Absalom ruk met magtige leër op na Maganajim

MAGANAJIM. – ’n Stryd tot die bitter einde lyk onafwendbaar nadat dit bekend geword het dat prins Absalom die ganse Israel gemobiliseer het vir sy stryd teen sy pa. Hulle het gistermiddag die Jordaan begin oorsteek op pad na Maganajim, waar koning Dawid skuil.

Volgens ingeligte bronne het prins Absalom téén ’n vinnige agtervolgingsoperasie, soos deur sy adviseur Agitofel voorgestel, besluit. Hy het eerder gekies vir ’n volskaalse offensief, om só seker te maak dat hy nie net koning Dawid nie, maar ook sy ganse persoonlike lyfwag kan uitwis.

Intussen is die atmosfeer hier in Maganajim uiters gespanne in afwagting op die komende stryd. Koning Dawid het vanoggend reeds met sy drie generaals beraadslaag oor die gevegsplan. Hy sal na verwagting later vanmiddag die manskappe toespreek voordat hulle na hulle stellings vertrek. Daar is ook gerugte dat hy self sy troepe in die oorlog gaan aanvoer, maar dié berigte kon nie bevestig word nie.

 

’N VROU IS DIE HELDIN IN DAWID SE ONTSNAPPING

MAGANAJIM. – Was dit nie vir die koelkop-optrede van ’n vrou nie, kon sake heel anders vir koning Dawid en sy ondersteuners verloop het, het Jonatan seun van Abjatar en Agimaäs seun van Sadok gister hier vertel. Dié twee jong priesterskinders was die boodskappers wat koning Dawid kom waarsku het om onverwyld deur die Jordaan te trek om prins Absalom se gevegsmagte te ontwyk.

In ’n ekslusiewe onderhoud met Bybelkoerant het hulle vertel hoedat hulle so byna-byna deur Absalom se polisie gevang is terwyl hulle na koning Dawid probeer deurbreek het. ’n Jong seun het hulle gesien en hulle aan die polisie verklap. Hulle het toe by ’n inwoner van Bagurim gaan wegkruip (om begryplike redes kan ons nie sy naam bekend maak nie). Sy vrou het hulle in ’n put in die agterplaas laat klim, en toe ’n doek oor die put gespan en graan daaroor gegooi sodat niemand onraad kon merk nie.

Die twee is dit eens dat die vrou nie net hulle lewe nie, maar ook dié van die koning en sy geselskap gered het.

 

Bekende koninklike adviseur neem eie lewe

GILO. – Die staatsgreep van prins Absalom het gister sy eerste slagoffer geëis toe die voormalige koninklike adviseur, Agitofel die Giloniet, homself opgehang het.

Agitofel het gister hier aangekom en verskeie persoonlike sake hanteer voordat hy selfmoord gepleeg het. Sy geskokte vrou het gesê haar man was uiters depressief sedert hy sy pos as koninklike adviseur verloor het.

Benewens sy vrou laat hy ook twee seuns en ’n dogter agter. Hy is laat gistermiddag in die familiegraf hier in sy tuisdorp begrawe.

 

Absalom stel twee nuwelinge aan

JERUSALEM. – Prins Absalom het gister die eerste twee aanstellings in sy regering aangekondig. Hulle is Amasa seun van Jeter, wat die gesogte pos van hoof van die leër gekry het, en Gusai die Erekiet, wat hy aangestel het as sy persoonlike adviseur in die plek van Agitofel van Gilo.

 


Ora et labora. Bid én werk

Die verhaal word vertel van ’n jong dominee genaamd Klaus wat volledig onder God se leiding wou lewe. Daarom, so het hy besluit, gaan hy ook met sy preke vir God die kans gee om die woorde vir hom te gee. Hy het dus nie ’n preek gemaak nie, want hy wou nie vir God voorskryf wat gesê moes word nie. Toe hy die Sondag op die kansel klim en bid dat God nou vir hom in die preek moet lei, het die Heilige Gees net een sin vir hom gesê: “Klaus, jy was lui!”

Om jou lewe aan die Here oor te laat en op Hom te vertrou, beteken nie dat jy agteroor kan sit en niks doen nie. Dit moes die man met die een goue muntstuk in die gelykenis ook leer (Matt. 25:26).

Dawid het verstaan dat sy lewe in God se hand is, en dat God uiteindelik ook sou beskik oor sy toekoms. Dit het hom egter nie gekeer om alles wat menslik moontlik is, in die stryd te werp om sy lewe en sy toekoms te beveilig nie.

God se beskikking maak ons nie willose marionette wat maar net spring soos Hy die toutjies trek nie. Kom ons lewe dan vandag met verantwoordelikheid.

image_pdfimage_print

Views: 1

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.