MAGANAJIM. – Koning Is-Boset van Israel is gister hier in sy paleis op grusame wyse vermoor terwyl hy sy middagslapie geniet het. Die moordenaars het hom eers in die maag gesteek en daarna sy kop afgekap. Hulle het sy kop saamgevat.

Die moord is vermoedelik gepleeg deur twee broers, Baäna en Rekab, die seuns van Rimmon die Beërotiet. Hulle is bendeleiers wat gereeld vir die koning strooptogte uitgevoer het. Hulle het toegang tot die paleis gekry onder die voorwendsel dat hulle koring wat hulle tydens ’n strooptog gebuit het, kom aflewer. Dit is egter in hierdie stadium nie duidelik hoe hulle in die koning se slaapkamer gekom het nie.

Volgens die polisie is voorlopige aanduidings dat die twee booswigte na die suide uitgewyk het. Teen druktyd was hulle nog op vrye voet.

’n Swaer van wyle koning Is-Boset en eggenoot van prinses Merab, Adriël die Megolatiet, het aan Bybelkoerant gesê die skrif is nou aan die muur vir die koninkryk van Israel. Veral na die dood van genl. Abner het wet en orde in die land totaal in duie gestort en voer bendeleiers ’n skrikbewind.

Die moord op Is-Boset bring effektief ’n einde aan die Huis van Saul se aanspraak op die troon. Die enigste oorblywende afstammeling van koning Saul is Mefiboset, die twaalfjarige seun van Jonatan. Hy is egter sedert sy vyfde jaar kreupel en kan dus nie koning word nie.

Daar het in die laaste tyd al meer stemme opgegaan dat koning Dawid van Juda ook as koning van Israel aanvaar moet word, en die dood van koning Is-Boset sal hernude stukrag aan hierdie beweging verleen. Daarom sal die reaksie van koning Dawid op koning Is-Boset se moord baie fyn dopgehou word. Indien daar enige teken is dat hy die moord goedkeur of selfs gelas het, sal dit sy kanse om deur Israel as koning aanvaar te word, ernstig benadeel.

  • Lees van hierdie moord, en van koning Dawid se reaksie daarop, in 2 Sam. 4:2-12.

 

BLOEDSKANDE RUK HUIS VAN GESIENE PATRIARG

MIGDAL-EDER. – Daar heers ernstige spanning in die huis van ’n gesiene Hebreeuse veeboer van Kanaän, Jakob seun van Isak, sedert dit aan die lig gekom het dat Jakob se oudste seun, Ruben, bloedskande gepleeg het met een van sy pa se byvrouens.

Die huis van Jakob is glo lank reeds in twee kampe verdeel, aangesien daar van die begin af spanning was tussen Jakob se twee vrouens, die susters Lea en Ragel. Volgens ’n vriend van die familie het Ruben se optrede dié verdeeldheid opnuut oopgeruk. Ruben is die seun van Lea, maar die byvrou Bilha met wie hy bloedskande gepleeg het, is van die ander “kamp” in die huis. Sy is die slavin van sy pa se lieflingsvrou, Ragel.

Die voorval sal na verwagting ook Ruben se status as eersgeborene in gedrang bring.

Die polisie het by navraag gesê hulle dra wel kennis van die voorval, maar aangesien daar geen klag aanhangig gemaak is nie, sal daar geen vervolging wees nie.

Nie Jakob of Ruben was bereid om met Bybelkoerant te praat nie

  • Lees dit in Gen. 35:21-29. Kyk ook na Jakob se reaksie in Gen. 49:3,4.

 


Op Gód se tyd, nie joune nie

’n Mens kan aanvaar dat Is-Boset se koningskap vir Dawid ’n bitter pil was om te sluk. Het die Here hom dan nie tot koning oor die hele Israel gesalf nie? En nou moet hy tevrede wees met net die stam Juda! Tog het Dawid nooit probeer om die koningskap met geweld van Is-Boset af te vat nie. Trouens, hy noem Is-Boset “’n onskuldige man” (2 Sam. 4:11)! Dit is nogal stof tot nadenke vir ons wat so maklik die mense met wie ons meeding om bevordering of gewildheid of wat ook al, afkraak en beswadder.

Dawid het geleer dat ’n mens God nie vooruit moet loop en dinge wat jy meen jou toekom, mag gryp voordat Hy dit in sy wysheid aan jou laat toekom nie. Daarom aanvaar hy nie Baäna en Rekab se verduideliking (2 Sam. 4:8) dat hulle maar net instrumente van God se wraak oor sy vyande was nie.

Haastige hond verbrand sy mond, soos Ruben moes uitvind toe hy as eersgeborene by voorbaat sy pa se harem wou inpalm.

image_pdfimage_print

Views: 22

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.