Ek wil graag twee sake uitlig in die Skrifgedeelte wat ons saam gelees het. Die eerste is dat Christus gekom het, nie net vir die paar dissipels of vir Israel nie, maar vir die wêreld.
• Ons lees bv al in Jesaja 49:6: Hy het gesê: Dit is nie genoeg dat jy my dienaar is om die stamme van Jakob te herstel en om die Israeliete wat gered is, terug te bring nie; Ek maak jou ’n lig vir die nasies sodat die redding wat Ek bewerk, die uithoeke van die aarde sal bereik.
• En dan natuurlik die bekende Joh 3:16: Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. (2020-vertaling).
• Of Jesus se oproep dat ons volmaak moet wees soos ons hemelse Vader volmaak is: Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. (Matt 5:45).
• Die gedeelte in Johannes wat ons gelees het, wil hierdie feit onderstreep. Jesus sê in vers 32: En as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek.
Joh 12 is die afsluiting van Jesus se openbare bediening. Van Joh 13 af is Jesus met sy dissipels besig, waarskynlik waar hulle saam die Pasga vier. En hier aan die einde van Jesus se openbare optrede kom daar Grieke, nie Griekssprekende Jode nie, maar nie-Jode, en vra om Jesus te sien. G’n wonder nie dat die Fariseërs in vers 19 kla: “Die hele wêreld gaan agter hom aan!” Hiermee lig Johannes die feit vir ons uit dat Jesus gekom het vir die hele wêreld.
Die Here kyk darem maar anders as ons na die wêreld. Hy kyk nie soos ons met oogklappe na mense nie. Ek onthou nog, in my eerste gemeente, hoe een ouderling, elke keer as daar uit die swart kerk ’n versoek om hulp op die agenda was, opgestaan het en gesê het nee, ons help nie, want dis nie ons eie mense nie. Ek praat nou van die 1980’s. Ons sal nie meer vandag so iets sê nie, of sal ons? Die punt is: ons wil graag ons hulp, ons aandag, ons omgee, beperk tot sekere mense en groepe.
Gelukkig is God nie so nie. Niks minder nie as die hele wêreld, elkeen wat glo, is in sy oog. So lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. Die wêreld, elkeen wat in Hom glo. ’n Lig vir die nasies, sê Jesaja. Dít is God se agenda.
Om dit te kon doen – en dit is die tweede punt wat ek wil uitlig – moes Jesus sterf. As ’n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een, maar as hy sterwe, bring hy ’n groot oes in, sê Jesus. Dis veral by dié punt wat ons natuurlik in die Lydenstyd elke jaar stilstaan: Jesus se lyding en sterwe. Dit is God se resep vir nuwe lewe en vrug. En dis hierin wat ons Hom moet navolg, soos ons in Fil 2 lees. Dis hierdie gesindheid wat ons ook moet hê: dat ons nie onsself en ons eie persoonlike voordeel voorop moet stel nie, maar weg van onsself moet kyk, die wêreld in die oog moet kry, soos Jesus.
Miskien moet ons dit maar weer goed hoor: vrug kom deur te sterf aan jouself. Sterf aan jou vooroordele en jou inperking van God se ruimhartige genade. Ons lewens sal net vrugbaar wees as ons Jesus hierin volg. Ons getuienis sal net vrugbaar wees as ons weg van onsself wys na die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. As Hy meer word en ons minder. En dit is die sin van Lydenstyd elke jaar: dat ons ons eie navolging van Jesus weer sal bedink, ons eie aflê van onsself in die wêreld. Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou. As iemand My wil dien, moet hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees. As iemand My dien, sal die Vader hom eer.