Van ons Ou Testament redaksie

Wat is prins Absalom se kanse op sukses om sy pa, koning Dawid, se troon af te vat?
Bybelkoerant het gaan gesels met ’n deurwinterde politikus en hofamptenaar van drie agtereenvolgende konings: Siba, voormalige amptenaar van koning Saul en Is-Boset, en tans administrateur van prins Mefiboset seun van Saul se landgoed.

Koning Dawid is ’n ou kalant en moenie sommer afgeskryf word nie. Hy het al talle storms oorleef en is ’n gesoute militêre strateeg. En hoewel prins Absalom ’n groot deel van die bevolking na sy kant toe oorgehaal het, het hy nóg die ervaring, nóg die militêre magsbasis om ’n oorlog teen koning Dawid te wen.

Enige iemand wat die troon by koning Dawid wil afvat, sal eers moet afreken met sy gedugte persoonlike lyfwag onder bevel van genl. Joab seun van Seruja. Die lede van die lyfwag is almal elite-soldate wat ’n lang pad saam met koning Dawid kom – sedert die dae van sy ballingskap. Nie net is hulle man vir man uitstekende krygers nie. Hulle is ook onwrikbaar in hulle trou aan hulle koning, en elkeen van hulle sal hulle lewe met ’n glimlag vir hulle geliefde koning gee.

Dit is boonop nie verniet nie dat die Israeliete al in koning Saul se dae die jonge Dawid – toe nog net ’n kaptein in Saul se leër – toegesing het: “Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende!” Want Dawid is ’n veteraan van menige stryd, iemand wat oorlogvoering tot ’n kuns ontwikkel het.

Wat ook nog in koning Dawid se guns tel, is volgens Siba die feit dat ook die godsdienstige leiers hulle aan sy kant geskaar het. ’n Mens moet nooit die krag van die godsdienstige lewe van die volk onderskat nie. As die priesters Sadok en Abjatar aan jou kant is, het jy al klaar ’n belangrike sielkundige oorwinning behaal, want dan is die grootste gedeelte van die gelowige Israeliete outomaties ook aan jou kant. En dan is die vraag nie eens aangeroer of die God van Israel aan die kant van ’n man sal wees wat teen sy eie vader rebelleer nie.

Die enigste werklike troefkaart wat Absalom in sy hand hou, is die feit dat hy die dienste bekom het van Agitofel die Giloniet. As voormalige adviseur van koning Dawid is Agitofel goed vertroud met Dawid se strategieë, en is dit net moontlik dat dié briljante adviseur die skaal in Absalom se guns kan laat swaai.

 

Huweliksklokke lui vir koning Abimelek

GERAR. – Koning Abimelek se hoofamptenaar en persoonlike vriend, genl. Pikol, het vanoggend hier op ’n perskonferensie bekend gemaak dat die koning voornemens is om nog ’n huwelik aan te gaan. Die gelukkige bruid is Sara, die suster van Abraham seun van Tera, ’n bekende en skatryk donkiehandelaar uit Ur.

Abraham het hom onlangs in Gerar kom vestig nadat hy vroeër in Kirjat-Arba gebly het. Sy beeldskone suster het dadelik die koning se oog gevang. Sy is die afgelope drie maande in die koning se harem opgeneem ter voorbereiding van hulle huwelik op die dertiende Tisri.

Op ’n vraag van Bybelkoerant het genl. Pikol gesê die koning hoop dat Sara vir hom ’n seun sal gee. Dit is bekend dat die koning bekommerd is omdat nie een van sy vroue die afgelope paar maande daarin kon slaag om swanger te raak nie.

 


Geloof én genade

Dat Abraham en Sara ’n tweede keer in dieselfde slaggat trap, is nogal verbasend. Was hulle ondervinding in Egipte (Gen. 12:10-20) nie ’n duur genoeg les nie? As ’n mens raaksien dat hulle in ’n vreemde land en sonder regte was, word hulle optrede meer verstaanbaar. Hulle was bang. Dis net menslik, maar – kleingelowig.

Dawid het hom in ’n heeltemal ander situasie bevind, maar nie minder traumaties nie. Om alles waarvoor jy jou lewe lank gewerk het, net so te los; om uit jou eie huis en stad te moet vlug, en daarby die spot van mense te moet verduur wat skaars ’n week tevore nog jou onderdane was, is nie ’n grap nie. Dat dit boonop jou eie kind is wat dit aan jou doen, is hartverskeurend.

Die menslike reaksie is om soos Abisai te reageer (2 Sam. 16:9). Om soos Dawid jou lot volledig in God se hand te plaas, vra baie geloof en baie genade. Geloof om daaraan vas te hou dat God oor jou lot beskik, en genade om Hom te vertrou met jou lot.

In Ps. 37:5 bely Dawid hierdie vertroue in God as hy sê: “Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.”

Geloof en genade. Daarsonder word die pad vir ons te lank.

image_pdfimage_print

Views: 17

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.