Koning weier om hom te woord te staan
Van ons Ou Testament redaksie
JERUSALEM. – Prins Absalom het gister, na ’n ballingskap van drie jaar, uit Gesur na Jerusalem teruggekeer.
Prins Absalom het destyds sy ouer broer, kroonprins Amnon, vermoor uit weerwraak omdat Amnon Absalom se eie suster, Tamar, verkrag het. Hy het toe land-uit gevlug en by sy oupa, koning Talmai van Gesur, gaan skuil.
Opgewonde aanhangers van die prins het van vroeg af by die paleis saamgedrom om hulle held terug te verwelkom. Teen elfuur het hy, vergesel van die hoof van die weermag, sy neef genl. Joab, by die paleis opgedaag. Hy het vanaf die paleistrappe die skare toegespreek en hulle bedank vir hulle lojale ondersteuning. Hy het gesê die hartseer hoofstuk van sy lewe lê nou agter hom, en hy sien daarna uit om die drade van sy lewe weer op te tel waar hulle drie jaar gelede geval het.
In ’n verrassende wending het koning Dawid gister geweier om sy seun te woord te staan. ’n Teleurgestelde prins Absalom het tot vieruur gistermiddag vergeefs gewag om sy pa te sien. Die koning het na verneem word aan genl. Joab gesê hy sal nie sy seun ontvang nie. Hy moet in sy eie huis gaan bly.
Bronne na aan die koning sê koning Dawid het nog nie sy seun vergewe nie. Hulle wys daarop dat sy verlof dat Absalom kan terugkeer, ’n vergunning was en nie vertolk moet word as ’n versoeningsdaad van die koning nie.
Burgers van Israel met wie Bybelkoerant gesels het, is verheug oor die prins se terugkeer. Hy word allerweë as die logiese kandidaat beskou om sy vader Dawid op te volg as koning, aangesien hy ook van moederskant blou bloed in sy are het. Daarby is hy ’n charismatiese jong man en liefling van die volk.
Politieke waarnemers waarsku dat die koning gou ’n besluit oor Absalom sal moet neem. Hulle wys daarop dat die onsekerheid oor Absalom se status baie spanning in koninklike kringe kan bring. Absalom is ’n baie talentvolle jong man, en hy sal nie die toedrag van sake gelate aanvaar nie.
- Lees hieroor in 2 Sam. 14.
Gesiene Hebreër stuur byvrou, kind weg
GERAR. – ’n Gesiene donkiehandelaar van die omgewing, die Hebreër Abraham seun van Tera, het vandeesweek sy byvrou met kind en al in die pad gesteek.
Die byvrou wat die trekpas gekry het, is ’n Egiptiese slavin genaamd Hagar. Abraham het haar en hulle seun Ismael met ’n bietjie kos en ’n velsak water weggestuur. Omgewingskenners hier gee hulle maar ’n skrale kans om in die harde, dorre wêreld te oorleef.
Abraham het Hagar as byvrou geneem toe sy eerste vrou Sara kinderloos gebly het, en hy baie angstig geraak het oor die feit dat hy nie ’n erfgenaam het om sy fortuin aan na te laat nie. Intussen het Sara egter wel ’n seun, Isak, vir hom in die wêreld gebring.
Klaarblyklik het die donkiehandelaar nou nie meer nut van sy byvrou en hulle kind nie.
- Lees van dié tragedie in Gen. 21:8-21.
GEBOORTES
BEN ISAK
Jakob en Ragel het die dierbaarste klein seuntjie Josef van die Goeie Gewer ontvang as boetie vir Ruben, Simeon, Levi, Juda, Dan, Naftali, Gad, Aser, Issaskar, Sebulon en Dina.
- Lees van die wedywering en die kinderresies tussen Ragel en Lea in Gen. 29:31–30:24.
![](https://bybelkoerant.co.za/wp-content/uploads/2019/02/Die-Bybelkoerant.png)
Kinders grootmaak is nie speletjies nie
’n Mens raak benoud as jy in die Bybel lees hoedat selfs die grootstes onder ons in hulle huweliks- en gesinslewe so jammerlik gefaal het: Abraham, Jakob, Dawid, om maar enkeles te noem. En dan wonder jy: is daar dan hoop dat ék beter sal vaar as hulle?
Navorsing oor die dinge wat goeie ouers van ander onderskei, wys op sekere basiese beginsels, en dis nogal interessant om Abraham-hulle aan hierdie beginsels te meet! Lees maar self:
• wees betrokke by jou kind
• ken jou kind
• wees en leef konsekwent
• geld is nie alles nie
• ’n gelukkige huwelik
• luister na jou kind
• leef jou geloof uit
As ’n mens na hierdie lysie kyk, is dit maklik om foute by Abraham en Jakob en Dawid uit te wys.
Miskien is ’n meer konstruktiewe hantering van die saak om hierdie manne nie te veroordeel nie, maar in hulle mislukkings ’n tydige waarskuwing vir ons eie huwelike en verhoudings met ons kinders te sien.
Views: 3