— koning gee eerste treë om geskeurde ryk te heel
JERUSALEM. – Die stad is sedert verlede week ’n miernes van bedrywigheid in afwagting op die terugkeer van koning Dawid. Die koning word vandag in die hoofstad terug verwag nadat hy vroeër vanjaar na Maganajim uitgewyk het met die staatsgreep van prins Absalom.
Die priesters Sadok en Abjatar het ’n groot verwelkomingsfees op die stadsplein gereël vir die geliefde koning. Na verwagting sal nie net die inwoners van Jerusalem en omstreke nie, maar ook lojale ondersteuners uit ander dele van die ryk die fees bywoon. Sedert verlede week het hulle in groot getalle by die hoofstad begin opdaag.
Die skare het van vroeg vanoggend reeds op die stadsplein begin saamdrom. Die heerlike geure uit die kosstalletjies en die opgewonde gemurmel van die skare vul die hele stad. Priester Sadok het ook te kenne gegee dat die Levitiese koor en orkes die hele week al oefen aan hulle bydrae tot die fees. Volgens hom gaan hulle ’n verskeidenheid van koning Dawid se eie psalms uitvoer.
Berigte uit Jerigo lui dat die koning en sy gevolg gister reeds die Jordaan oorgesteek het. Hy is daar deur verskeie prominente burgers terugverwelkom. Lojale ondersteuners soos Siba, die bestuurder van wyle koning Saul se huishouding, het hulle lojaliteit kom herbevestig, terwyl aanhangers van prins Absalom oor hulle voete geval het om die koning te verseker dat dit net ’n tydelike dwaling was. Prominent onder hierdie groep is Simeï seun van Gera, en prins Mefiboset, die kleinseun van Saul. In ’n grootmoedige gebaar het koning Dawid met al sy voormalige teenstanders vrede gemaak.
Koning Dawid se terugkeer volg op sensitiewe onderhandelings met die stamleiers van Israel, en beëindig weke van onsekerheid en spanning oor die toekoms van die koningskap, aangesien ’n groot deel van die ryk met die staatsgreep vir koning Dawid die rug toegekeer het. Die koning het met groot staatsmanskap daarin geslaag om die breuk te heel en voormalige vyande na hom toe oor te haal.
Diplomatieke waarnemers wys egter daarop dat die kloof wat die burgeroorlog geslaan het, nie oornag verdwyn nie. Dit is ’n brose vrede wat nou in Israel heers. Prins Absalom het gewys dat die koning baie vyande in die ryk het. In die huidige klimaat sou ’n ander heethoof maklik weer ’n opstand kon bewerk, het hulle gewaarsku.
Dit lyk asof koning Dawid in die volgende weke uiters versigtig sal moet optree om sy troon te bestendig.
- Lees van hierdie spanningsvolle tye in 2 Sam. 19:9–20:3.
GENL. AMASA STEEDS HOOF VAN LEËR
MAGANAJIM. – In ’n verrassende skuif het koning Dawid aangekondig dat hy genl. Amasa, hoof van Absalom se Israelitiese leër, as sy nuwe leërhoof behou.
Genl. Amasa het die Israelitiese magte aangevoer in die staatsgreep teen koning Dawid. Waarnemers bestempel dié aanstelling as ’n briljante skuif, aangesien die koning hiermee vrese vir ’n grootskaalse skoonmaakproses ná die opstand besweer het, veral onder die Juda-stam.
Genl. Joab seun van Seruja, die koning se voormalige leërhoof, is nou sy pos kwyt en sal voortaan slegs die hoof van die koning se persoonlike lyfwag wees.
- Lees hiervan in 2 Sam. 19:9-14.
Safenat-Paneag se vader ter ruste gelê
MAMRE (KANAÄN). – Die hoofminister van Egipte, Safenat-Paneag, en sy hele familie het gister hulle vader, Jakob seun van Isak, in hulle familiegraf, die Makpelagrot, begrawe.
Jakob het enkele jare gelede op versoek van sy seun Josef, beter bekend as Safenat-Paneag, uit Kanaän na Egipte verhuis. Dit was sy sterwenswens om in die familiegraf hier begrawe te word.
’n Vraagteken hang nou oor die toekoms van die familie. Dit is bekend dat die broers jare gelede vir Safenat-Paneag ernstig te na gekom het toe hulle hom as slaaf verkoop het. ’n Vriend van die familie sê die broers vrees dat die hoofminister nou, na hulle pa se dood, wraak kan neem.
- Lees dit in Gen. 49:29-33–50:21.
Vergifnis
Kan jy iemand vergewe as sy optrede jou oneindige leed berokken het?
Josef en Dawid het dit reggekry, omdat hulle verder as hulleself gekyk het, en God se hand in hulle lewe raak gesien het. Dit bely Josef teenoor sy broers (Gen. 50:20), en dit het Dawid ook al by voorbaat oor Simeï se gevloek gesê (2 Sam. 16:11,12). Daarom weier hy om Abisai te laat wraak neem (19:21-23).
God beskik, ondanks (en selfs deur) die leed wat ander ons aandoen. Bid vir die genade om dit raak te sien. Dan sal jy ook kan vergewe.
Views: 13