Ons lewe in ’n tyd van afwesige vaders. Baie kinders word sonder ’n pa groot omdat die ouers geskei is en die kinders by die ma bly. Dit is natuurlik verskriklik hartseer. Maar daar is ook kinders wat sonder ’n pa grootword omdat die pa nie betrokke is by sy gesin nie. Dis net so hartseer, en die redes is natuurlik uiteenlopend. Dalk is die pa iewers in ’n kuierplek terwyl sy vrou en kinders onder die indruk is dat hy laat werk? Of speel hy heel naweek gholf of vang vis? Of werk hy ekstra ure in die waan dat hy so sekuriteit vir sy gesin opbou? Of gee hy net gewoon nie om wat in sy huis gebeur nie?

Wat sal die kinders eendag van hulle pa’s kan vertel?

Ek besef ek oorvereenvoudig nou die saak. Die moderne lewe is baie ingewikkeld, en om die pot aan die kook te hou, verg soms baie groot aanpassings en offers. Ek huil saam met pa’s en kinders wat deur omstandighede buite hulle beheer te min van mekaar sien.

Een van die kosbaarste herinneringe wat ek uit my kinderdae van my pa onthou, is dat hy daar was vir ons. Hy het na my probleme geluister en raad gegee; hy het my geleer om my fiets se band te lap; hy het saam met my en my broers gaan tennis speel; hy het langs die rugbyveld gestaan en ons aangemoedig …

’n Pa wat sy sout werd is, is ’n pa wat huis toe kom op só ’n tyd dat die kinders iets van hom het. Daar is nie so ’n ding soos kwaliteit-tyd asof dit kan opmaak vir al die ure waarin jy nié by die huis is nie. Niks kan vergoed vir die verlies aan saamwees nie.

Dit beteken nie dat jy jou kind se slaaf moet wees nie. My pa was nie te alle tye beskikbaar vir ons kinders nie. Daar was ook tye wanneer ons hom nié kon pla nie; tye wat hy en my ma alleen wou wees. Hy het altyd gesê ons kinders moet onthou dat ons lankal uit die huis sal wees, dan is hy en my ma nog altyd bymekaar. Daarom het hulle tyd saam nodig, sodat hulle aan hulle verhouding kan werk.

’n Slim pa, myne. Hy het geweet dat die beste manier om vir my lief te wees, is om my ma lief te hê. Want die geborgenheid wat ’n gelukkige huwelik bring, is een van die grootste geskenke wat ’n pa vir sy kind kan gee.

’n Aspek van pa-wees wat my soms benoud maak, is die feit dat Jesus vir God ons hemelse Vader noem. Sielkundiges sê dat die beeld wat ’n kind van God het, direk verband hou met die beeld wat hy (of sy) van sy eie pa het. Dit beteken dat my kind iets van God se Vader-wees in my moet kan sien. ’n Kind wat diep teleurgesteld is in sy pa, of dalk deur sy pa verskrik word, is uiteindelik ook ’n kind wat sukkel om vertroue in God te hê. Daarom kan ek as pa min vir my kind oor God leer as ek self nie ook iets van God in my omdra nie; iets van sy liefde, van sy ruimhartigheid, van sy deernis en sy omgee en sy genaakbaarheid en sy vergifnis … Dit kan jy natuurlik net wees as jy sélf ’n lewende verhouding met God het.

’n Paar wenke:

  • Wees genaakbaar. Leef só dat jou kind nie vir jou bang is nie.
  • Wees ’n pa van jou woord. Moenie beloftes maak wat jy nie nakom nie; selfs (en veral) al is dit ’n pak wat jy jou kind belowe het!
  • Lag saam met jou kinders. Só leer jy hulle om lewensbly te wees.

Die Woord het nogal iets hieroor te sê. In Efesiërs 6:4 lees ons: “En vaders, moenie julle kinders so behandel dat hulle opstandig word nie, maar maak hulle groot met tug en vermaning soos die Here dit wil.”

image_pdfimage_print

Visits: 665

Volg en laaik my asb:
onpost_follow
fb-share-icon20
Tweet20
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.