat ons ’n oog sal ontwikkel om God se voorsiening raak te sien en Hom te vertrou! Hy weet ook wat jy nodig het.
Views: 3