HEBRON. – Die koninkryk van Juda is in ’n krisis gedompel deurdat die hoof van die Israelitiese weermag, genl. Abner seun van Ner, gister hier in die hoofstad vermoor is. Die moordenaar is na bewering genl. Joab seun van Seruja, koning Dawid se leërhoof.

Sover vasgestel kan word, was genl. Abner vandeesweek ’n gas aan die koninklike hof, waartydens hy en koning Dawid samesprekings gevoer het oor die moontlike vereniging van die Israelitiese stamme. Blykbaar het genl. Abner die steun van talle prominente Israelitiese leiers gehad om met koning Dawid te kom onderhandel. Dié stap het moontlik geword ná ’n ernstige vertrouensbreuk tussen genl. Abner en koning Is-Boset, wat die generaal laat besluit het om sy gewig agter koning Dawid in te gooi.

Eergister is daar glo ’n kompromis bereik wat vir albei partye, en selfs vir die Benjaminiete, aanvaarbaar sou wees. Genl. Abner het gisteroggend na die noorde vertrek om verslag te gaan doen aan die leiers van Israel en Benjamin, en dit het gelyk asof ’n verenigde ryk onder koning Dawid eersdaags werklikheid sou word.

Genl. Joab het glo eers gister, na hy van ’n militêre operasie teruggekeer het, van genl. Abner se besoek verneem. Hy het genl. Abner na Hebron terugontbied onder die voorwendsel dat ’n nuwe verwikkeling verdere onderhandelinge noodsaaklik maak. Toe genl. Abner by die stadspoort inkom, het genl. Joab die niksvermoedende man in die maag gesteek. Hy is daar in die poort dood.

Dit is nog te gou om te bepaal hoe die moord op genl. Abner die onderhandelinge tussen koning Dawid en die Israelitiese leiers gaan beïnvloed. Dit is egter seker dat ondersteuners van koning Is-Boset hierdie insident sal aangryp om die onderhandelings te kelder. Baie sal afhang van die wyse waarop koning Dawid die situasie gaan hanteer.

  • Lees van hierdie onderhandelings en ook die moord op Abner in 2 Sam. 3:6-4:1.

 

Moses stel 70 administrateurs aan

KIBROT-TAÄWA. – Die Israelitiese volksleier Moses seun van Amram het gister hier tydens ’n kort seremonie ag en sestig leiers as administrateurs ingesweer om hom in die volksadministrasie by te staan. Twee verdere leiers, Eldad en Medad, kon nie die verrigtinge bywoon nie en sal later die eed van trou aflê.

Dié aanstellings sal na verwagting Moses se las aansienlik verlig, aangesien hy tot op hede feitlik man-alleen vir die administrasie verantwoordelik was, en slegs een assistent, Josua seun van Nun, gehad het. Dit is bekend dat Moses die laaste tyd onder geweldige spanning gewerk het, aangesien die volk hom verantwoordelik hou vir al die probleme wat hulle in die woestyn ervaar. Veral die swak kos is tans ’n groot bron van klagtes.

  • Lees meer van Moses se probleme met die Israeliete (en met Josua!) in Num. 11:4-35.

 


God se genade is ruim genoeg

Volgens die Bybel was die motief vir Joab se moord op Abner wraak. Abner het immers Joab se jonger broer Asael in die oorlog in Gibeon gedood, soos 2 Sam 3:30 verduidelik. Daarby het hy Abner ook nie vertrou nie (3:25). Indien ons egter die omstandighede in ag neem, was daar ’n ander, en waarskynlik dringender, motief vir die moord: ambisie. Want een van die voorwaardes vir Abner se lojaliteit aan Dawid sou sonder twyfel sy aanstelling as leërhoof in Dawid se nuwe, vergrote weermag wees – ’n pos waarvoor Joab, as Juda se leërhoof, ook sy tande geslyp het.

Ambisie en die sug na persoonlike gewin het ongelukkig die manier om jou oordeel totaal te verwoes. Dit maak jou blind vir die werklikheid. Daarom dat Joab sonder om twee keer te dink nie net ’n ander se lewe neem nie, maar ook sy eie oom Dawid se kans om die ryk te verenig, beduiwel.

Josua se bekrompenheid oor sy posisie, en daarom sy jaloesie op die profeterende Eldad en Medad (Num 11:28), het hom nou wel nie gedryf tot sulke uiterstes soos Joab nie, maar dit het hom net so verblind. Daarom dat hy hom nie daarin verbly dat mense as profete optree nie, maar hulle wil stilmaak!

Eers as jy ontdek dat God se genade ruim genoeg is om jou én ander te omvat, kan jy jou oor ander se sukses verbly. Het jy al dié ontdekking gemaak?

image_pdfimage_print

Views: 11

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.