Toe my dogter in Gr 7 was, moes hulle tydskriffoto’s moes uitknip om hulle droom oor die toekoms uit te beeld: jou toekomstige werk, jou man, en so aan. Een kind het twee mans in haar portefeulje gehad: haar eerste een, en haar tweede een. ’n Ander kind het ook twee gehad: haar man en haar skelmpie. ’n Derde kind het net kinders gehad, sonder ’n man.
Ek kan my nie voorstel dat so ’n gedagte selfs by my sou opkom toe ek op skool was nie, wat nog te sê in die laerskool! Egskeidings en buite-egtelike verhoudings was eenvoudig nie deel van my verwysingsraamwerk nie. My pa en ma het my geleer dat ’n mens verantwoordelike keuses maak, en dan daarby bly. Dit geld jou huweliksmaat, en ook jou vriende. Maar dit geld ook ander verhoudings waarin jy staan, soos jou werkgewer, jou haarkapper, jou dokter. Daarom het Pa-hulle, lank nadat die kettingwinkels die dorp oorgeneem het, nog die oom met sy winkel op die hoek ondersteun. Lojaliteit tel meer as rand en sent, het ons geleer.
Deesdae dink mense nie meer so oor die lewe nie. Lojaliteit is nie ’n gewilde woord nie. Ek onthou nog hoe ’n katkisant haar vinger byna in my oog gedruk het toe sy wou wegloop na die buurgemeente en ek gesê het ek dink nie dis lojaal teenoor die gemeente nie.
Lojaliteit is nie meer deel van die lewenswaardes wat mense huldig nie. Ek lees van ‘n celebrity wat haar gewese gaan dagvaar omdat hy ontken dat hy die kind van haar ongebore baba is. Sulke soort nuus skok ’n mens nie meer nie. Ons het al daaraan gewoond geraak. Wat wel vir my skok, is dat Christene ook ’n ontstellende gebrek aan lojaliteit openbaar, en dit teenoor hulle gemeente. Met die “oop” gemeentegrense is dit deesdae mos nie ’n probleem nie.
Gelukkig is God nie soos ons nie. Want dink net: as God soos ons was, was daar nie iets soos Lydenstyd nie. Want die lydensverhaal vertel van God se lojaliteit teenoor die wêreld. Goedertierenheid, het die ou vertaling die Hebreeuse woord hesed vertaal. Verbondstrou, of troue liefde, sê die 1983-vertaling. Die punt is: God bly getrou aan sy woord en sy beloftes. Daarom los Hy nie die mense uit as hulle Hom teleurstel nie, maar hou Hy aan, en aan, en aan. Daarom stuur Hy sy Seun in die volheid van die tyd, word Hy gebore in Betlehem, en sterf Hy op Golgota. Omdat God se troue liefde, sy lojaliteit teenoor die mensdom, Hom daartoe dryf. Daarom sê Hy in Hos 11:8: “Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? … Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk.”
God is nie soos ons nie. Maar – ons moet soos Hy word! Is dit nie die hele doel van God se besig-wees met ons nie? Dat ons hoe langer hoe meer soos Hy sal word nie? Rom 8:29 sê dit in soveel woorde: “Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is.” Moet ons dan nie ook iets van hierdie troue liefde openbaar wat een van die wesenskenmerke van God is nie?
Durf ons gemaklik omgaan met die feit dat egskeidings “normaal” geword het? Dat lidmate van die kerk nie trou bly aan hulle belofte teenoor mekaar nie? Dat my verbruikersmentalieit my keuses bepaal, ook as dit by die besluit kom by watter gemeente ek wil aansluit? Durf daar enigsins van so ’n keuse sprake wees as ons na ons hemelse Vader aard?