As ’n mens nou een woord moet kies om die moderne mens mee te beskryf, sou “ootmoed” nie in jou gedagtes opkom nie. ’n Veel beter keuse is, helaas, “hubris”. Die HAT sê dié woord beteken “aanmatiging, geweld as gevolg van drif of roekeloosheid; opstandigheid teen goddelike gesag; skending van die sedelike wette op onbeskaamde wyse”.
Want in die nuwe SA maak ons soos ons wil wanneer ons wil en waar ons wil.
’n Mens sou beswaarlik ’n beter beskrywing as dié kon gee van die karaktertrek van die nuwe SA! In die nuwe SA het ons hard geword, geleer dat ons regte het en dat ’n mens daarop moet staan, sodat ander nie op jou trap nie. Ons het geleer om te betoog en te staak as ons nie ons sin kry nie. Want in die nuwe SA maak ons soos ons wil wanneer ons wil en waar ons wil. Dis mos nou alles wettig en als. Te lekker. En jy hou jou skietding byderhand, want jy weet nooit wanneer jy dit nodig sal kry nie. Amper soos in die Rigtertyd, toe elkeen gedoen het wat goed is in sy eie oë. Hubris. Jy weet mos hoe om jou lewe te lewe. Jy ken jou regte, en jy laat jou deur g’n niks of niemand voorskryf nie.
Ontstellend. Maar dít is wat word as “menseregte” die slagspreuk is: ’n gekkeparadys waarin daar geen plek vir gesag van enige aard is nie.
En hierteenoor stel die Bybel ’n geheel ander lewenshouding: ootmoed.
Die Bybel weet natuurlik ook van dié soort houding. Hy noem dit wêreldse, demoniese wysheid. Jakobus 3:15,16 sê: “Dié soort wysheid kom nie van Bo nie, maar is aards, sinlik, demonies, want waar daar naywer en selfsug is, kom daar wanorde en allerhande gemene dade.” En hierteenoor stel die Bybel ’n geheel ander lewenshouding: ootmoed. Die Bybel gebruik ook ander terme hiervoor, soos sagmoedig, inskiklik, nederig, bedagsaam, beskeie. Dit is almal begrippe wat sê jy is nie té bewus van jouself en jou eie belangrikheid nie; jy het ruimte vir ander in jou lewe, in jou denke en oordele. Jy en jy alleen is nie noodwendig altyd reg nie. Dit is welwillendheid, tegemoetkomendheid en toegeeflikheid, ’n afsien van eie regte; ’n sagtheid en deernis, ’n gebrokenheid in jou omgang met ander, stukkend-geslaan, murf, in teenstelling met hulle wat nie die genade ontvang het nie en wat daarom onbuigsaam en hard is.
Die hartverskeurende waarheid is dat hierdie kwaliteite, wat die kenmerk van die Christen behoort te wees, so dikwels afwesig is in ons optrede teenoor ander. Daarom vlieg ons mekaar in, huiwer ons nie om mekaar oor die vingers te tik en die kop te was nie, terwyl ons Meester ons geleer het om mekaar se voete te was . . .
Ootmoed, nie hubris nie. Omdat ons verstaan dat dit louter genade is dat ons is wat ons is: geredde mense. Omdat ons met ons sonde en tekortkominge voor ’n hemelse Vader gebroke staan as mense wat die goeie wil, maar die kwade doen. Omdat ons soos Dawid in Ps. 51:16 bely, ook weet: “Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging: U sal ’n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God.”
Views: 6