Mark 9:2-8, Op 1:10-19 en Kol 1:15-20: Kyk weer na Jesus

Lees Mark 9:2-8 en Joh 1:14
Mense dink verskillend oor die Here Jesus. Ons het groot geword met die naam “Liewe Jesus”, en daar is volwassenes wat steeds só oor Hom praat. En dit is natuurlik so, daar ís ’n liefdevolle, sagte kant aan die Here Jesus waaraan ons kan vashou.

Daar is ook mense wat oor die Here Jesus dink as hulle “buddy” of beste pêl wat oral by is en altyd gereed is om vir hulle die kastaiings uit die vuur te krap. En dan praat hulle met ’n soort familiariteit oor Hom en met Hom, asof hulle Hom besit, en hulle sal ook vir jou sê hulle en die Here verstaan mekaar.

Dan is daar natuurlik ook mense wat glad nie oor die Here Jesus dink nie en maar net voortgaan met een of ander vae, wollerige idee oor Hom.

Hoe dink jý oor die Here Jesus?

Die gedeelte wat ons saam gelees het, wys ’n kant van die Here Jesus waarop ons nie genoeg ag slaan nie, glo ek, omdat ons dit nie regtig verstaan nie. Hy is immers God wat mens geword het en onder ons kom woon het, skryf Johannes in Joh 1:14. Ons sukkel om die twee kant bymekaar te hou. God én mens. Almagtige God én brose, kwesbare mens wat kon seerkry, kon huil, en uiteindelik gesterf het.

Die Here Jesus se dissipels het dit ook nie verstaan nie, en daarom was hierdie gebeurtenis so belangrik in die vorming van hulle denke oor Hom. Hier sien hulle Jesus in ’n geheel ander lig; sien hulle Hom in al sy goddelike majesteit en heerlikheid. As Johannes in sy Evangelie skryf dat Jesus mens geword het, voeg hy by (ook 1:14): “Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.” Ek vermoed hy het aan die verheerliking op die berg gedink toe hy dit geskryf het.

Hoe dink jý oor Jesus?

Hierdie Sondag van Verheerliking, waarop ons stilstaan by die verheerliking op die berg, wil ons aandag opnuut vestig op die feit dat die Here Jesus méér is as net ’n mens met spesiale gawes en kragte, selfs goddelike kragte. Die Here Jesus wat ons dien en volg, is die Een aan wie alle mag in hemel en op aarde gegee is. Dis waarvan Paulus in Kol 1 skryf.

Lees Kol 1:13-20 (2020-vertaling):
“God het ons uit die mag van die duisternis gered, en verplaas na die koninkryk van sy geliefde Seun – deur wie ons bevryding, die vergifnis van sondes ontvang het.
“Die Seun is die beeld van die onsigbare God, die Eersgeborene oor die hele skepping; want deur Hom het God alles geskep: alles in die hemel en op die aarde, die sigbare en die onsigbare dinge, of dit koninklike of heersende magte, owerhede of gesagvoerders is – alles is deur Hom en tot Hom geskep. Hy het voor alles bestaan, en in Hom hou alles stand. Hy is die Hoof van die liggaam, die kerk.
“Hy is die oorsprong, die Eersgeborene uit die dood, sodat Hy in alles die eerste plek kon inneem; want God het dit goedgevind om die hele volheid in Hom te laat woon, en om deur Hom alles, ja, alles op aarde en in die hemel, met Homself te versoen, deurdat Hy vrede gebring het deur sy bloed aan die kruis.”

Dis ’n mondvol! Dis woorde wat ons maar weer en weer kan lees, kan indrink totdat dit die manier waarop ons oor die Here Jesus dink, kan vul en inkleur.

Kom ons lees nog ’n gedeelte wat ons kan help: Openbaring 1:10-19

Johannes vertel hier vir ons dat die Here Jesus een Sondag op die strand aan hom verskyn het. Hy was ’n balling, eensaam op die eiland Patmos, toe hy Jesus by hom op die strand gesien het. En watter ontsaglike gesig was dit nie! Die Here Jesus staan in al sy goddelike en ontsagwekkende heerlikheid by hom, ’n gewaarwording wat hom totaal oorweldig het, sodat hy by sy voete neerval en bly lê het soos een wat dood is (vers 17).

Interessant dat hy eers moes omdraai voordat hy vir die Here gesien het (vers 12). Dalk moet ek en jy ook ’n slag omdraai om Hom beter te kan gewaar?

Hoe dink jý oor die Here Jesus?

As ’n mens hierdie kant van die Here Jesus goed verstaan en deel van jou geloofsuitkyk maak, kom daar iets los hier binne-in jou. Dan trek jou skouers weer regop en lig jou kop; dan kom daar ’n lied in jou hart en op jou lippe. Dan staar jy jou nie blind teen alles wat skeef en stukkend is nie, maar kyk jy daarby verby, en sien jy die Here Jesus raak, wat met ons besig is. Dan tel jy die kruis wat oor jou lewe lê, met vreugde op en volg jy jou Verlosser.

Jesus is Here! In Hom hou alles stand! Ons geluk, ons toekoms, hang – Goddank! – nie van die politici of die ekonomie af nie. Soos Paulus in Kol 1:27 sê: “Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid.”

Amen.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.