Van ons Ou Testament redaksie
JERUSALEM. – Ontsteltenis heers in die paleis hier oor die behandeling wat koning Dawid se gesante in Rabba, die hoofstad van die Ammoniete, van koning Ganun ontvang het. Hulle is grof beledig voordat hulle halfkaal uit die land geskop is.
Politieke waarnemers sê dié belediging is vir alle praktiese doeleindes ’n oorlogsverklaring teen Israel. Volgens berigte uit Ammon het koning Ganun reeds begin om sy magte te mobiliseer. Blykbaar het hy ook die hulp van die Arameërs ingeroep vir die verwagte oorlog teen Israel.
Koning Dawid het tot dusver nog nie amptelik op die politieke dwarsklap gereageer het. Dit lyk egter na ’n uitgemaakte saak dat hy die wapen sal opneem teen Ammon.
Koning Dawid het verlede maand gesante na Rabba gestuur om sy beste wense aan die nuwe koning, Ganun, oor te dra. Ganun het sy pa Nagas onlangs opgevolg na Nagas se dood, en koning Dawid het gehoop dat hy die goeie betrekkinge wat hy en Nagas gehad het, met Ganun kon voortsit. Na wat verneem word, het koning Ganun egter die gesante laat vang en die een kant van hulle baarde laat afskeer. Hy het ook hulle klere by die heupe laat afsny, sodat hulle in skande uit Rabba weg is.
Koning Dawid het die gesante verlof gegee om in Jerigo te bly totdat hulle baard weer gegroei het voordat hulle na Jerusalem terugkeer.
Die motief vir koning Ganun se optrede is nie bekend nie. Gerugte uit Rabba dui daarop dat hy die gesante vir spioene aangesien het. Dat hy egter ’n baie groot politieke flater begaan het, is nie te betwyfel nie.
- Lees hiervan in 2 Sam. 10.
Galileër se optrede skep spanning op fees
Van ons Nuwe Testament redaksie
JERUSALEM. – ’n Rabbi uit Galilea, Jesus seun van Josef, het deur sy prediking spanning en verdeeldheid op die pas afgelope huttefees veroorsaak. Daar is selfs mense wat glo dat hy die verwagte Messias is.
Om ’n einde aan die verwarring en verdeeldheid te bring, het die priesterhoofde en Fariseërs die tempelwag opdrag gegee om die rabbi in hegtenis te neem, sodat hy kan ophou om te preek. Die lede van die tempelwag het egter só onder die indruk van sy prediking gekom dat hulle nie kans gesien het om die opdrag uit te voer nie.
Volgens ingeligte bronne het daar gister harde woorde geval toe die Joodse Raad die hele aangeleentheid bespreek het. ’n Fariseër en bekende lid van die Raad, Nikodemus, het glo vir rabbi Jesus in die bres getree en kapsie gemaak omdat die rabbi veroordeel word sonder dat hy die geleentheid gekry het om sy saak te stel. Ander voel egter dat hulle genoegsame bewys het dat hy die mense mislei, en dring aan op ferm optrede deur die Raad. Teen druktyd is daar egter nog op geen definitiewe stappe besluit nie.
In ’n verklaring laat gistermiddag het die Joodse Raad die burgers gemaan om nie op loop te raak oor die rabbi se aansprake nie. Hulle wys daarop dat die Skrifte duidelik aandui dat die Messias uit Betlehem kom, en nie uit Galilea nie. “God het nog nooit iemand wat uit Galilea kom, as profeet geroep nie,” lui die verklaring.
- Lees oor hierdie verwerping van Jesus in Joh. 7:37-52.
KEURBETREKKING
Aansoeke word ingewag vir die pos van Perssekretaris van die Joodse Raad.
Aantreklike salaris en voordele word aangebied.
Teologiese agtergrond is ’n vereiste.
Geen Galileër sal oorweeg word nie.
Doen aansoek by:
Die Hoëpriester, Joodse Raad.
Stank vir dank
Dit maak seer as jou goeie bedoelings in jou gesig teruggegooi word. Daarom kan ’n mens jou nogal daaroor verwonder dat Dawid nie dadelik met sy krygsmag opruk om Ganun ’n les te leer nie. Dit was eers toe oorlog onvermydelik was, dat hy Joab met die leër laat optrek.
Dawid is natuurlik nie die enigste een wie se hand van vriendskap so weggeklap is nie. Dit gebeur helaas maar te dikwels vandag nog. En dit het met die Here Jesus ook gebeur. Johannes stel dit in sy Evangelie (1:11) só: “Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie.” Maar meer nog: uiteindelik lei hulle verwerping tot sy kruisdood op Golgota. Watter pyn moet dit nie in God se hart wees dat sy liefde só vertrap word nie!
Die verstommende genade van God is dat dié verwerping Hom nie keer om na ons te kom nie. God waag dit met die mens, selfs al kry Hy stank vir dank. Hy stuur sy Seun, al weet Hy vooraf dat Hy nie met ope arms verwelkom sal word nie.
Ongelooflik, maar – die evangelie!