HEBRON. – Israel het gisteroggend ’n nuwe koning gekry toe die dertigjarige Dawid seun van Isai hier tot koning gesalf is deur priester Abjatar seun van Agimelek.

Met dié kroning het die volk Israel nou weer ’n koning, nadat die troon vakant gelaat is deur die dood van koning Saul en drie van sy vier seuns in die oorlog teen die Filistyne op Gilboaberg enkele weke gelede. Koning Saul se jongste seun, Is-Boset, is volgens alle aanduidings nie ’n persoon wat die leisels by sy pa sal kan oorneem nie. Dawid, ’n skoonseun van koning Saul, is daarom die logiese troonopvolger.

In sy kort huldigingsrede het priester Abjatar die bede uitgespreek dat Dawid ’n waardige opvolger van koning Saul sal wees. Hy het gesê die koning van Israel het nie net die taak om die land te regeer nie, maar moet ook deur sy persoonlike toewyding aan die God van Israel die volk in hulle geloofslewe lei. Lees meer oor sy woorde elders op dié bladsy.

Die nuwe koning het gesê hy glo dat hy tot die amp van koning geroep is deur God self, en daarom wil hy sy taak in biddende afhanklikheid van God begin.

Die eeu-oue koningstad het uit sy nate gebars soos familiehoofde en ander belanghebbendes opgedaag het om die kroningsgeleentheid by te woon. Opvallend was veral die teenwoordigheid van koning Akis van Gat. Dié Filistynse koning was vir ’n groot gedeelte van die tyd wat Dawid as balling in die buiteland geskuil het, sy beskermheer. Koning Akis het ná die kroningsplegtigheid die hoop uitgespreek dat daar ’n hartlike samewerking tussen sy mense en Israel sal wees, en dat Dawid ’n versoeningsrol sal speel, sodat daar vrede kan kom. Hy wou nie sê of sy standpunt ook dié van die Groot Vyf (die gesamentlike koningsraad van die Filistynse stede) verteenwoordig nie.

Dawid se politieke loopbaan het begin toe hy die Filistynse baasvegter Goliat verslaan het. Hy is tóé reeds deur die Israeliete toegesing: “Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende.” Hy het daarna vinnig opgang gemaak en binne enkele maande een van die voorste generaals in koning Saul se leër geword. In dié tyd is hy ook met koning Saul se dogter Mikal getroud. Kort daarna het hy egter in onguns geraak by die koning, en moes hy landuit vlug, waar hy gebly het tot met die dood van Saul enkele weke gelede.

 

Groot taak wag op nuwe koning, sê priester

HEBRON. – “Die vreugde oor ons nuwe koning moet ons nie verblind vir die harde politieke realiteite van ons dag nie. Daar wag ’n moeilike taak op die nuwe koning van Israel, en hy het ons steun en voorbidding baie nodig,” het priester Abjatar gister hier in sy huldigingsrede by geleentheid van koning Dawid se salwing as koning gesê.

Priester Abjatar het daarop gewys dat koning Dawid tans net op die steun van die stam Juda kan reken. Slegs die familiehoofde van die stam Juda het die kroning amptelik bygewoon. Enkele familiehoofde uit die ander stamme was ook teenwoordig, maar hulle het dit duidelik gemaak dat hulle slegs as waarnemers gekom het en nie in amptelike hoedanigheid nie.

Onbevestigde berigte dui daarop dat daar aansienlike druk op die familiehoofde van die noordelike stamme was om van die kroningsgeleentheid weg te bly. Sover vasgestel kan word, het koning Saul se leërhoof, genl. Abner seun van Ner, planne om Is-Boset tot koning uit te roep.

Die priester het gewaarsku dat genl. Abner ’n gedugte politieke opponent is. As leërhoof beskik hy oor aansienlike mag, en hy sal nie huiwer om dit te gebruik om sy wil af te dwing nie. Daarby is hy ook ’n meester om sentimente jeens die Huis van Saul ten volle uit te buit.

Daar wag dus ’n formidabele taak op die jong koning Dawid om die steun van die hele Israel te verwerf.

 


God beskik ondanks alles

Hierdie stuk geskiedenis pas nie lekker in ons denkraamwerk in nie. “Hoekom kon Dawid nie sommer dadelik koning word oor die hele Israel nie?” wil ons vra. Dis darem bitter onregverdig dat ’n man soos Abner toegelaat word om dinge só lelik deurmekaar te krap. Die arme Dawid het beter as dit verdien.

Die feit is egter dat die lewe meestal nie so eenvoudig is soos ons dit graag wil hê nie. Dinge werk alte dikwels nié uit soos ons meen ons verdien nie. Die lewe is nie regverdig nie.

Die gelowige verstaan dat ons as sondaars voor God niks verdien nie. Die uitdaging is om te bly glo dat God beskik, ondanks die talle vrae wat ons in ons vermetelheid kan vra oor die wyse waarop Hy ons lewe en die wêreld regeer. Dán eers kom daar vrede in jou hart.

image_pdfimage_print

Views: 96

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.