Die storie dat rabbi Jesus ’n storm op see kon laat bedaar, het soos ’n veldbrand deur Galilea versprei. Bybelkoerant het met Simon seun van Johannes, een van die mense wat die storm meegemaak het, gaan gesels om agter die kap van die byl te kom.

Ek moet erken dat ek die gesprek effens skepties aanpak. Dit is werklik ’n ongelooflike storie. My eerste indruk van Simon help ook nie juis nie. Hy is ’n eenvoudige man. Die son en wind en weer en dae en nagte op die see as visser is duidelik op sy gesig ingeëts. En ons weet almal hoe vissermanstories stertjies kry.

“Ja, dit ís ’n ongelooflike verhaal,” gee hy dadelik toe. “As ek dit nie self beleef het nie, sou ek dit ook nie geglo het nie.” Dan kyk hy op, reg in my oë in, en sy blik is eerlik en reguit. “Vandat ek rabbi Jesus leer ken het, moes ek al baie van my opinies verander. Hy is een van daardie mense wat jou telkens weer verras met die ongewone, die nuwe. Hy kyk anders na dinge, en anders na mense.” Hy glimlag verleë as hy byvoeg: “Kyk maar net na my. Ek is ’n eenvoudige visserman. Maar vir rabbi Jesus is ek goed genoeg om ’n dissipel van hom te wees. Dít alleen is al klaar ongelooflik. Maar jy moet hom hóór! Sy gesprekke oor God en oor geloof klink heeltemal anders as die goed wat ons altyd in die sinagoge hoor. Dis nuut en vars en uitdagend.”

“Ek moet sê, die storie oor die storm is nogal uitdagend om te glo,” probeer ek hom terugbring by my eintlike vraag.

Simon knik entoesiasties. Dan kyk hy na my, sy oë op skrefies. “Sê my, ou broer, was jy al in ’n skuit in ’n storm?”

“Nee, nee,” lag ek. “Ek is ’n landrot.”

“Nou laat ek jou vertel, dis nie pret nie. En dáárdie storm – daar was iets woedends aan hom. So al asof die duiwel daaragter gesit het.” Sy oë kyk my reguit aan, en hy knik by homself. “Ek neem jou nie kwalik dat jy my nie glo nie, maar ek sê jou, ek kén die see, en hierdie keer was dit anders. Die wind het asof van nêrens opgekom, en voor ons ons kom kry, was ons diep in die moeilikheid. Die golwe was so hoog soos huise. Dit het oor ons skuit gebreek. Ons kon nie voorbly met die uitskep nie. Ek het net geweet dis klaar met ons. Daar was nie ’n manier waarop ons kon keer dat ons sink nie.”

“En julle rabbi?” wil ek weet. “Wat doen hy toe?”

“Hy het op die agterste bank gelê en slaap, dwarsdeur die storm en ons benoudheid en die branders wat oor ons spat.” Hy bly ’n oomblik stil, en daar kom ’n sagtheid om sy oë. “Hy was baie moeg, jy weet. Hy het die hele dag gepreek en met mense gewerk. Ek werk ook hard, en ek weet wat dit beteken om moeg te wees, maar moeg van werk met jou hande is een ding. Moeg van met ménse werk is iets heeltemal anders, Dis wat ek geleer het vandat ek by rabbi Jesus aangesluit het. Ons werk die hele dag met mense, en dit tap jou leeg. Nou praat ek nie eers van hoe dit rabbi Jesus moet tap nie. Want elke mens wat hy ontmoet, is vir hom spesiaal. As hy met jou praat, fokus hy só op jou dat dit vir jou voel jy is die enigste mens in sy lewe wat belangrik is. En dis hoe hy die hele dag aangegaan het. Die mense het hom só toegepak dat hy in my skuit geklim het, net om ’n bietjie spasie te kry sodat hy hulle kon leer. Kan jy dit glo? My skuit het sommer sy preekstoel geword!” Hy glimlag trots by die herinnering.

“En toe ook amper sy graf,” stuur ek terug na die storm.

“Dís nie altemit nie,” glimlag hy. “Ek het na hom gekyk waar hy lê en slaap, en toe na ’n reusegolf wat briesend op ons afstorm. Toe kon ek dit nie langer hou nie. Ek was bang ek gaan dood, en sommer kwaad ook dat rabbi Jesus niks doen om ons te help nie. Ek het hom aan sy skouers geskud en geskree: ‘Rabbi, ons gaan verdrink! Gee u nie vir ons om nie?’” Hy glimlag verleë. “Ek weet ek behoort nie so met hom te gepraat het nie, maar ek was so bang soos nog nooit.”

“Wat het jy verwag moes hy doen?”

“Ek weet nie,” erken Simon. “Ek was so paniekbevange dat ek nie eintlik gedink het nie. En ek was verontwaardig dat hy in die storm so rustig kon wees. Asof daar glad nie ’n noodsituasie was nie. Dít het my ontstel. Eintlik ons almal in die skuit. Ons spook en spartel, en hy lê en slaap asof hy die saligheid beërwe het.” Sy oë kry ’n veraf kyk. “Dit is hoe hy is, jy weet. Hy is altyd in beheer, altyd kalm en rustig. Daar is net iets aan hom, iets … goddelik, wil ek amper sê. Bo-menslik.” Sy oë soek myne. “Het jy hom al ontmoet? Want dan sal jy weet waarvan ek praat.”

“Nee, ongelukkig nie. Ek sal bly wees as jy my aan hom kan voorstel. Maar eers moet ons oor die storm praat. Wat het hy gedoen toe jy hom wakker skud?”

“Dit was ongelooflik! Hy het opgestaan, sy kop effens skeef gedraai asof hy kan hoor wat die wind sê, en toe bestraf hy die wind! Asof die wind hom kan hoor! Maar ek sê mos, dit was nie ’n gewone storm nie. Daarná het hy na die golwe gekyk en sy hand opgelig, kompleet soos ’n mens jou hand ophou om iemand te stop. Toe sê hy vir die golwe: ‘Hou op! Bedaar!’ Op daardie oomblik bedaar die storm en word die see glad en stil.”

“En toe?” vra ek, nou heeltemal ingetrek in dié vertelling.

“Toe kyk rabbi Jesus na ons en vra: ‘Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?’ Maar hy was glad nie kwaad nie. Daar was ’n vonkel in sy oë terwyl hy dit vra. Dis hoe hy is. Hy verstaan ons. Hy weet hoe ons is. Daar is nie nog iemand soos hy nie.”

Simon pluk-pluk aan die net in sy hand, en kyk nie op nie. “Jy weet, ek voel verskriklik skaam oor my verwyt toe ek rabbi Jesus wakker gemaak het. Ek het mos gevra of hy dan nie omgee dat ons vergaan nie. Dit was geheel en al onvanpas. Rabbi Jesus géé om. Ek sê jou, hy gee soveel om, hy sal sy lewe afgee as dit iemand kan help. Dis net hoe hy is.”

Naskrif
Simon hét my aan sy rabbi gaan voorstel. Wat ’n ongelooflike ervaring! Die liefde en deernis vir mense straal uit hom uit, en een kyk in sy helder deurdringende oë laat jou weet: hier is iemand op wie jy kan reken.

As jy ooit in ’n storm beland, is hy die een wat jy by jou wil hê, selfs al slaap hy die slaap van die regverdiges op ’n agterbank. Want wanneer die tyd reg is, sal hy help. Daaroor is daar by my geen twyfel nie.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.