Dis ’n maklike vraag om te antwoord. Kyk jou kind in die oë, sê jy is jammer, en bedoel dit. Maar miskien het jy dit al probeer, en het dit nie gewerk nie. Miskien het jou kind opgespring en padgegee toe jy met haar probeer praat het.

Ek en my vrou gaan stap laatmiddae vir oefening; partykeer is dit al sterk skemer voordat ons daarby kom. Wat my elke keer weer verbaas, is hoeveel kinders in die strate ronddrentel. En dan wonder ek waar dié kinders se ouers is, of wat hulle daarvan dink. Gee hulle nie om wat hulle kinders doen nie? Is dit dan nie vir hulle kinders lekker om by die huis te wees nie?

‘n Tiener sê eendag vir my sy vriende beteken baie meer vir hom as sy ouers. Dis een van die hartseerste uitsprake wat ek al gehoor het.

Jy sien, voordat daar sprake kan wees van ’n situasie waarin jy vir jou kind om verskoning vra, moet daar eers ’n verhouding tussen julle bestaan: ’n verhouding wat gebou is op liefde, waardering, respek vir mekaar. Só ’n verhouding sal nie daar wees as die huis vir jou kind ’n slegte plek is nie.

Stephen Covey (in sy bekende boek “The seven habits”) gebruik ’n treffende beeld: Hy sê jou verhouding met ander mense werk soos jou bankrekening. As jou bankrekening sterk is en jy gereeld deposito’s daarin maak, kan jy uit die rekening selfs groot onttrekkings doen sonder dat jy in die moeilikheid beland. Dis eers as jy aanhoudend meer onttrek as wat jy deponeer, dat jy op ’n keer die boodskap sal sien flits: “Fondse onvoldoende.” Wanneer jy in jou verhouding met jou kind belê, bou jy ’n emosionele krediet by hom op. Dan sal ’n voorval waarin jy hom seergemaak het – selfs baie seer – nie julle verhouding verongeluk nie. Maar as jy nie in die verhouding belê nie, of dit te min en te halfhartig doen, maak ’n meningsverskil hier en ’n botsing daar gou-gou die verhouding bankrot. Jy beland in die rooi by jou kind, en ’n verskoning is dan nie meer goed genoeg nie. Hy sal jou nie glo nie. Jy sal eers jou emosionele bankbalans by jou kind uit die rooi moet kry deur tyd, aandag, liefde, geduld. Jou kind sal moet ervaar jy gee om en is lief vir haar voordat jou woorde indruk sal maak.

As jy in die rooi is by jou kind, is dít die plek waar jy moet begin: nie verskoning vra vir ’n spesifieke ding wat gebeur het nie, maar vir die feit dat jy nie daar is vir haar nie. En begin dadelik belê in jou emosionele rekening by jou kind. Liewer laat as nooit!

image_pdfimage_print

Hits: 23

Volg en laaik my asb:
onpost_follow
Tweet
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.