Ek het ’n heimwee na die goeie ou dae. Na my kinderdae.
Van my vroegste herinneringe uit my kinderdae was hoe ons in die motor gery en gesing het. Enige iets: gesange en psalms, ligte liedjies, FAK-liedjies, kanons. Ek onthou hoe ons saam geëet het in die middag na skool. Ek onthou ons huisreël: eers moet jou huiswerk klaar voordat jy kan gaan speel. En gewoonlik was daar vóór die rugby-oefening om half-vier tyd om die huiswerk klaar te maak. Ek onthou dat ons op ’n Woensdag om drie-uur CSV-kringe gehad het. En vir die normaalklas was daar in skooltyd tyd ingeruim.
Ek onthou hoe ek en my maats party middae met ons fietse die Outeniqua-berge agter George ingery het, na die opgaardam, en daar gaan swem het. Of ons fietse gevat het en by Victoriabaai gaan swem het. Ek onthou hoe ek en ’n paar skoolmaats Vrydag-middae onder leiding van een van ons onderwysers by die Katrivier indringer-plante uitgeroei en rommel opgetel het.
Ek onthou dat ons tyd gehad het vir mekaar, en vir dinge wat vir ons lekker was. Dinge wat min gekos het en baie vreugde gebring het.
Kinders het vandag soveel meer geleenthede as wat ek ooit gehad het. Maar ek wil nogtans sê: Die arme kinders. Die arme onderwysers.
G’n wonder nie dat ons sukkel om by mekaar uit te kom! Niemand het meer tyd nie. Ons jaag ons dood van die een ding na die ander, val saans poot-uit in die bed en sleep ons die volgende dag weer met loutere wilskrag na die ontbyt-tafel. En ons storm van die een ding na die ander in die waan dat ons besig is om in die spore van die Koning van die kerk te volg. Helaas, ook die kerk het die sieklike oorgeorganiseerd-wees sindroom nie vrygespring nie. As ons maar die horlosie kon terugdraai!
Ek lees nie in die Bybel van allerhande kommissies, van vergaderings ter wille van vergaderings nie. Ek lees van ’n gemeente wat “elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, en God geprys (het)” (Hand. 2:46,47). En tog het hierdie gemeente ’n verskil gemaak in die wêreld waarin hulle gewoon het, want die hele volk was hulle goedgesind (vers 47).
Klaarblyklik hang die kwaliteit van gelowige-wees, en kerkwees, nié af van die netjies-geoliede kerkstrukture nie. Dit hang eerder af van die innige verhouding van die lidmate met die Koning van die kerk en met mekaar. Ek mag seker baie naïef wees, maar ek het ’n idee dit sal met die kerk baie beter gaan as ons veel minder vergaderings hou, en veel meer die vrug van die Gees dra. As ons fokus nie op die organisasie is nie, maar op die Here en op ons naaste.
Ek dink Dawid het nogal iets hiervan verstaan. In Ps. 131 sê hy: “Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie, Here. Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is. Ek het rus en kalmte gevind. Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.”
O, om hierdie rus te mag beleef!
Maar wag, ek moet afsluit. Ek moet voorberei vir ‘n vergadering …
Ai! Ek verlang net soveel! Inderdaad was daar. ‘n onskuld omdat ons nie soveel plastiese speelgoed gehad het nie. Ons het vir onsself plase gebou in die sand, met paaie en heinings en my pa het vir ons van klei langs ‘n fontein, osse en perde gemaak. Ons het na die skool gestap. Ek is nie meer jonk nie, maar ek verlang na my geliefdes wat na die Vader gegaan het. Maar ek dank God vir die lewe van my verlede en van die hede. Inderdaad kry die jeug dit nie maklik nie met die grootste onsekerheid ooit nie. Onsekerheid ook omdat ouers en ander nie geloof toon nie 😢 Seker onsekerheid reeds omdat daar nie. ‘n voorbeeld van diepe geloof getoon word nie. Daar was godsdiens in skole. Laat ons bid vir daardie wat God nodig het en met Sy liefde en genade ‘n beter lewe op aarde kan he en uit genade ‘n Hiernamaals van Vrede saam met die Here Jesus na kan uitsien. Alle groot seenwense vir God se kinders en die wat nog na Sy huis kan gaan.