Jesus het ons in die Ons Vader-gebed (Matt. 6:9-13) geleer om onder andere te bid: “… laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.” Hy het dit self ook in sy diepste nood in Getsemane gebid. Wat beteken dit regtig wanneer jy hierdie woorde bid?

 

God se wil?

  •  ’n Lidmaat vra my op ’n dag om haar na haar huis te vergesel. Sy wou haar man verlaat maar was bang om alleen huis toe te gaan om haar tas te gaan pak. Sy het die vorige aand met net haar klere aan uit die huis gevlug en by vriende gaan skuil, want haar man was dronk en baie aggressief. Sy het nie meer kans gesien vir die huwelik nie, maar sou weer probeer as haar man inwillig om vir behandeling te gaan. Terwyl sy haar klere inpak, het ek met die man (wat toe nugter en baie berouvol was) gesels en hom probeer oortuig om vir behandeling te gaan. Toe die vrou met ’n tas in die hand uit die kamer kom, soebat hy haar om hom nie te verlaat nie, waarop sy haar ultimatum herhaal. Sy skouers het gesak, hy het gesug en gesê: “Nouja, as dit dan die Here se wil is dat ons moet skei, moet ons seker maar skei.”
  • Ek sit by ’n stukkende egpaar. Hulle het pas gehoor hulle kind het verongeluk. Terwyl ek daar is, kom ’n vriend aan, simpatiseer met hulle en sê toe: “Dit was die wil van die Here. Julle moet berus.”

Natuurlik wil ons graag hê die wil van die Here moet geskied, in ons eie lewens én in die wêreld. Maar hoe kan jy God se wil en ’n egskeiding, of die sinlose dood van ’n pragtige jongmens, by mekaar uitbring?

 

Bybelse prente van God se wil

  •  Job sit op die ashoop, stukkend en seer oor ’n reeks rampe wat hom van al sy kinders en sy besittings gestroop het; net ’n kyfende vrou bly vir hom oor, en hy probeer sin maak uit sy ellende. Dan daag sy drie vriende daar op om hom te troos. Dis God se wil, troos hulle, en buitendien ook God se straf oor sy sonde.
  • Die jongmeisie Maria van Nasaret ontvang besoek van ’n engel. Die boodskap wat die engel bring, is verbysterend. Sy gaan ’n baba hê, al is sy nie getroud nie. Die Gees van God sal die swangerskap in haar wek, en die Een aan wie sy geboorte gaan skenk, gaan die Seun van die Allerhoogste genoem word. Maria vra ’n paar vrae, en sê dan (Luk. 1:38, Die Boodskap): “Ek is in die Here se hand. Sy wil moet in my lewe geskied. Laat alles met my gebeur presies soos u gesê het.”
  • Jesus staan op sy knieë in Getsemane en worstel met sy Vader oor God se wil vir sy lewe, want God se wil loop oor Golgota, en Hy pleit dat die lydensbeker by Hom sal verbygaan. Ná ’n lang worsteling eggo sy gebed dié van sy ma Maria: “Nogtans nie my wil nie, maar u wil.”
  • Paulus worstel met God oor die doring in sy vlees (ons weet nie wat dit was nie). Drie maal bid hy dat God dié lyding van hom met wegneem, maar God doen dit nie. Die doring is deel van God se wil vir Paulus, om hom nederig te hou (2 Kor. 8:7-10).

Dis ’n interessante prent wat die Bybel vir ons oor God se wil teken. Dit wil vir ons sê dat jy nie ’n reguit lyn tussen God se wil en mense se pyn en seer kan trek nie (dis waaroor die boek Job gaan). Dit wil ook sê dat God se wil soms wél deur swaarkry loop (Jesus in Getsemane, Maria – onthou hoe Simeon voorspel het dat ’n swaard deur haar siel sal gaan? – en Paulus). Maar dié prente skets nie ’n beeld van gelatenheid en berusting soos ons dikwels hoor mense praat nie. Job weier om kitsantwoorde van sy vriende te aanvaar. Jesus worstel met sy Vader oor sy wil vir sy lewe. Paulus bid dat God die doring uit sy vlees sal wegneem.

God se wil mag nooit ’n goedkoop sousie van gelate aanvaarding wees wat ons oor alles gooi nie. Ons mag ook nie God se wil as verskoning gebruik vir die ellende wat ons oor onsself of ander bring nie. Buitendien is dit arrogant om voor te gee dat jy presies weet wat God wil en nie wil nie, veral as dit gaan oor persoonlike omstandighede. God en sy wil is eenvoudig meer as wat ons kan verstaan. Daarom sê Paulus in 1 Kor. 13:12, as hy oor God se wil dink, ons kyk in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld.

 

Wat vra jy as jy bid dat God se wil geskied?

Alles omtrent God se wil is natuurlik nie vir ons duister nie. Ons weet baie goed uit die Bybel dat God die wêreld so liefhet dat Hy sy Seun vir ons geoffer het (Joh. 3:16-17), en dat dit sy wil is dat die Seun alles vir almal sal wees (Kol. 1). Dit is sy wil dat mense na Hom toe moet draai en vir Hom sal leef, dat die werke van die bose op aarde verbreek sal word. Hy maak ons sy kinders om sy hande en voete in die wêreld te wees. Met die bede dat die wil van die Here sal geskied vra ons dat God juis hierdie dinge sal laat gebeur in die wêreld.

Maar met dié bede sê ons ook vir God dat ons deel van sy plan met die wêreld wil wees, dat ons wil meehelp dat sy wil op aarde sal gebeur. Dit is nie ’n armpies-gevou gebed nie, maar ’n hande-uitsteek gebed. Met dié gebed sê jy: “Here God, ek wil hê u wil moet op aarde gebeur, en ek wil u medewerker wees om dit te laat gebeur. Help my om dit vandag te doen.” Dis hierin dat Maria ’n pragtige voorbeeld van geloof stel. Sy het geweet daar wag ’n moeilike pad op haar; dat sy by Josef sou moes verbykom, dat die tonge sou klap omdat sy swanger is voordat sy getroud is, dat dit ’n uitdaging sou wees om God se Seun groot te maak. Haar antwoord op die engel se woord is nie ’n gelate sug nie. Ons hoor in haar antwoord ’n opgewondenheid om deel van God se plan te wees: “Ek begeer niks anders nie as dat God se wil in my lewe sal gebeur, kom wat wil!”

Maria het verstaan dat God se wil bokant haar eie kom. Nie God se wil én haar wil nie. ’n Gelowige wat bid dat God se wil sal geskied, gee beheer oor sy eie lewe prys en los dit in God se hande, in die wete dat Hy die beste weet.

 

Alles werk ten goede mee

Die voorbeelde van Maria en Jesus en Paulus (’n mens sou talle ander Bybelfigure hier kon byvoeg) wys vir ons dat as jy binne God se wil is, dit nie noodwendig beteken dat alles in jou lewe voor die wind gaan nie. God se wil vir ons gaan nie in die eerste plek oor ons persoonlike gesondheid en welvaart nie. Dit gaan oor ons deel wees van sy groot plan vir die wêreld. As jou plek in God se plan beteken dat jy moet swaarkry (soos Maria en Paulus), sal God jou die krag gee om dit te kan dra en jou daarin seën, soos Hy in 2 Kor. 12:9 vir Paulus geantwoord het: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Deur God se genade kán ons nie net God se wil leef nie, ons wil dit ook nie anders hê nie. Daarom kon Paulus met groot stelligheid in Rom. 8:28 verklaar: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet …”

Laat u wil geskied, Here!

image_pdfimage_print

Views: 724

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.