SIKLAG. – Skok, afgryse en verbystering. Dit was die reaksie van Dawid seun van Isai en sy 600 manskappe toe hulle laat gistermiddag van die Filistynse laer af teruggekeer het na hulle tuiste hier, net om te vind dat die stad afgebrand is, en geen sterfling in sig is nie.
Die enigste troos in dié troostelose situasie is dat daar geen lyke in die stad is nie, wat die hoop laat opvlam het dat al die stad se mense lewend gevang en weggevoer is. Dit is egter in hierdie stadium hoegenaamd nie duidelik wie die aanval geloods het, of waarheen die invalsmag met hulle buit gegaan het nie.
Die motief vir die aanval is vermoedelik roof, maar die moontlikheid dat dit ’n vergeldingsaanval is, kan nie uitgesluit word nie. Dawid het in die laaste paar maande ’n hele aantal strooptogte op die naburige stamme uitgevoer, en hoewel hy so ver moontlik sy spore probeer doodvee het, is dit nie onmoontlik nie dat die aanvallers hulle doelbewus op Dawid se mense toegespits het toe hy vir die oorlog na Afek vertrek het.
Dawid en sy elitetroepe het verlede week uit Siklag vertrek om hulle by die Filistynse kamp te gaan aanmeld vir die oorlog teen die Israeliete. Hulle is egter deur die Filistynse konings aangesê om hulle aan die geveg te onttrek. Daarom het hulle heelwat vroeër as wat verwag is, na Siklag teruggekeer.
Laat gisteraand het gemoedere in die verwoeste stad hoog geloop. Daar is selfs sprake dat die manne Dawid wil stenig, omdat hulle hom vir hulle verlies verantwoordelik hou.
Dit is nie bekend wat Dawid aan die situasie gaan doen nie. Hy het die priester Abjater ontbied vir samesprekings, maar teen druktyd het hy nog geen aankondiging gedoen nie.
- Lees nou die volle verhaal in 1 Sam. 30.
Koning slag eie seun op stadsmuur
Israelities-Moabitiese oorlog neem dramatiese wending
KIR-GERES. – Koning Mesa van Moab het gister hier sy oudste seun op die stadsmuur as brandoffer geoffer in ’n desperate poging om uit die wurggreep van die Israelitiese koalisiemagte te ontkom. Sy optrede het die Israeliete só gewalg dat hulle die oorlog beëindig het.
Die oorlog tussen Moab en Israel het uitgebreek toe koning Mesa, jare lank die onderdaan van koning Agab van Israel, teen Israel se oorheersing in opstand gekom het na Agab se dood. Hy het naamlik geweier om die verskuldigde lammers en wol aan Agab se seun en opvolger, koning Joram, te lewer. Hierop het koning Joram in koalisie met die konings van Juda en Edom ’n strafekspedisie teen Moab geloods.
Die voortydige onttrekking van die Israelitiese gevegsmagte was die tweede dramatiese wending in die strafekspedisie wat koning Joram van Israel teen Moab gelei het. In ’n poging om Moab te verras, het die koalisiemagte deur die Edomwoestyn opgeruk. Hulle het hulle egter misreken, sodat hulle watervoorraad uitgeput geraak het. Die situasie was vry ernstig, en die ganse leërmag het gevaar geloop om van dors om te kom. Nadat die konings ’n profeet, ene Elisa seun van Safat, gaan raadpleeg het, het die God van Israel op ’n wonderbaarlike wyse ingegryp. ’n Wolkbreuk in die Edomsberge het die droë spruite laat afkom en uitkoms gebring.
Die Moabiete het die plasse water vir bloed aangesien en gemeen die koalisiemagte het onder mekaar begin veg. Hulle het toe uit hulle vestings opgeruk om die vyand die nekslag toe te dien, en te laat hulle fout agtergekom. Die koalisie het die Moabiete verpletter, sodat net die hoofstad, Kir-Geres, bly staan het.
Die betrekkinge tussen Israel en Moab is na die strafekspedisie meer gespanne as ooit. Sowel koning Joram van Israel as koning Mesa van Moab maak op ’n oorwinning aanspraak.
- Lees van hierdie ongelooflike ekspedisie in 2 Kon. 3.
Jou reaksie in tye van nood
’n Gelowige se pad is nie altyd met rose besaai nie. Ons lewe immers in ’n wêreld wat stukkend gebreek is deur die sonde, en hierdie gebrokenheid tref gelowiges én ongelowiges. Die verskil tussen gelowige en ongelowige blyk uit die manier waarop hy die ellendes wat oor sy pad kom, hanteer. Tipies van ’n ongelowige is dat hy ’n sondebok soek om vir sy teenspoed te blameer, soos Dawid se volgelinge in Siklag maak. Of anders kry God die skuld, soos koning Joram gou is om te besluit (2 Kon. 3:10).
In sy nood deel die gelowige nie skuld uit nie, maar soek hy God op om hulp en leiding te vra, soos Dawid en Josafat. En hoe wonderlik het Hy hulle nie gehelp nie!
“Geloof sy die Here! Dag na dag dra Hy ons! God is ons hulp!” (Ps. 68:20).
Views: 5