Wat ’n wonder, Here Jesus, dat U leef,
dat die magte van die dood en die doderyk U nie kon oorweldig nie,
dat U opgestaan het,
die graf oopgebreek het,
nuwe lewe gebring het vir die wêreld, vir ons.
Dankie dat ons hoop kan hê,
met verwagting kan leef omdat U lewe.
Dankie dat die lewe in die kerk nie van óns afhang nie,
maar dat U dit waarborg.
Dankie vir die lewe wat daar ook in ons gemeente is,
vir die tekens van die nuwe lewe wat U in die kerk indra.
Maak ons ’n gemeente
wat U met blydskap en oorgawe volg op die pad van die lewe,
die pad wat uitloop op die hemelstad met die vaste fondamente,
waar mot en roes nie verniel nie en diewe nie inbreek en steel nie.
Amen.
Views: 581






