Militêre verslaggewer
MAGANAJIM. – Koning Dawid se persoonlike troepe het gister hier prins Absalom se Israelitiese leër ’n verpletterende nederlaag toegedien. Maar in plaas van oorwinningsvreugde het daar ’n doodse swye oor die Dawid-kamp gehang omdat prins Absalom in die geveg gesneuwel het.
Die gevegte tussen koning Dawid se soldate en die Israelitiese leër het gisteroggend in die Efraimsbos uitgebreek. Die onervare Israelitiese troepe was nie opgewasse teen Dawid se krygers nie. Hulle weerstand het spoedig verkrummel. In hulle haas om te vlug, is talle in die onderbos vasgevang. Omtrent twintig duisend man het gesneuwel.
Ook prins Absalom is deur die bosse oorwin. Klaarblyklik het hy op sy muil gevlug. Die muil het onder ’n terebint deurgestorm, en die prins se kop het in die takke verstrengel geraak. Terwyl hy hulpeloos in die boom gehang het, het genl. Joab hom met drie spiese deur die hart gesteek, en só effektief die oorlog beëindig.
Na berig word, is die koning ontroosbaar sedert hy vanoggend die tyding gekry het dat sy seun dood is. Sy smartkrete: “My seun, Absalom, my seun, my seun, Absalom!” het die hele middag uit sy kamer opgeklink.
Hoewel daar begrip onder die soldate is vir die koning se smart, voel die manskappe tog gebelg omdat koning Dawid nie ’n enkele woord van dank of waardering vir hulle gehad het vir die klinkende oorwinning nie. “As ons nie so hard geveg het nie, was koning Dawid en sy hele familie vandag dood. Maar nou moet ons die stad insluip soos papbroeksoldate wat op die vlug geslaan het!” het een soldaat verontwaardig opgemerk. “Koning Dawid moet nou besluit of hy koning wil wees of nie,” het ’n ander een geëis.
’n Afvaardiging van bekommerde offisiere het laat vanoggend ’n afspraak met genl. Joab om te kyk of hulle iets kan doen om die soldate se gemoedere te kalmeer. Dit is selfs moontlik dat hulle die koning self sal gaan spreek.
- Lees hiervan in 2 Sam. 18:1–19:8.
DIE MENS WAS NOG ALTYD VERWAAND, SÊ GELEERDE
JERUSALEM. – ’n Bekende hoogleraar in die godgeleerdheid, prof. Teo Loog, het gister hier ’n heftige debat ontketen met sy bewering dat die mens sedert die vroegste tye “’n verwaande en verdorwe spesie” is.
Prof. Loog het dié omstrede uitlating gemaak op ’n konferensie van die bekende vereniging Anthropologists of Planet Earth, oftewel APE. Die vereniging, wat vanjaar sy honderdste bestaansjaar vier, se konferensietema is: “Die Mens – gister, vandag en môre.”
Die organiseerders wil met die konferensie ’n boodskap van hoop die wêreld instuur, omdat hulle glo dat die mens inherent goed is en daarom elke dag nader beweeg aan die ideaal van “vrede vir almal”.
Prof. Loog het in sy betoog gesê die vereniging maak ’n basiese denkfout as hulle glo dat die mens inherent goed is. “Die mens het van die vroegste tye af al ’n te groot kop gehad,” het hy gesê. Ter stawing van sy bewering het hy aangehaal uit bronne wat uit die voorhistoriese tyd van die mens se bestaan dateer. Tóé al het die mense geglo dat party van hulle halfgode is. “En dit lyk my daar is onder die geagte afgevaardigdes na die APE-konferensie hier ook mense wat nog steeds dié mening toegedaan is,” het hy sy betoog afgesluit.
Die verontwaardigde reaksie op prof. Loog se betoog was só hewig dat afgevaardigdes mekaar en prof. Loog te lyf wou gaan. Die organiseerders het die sessie voortydig beëindig om lede kans te gee “om af te koel”. Laat gistermiddag het die voorsitter, dr. Angelicus, bekend gemaak dat die organiseerders hulle distansieer van prof. Loog se uitlatings. Hy het namens APE al die afgevaardigdes om verskoning gevra vir die “uiters ongelukkige voorval”.
Prof. Loog se reaksie was kort en kragtig: “Dit illustreer my punt duideliker as wat ek dit self kon sê!”
- Jy kan een van prof. Loog se bronne nalees in Gen. 6:1-7.
Hubris
Die professor is natuurlik reg. Van Adam en Eva se tyd af al het die mens probleme daarmee om sy plek te ken. Daarom wou Adam en Eva “soos God wees” (Gen. 3:4). Daarom vertel die mense hulle kinders verbeelde verhale van die goeie ou dae toe hulle voorsate halfgode was.
Verwaandheid het Adam en Eva die Tuin van Eden gekos, en later het dit die aarde in die sondvloed gedompel. Nóg later het Absalom se grootheidswaan oneindig baie leed, en sy eie ondergang, gebring.
Daar is net een manier om hierdie oersonde te bestry: deur God toe te laat om sy vernuwende werk in ons lewe te doen. Die vrug van die Gees (Gal. 5:22) behels immers ook – nederigheid.